Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Bekenstelling van STEM MentHER-program by US
Outeur: Faculty of Science (media and communication)
Gepubliseer: 13/04/2023

​Die eerste kohort van STEM MentHER-leerders en hulle mentors is twee-twee bymekaargesit tydens 'n spesiale seremonie op Woendsdag 4 April 2023, by die Universiteit Stellenbosch (US).

Die STEM MentHER program is 'n inisiatief om vroulike graad 12 -leerders te lei tot, en voor te berei vir die STEM-studievelde: wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde. Suksesvolle kandidate word deur vroulike akademici en nagraadse studente gementor en hulle verkry toegang tot pasgemaakte programme ten einde sélf rolmodelle vir ander vroulike leerders in hulle omgewings te word.

Die STEM MentHER-program is die geesteskind van Dr Lungile Sithole en Dr Cerene Rathilal van die Universiteit van Johannesburg. Die program is nou ook by die Universiteit Stellenbosch uitgerol onder die leiding van Dr Ronalda Benjamin, 'n dosent in die Departement Wiskundige Wetenskappe, en word deur die Nasionale Instituut vir Teoretiese en Berekeningswetenskappe (NITheCS) ondersteun. Die nege leerders is gekies uit meer as 100 aansoekers van Kaapse skole.

Tydens die seremonie het Dr Benjamin die leerders aangemoedig om die interaksie met hulle mentors ten volle te benut: “Ek wens ek het toegang tot iemand van die universiteit gehad om my raad te gee toe ek op skool was," het sy gesê.

Prof. Francesco Petruccione, waarnemende direkteur van NITheCS, het gesê jong wetenskaplikes en ingenieurs het die geleentheid om die evolusie van Kunsmatige Intelligensie-gereedskap soos ChatGPT te vorm: “Kunsmatige Intelligensie is omvattend en sal alles vorm. Jy moet deel wees van die generasie wat die evolusie van hierdie stuk gereedskap help vorm gee. Dit is interessante tye vir diegene wat weet hoe om hierdie gereedskap te gebruik (en nie bang is daarvoor nie)".

In die slotrede het Prof. Ingrid Rewitzky, hoof van die Departement Wiskundige Wetenskappe by die US gesê studente moenie fokus op enkele momente van sukses of mislukking nie, maar eerder hulle loopbane visiualiseer as 'n voortdurende ontwikkelende reis, waar hulle aanpas by uitdagings langs die pad en leer uit mislukkings ten einde die vólgende keer beter voorbereid te wees: “Dit is 'n proses. Ons leer regdeur ons lewe. Doen dit wat na aan jou hart lê en gryp hierdie geleentheid aan," het sy afgesluit.

Die leerders en hulle mentors is:

Siphesihle Gama van Spine Road Hoërskool, sal gementor word deur Dr Kathleen Green, Agile Methodologies-konsultant; Raighaana Schroeder van Spine Road Hoërskool, sal gementor word deur Dr Shareefa Dalvi van die Universiteit Kaapstad; Rencha Hamman-Johnson van Hoërskool D.F. Malan, sal gementor word deur Dr Cara Haller van die Fakulteit Ingenieurswese by die US; Saskia Human van Hoërskool Parel Vallei, sal gementor word deur Dr Taskeen Ebrahim, Fakulteit Ingenieurswese by die US; Stephanie McCreath van Hoërskool Parel Vallei, sal gementor word deur Anneri Aspeling, MSc-student in Ingenieurswese, by die US; Imaan Samuels, Hoërskool Parel Vallei, sal gementor word deur Dr Retha Heymann van die Fakulteit Natuurwetenskappe by die US; Neo Ndlovu van  Wynberg Girls' High School, sal gementor word deur Prof. Karin Howell van die Fakulteit Natuurwetenskappe by die US; Kouthar Saliem van  Wynberg Girls' High School sal gementor word deur Me Jacobie Mouton, rekenaarwetenskaplike, en Catherine Wills van Wynberg Girls' High School, sal gementor word deur Dr Ronalda Benjamin.