Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Opvolgskrywe oor US se Toelatingsbeleid en Rektor se diskresionêre plasings - US Raad sal volgende stappe oorweeg
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 08/04/2023

​Skrywe aan US-personeel (6 April 2023):

Verlede Vrydag (31 March 2023) in ’n skrywe is personeel ingelig oor die Rektor wat ingevolge die Universiteit Stellenbosch (US) se Toelatingsbeleid sy diskresie gebruik het. Hierdie is ’n opvolgskrywe. Die Rektor het die Uitvoerende Komitee van die Raad (UKR) se aandag daarop gevestig dat hy ook ingevolge dieselfde beleid en die riglyne vir diskresionêre plasings sy diskresie gebruik het om ’n ander familielid in ’n program by die US te plaas.
 
Die US volg ’n duidelik-gedefinieerde toelatingsbeleid en het sedert 2018 riglyne in werking gestel om die Rektor se diskresionêre plasings te lei. Die benadering tot diskresionêre plasings word tans hersien om enige moontlike tekortkominge aan te spreek.
 
Die Rektor het aangedui dat hoewel hy te goeder trou en in ooreenstemming met die huidige riglyne opgetree het, hy spyt is oor die beroering wat die gepubliseerde voorval veroorsaak het.
 
Hierdie aangeleentheid sal op die agenda van die komende Raadsvergadering verskyn wat op Maandag 17 April 2023 gehou word. Die ontleding van die Rektor se diskresionêre plasings sal onder ferm leiding van die UKR plaasvind en sal deeglik bespreek word by die Raadsvergadering sodat die Raad op ’n aangewese pad vorentoe kan ooreenkom.
 
Die US is as ’n hoëronderwysinrigting van wêreldgehalte ’n nasionale bate met ’n globale reikwydte. Die Universiteit se studente en personeel is van die beste wat daar in en vir Suid-Afrika te vinde is. Die akademiese integriteit van ons instelling, die gehalte van ons kwalifikasies en navorsing, en die handhawing van praktiese en behoorlike administratiewe oorsigbestuur is van die uiterste belang vir die US. Ons verwelkom die geleentheid vir noukeurige ondersoek en besinning ten einde die hoë standaarde te handhaaf waarvoor ons bekend is en om gebiede aan te spreek waar daar ruimte vir moontlike verbetering is.