Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Voorste Ekonoom, Lig Dringende Kwessies in Landbou en Landelike Ontwikkeling uit by Jaarlikse Mohammad Karaan Gedenklesing
Outeur: Bongiwe Mhlongo
Gepubliseer: 04/04/2023

​By die tweede jaarlikse Mohammad Karaan Gedenklesing, deel dr Uma Lele, internasionaal-erkende ekonoom en kenner op die gebied van landelike ontwikkeling en globale voedselsekerheid, die globale perspektief op die uitdagings in landbou en landelike ontwikkeling wat deur Afrika suid van die Sahara getrotseer moet word. Die jaarlikse lesing word ter ere van die ontslape dekaan van die Fakulteit AgriWetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US), professor Karaan, aangebied.

Dr Lele se aanbieding roer verskeie dringende kwessies aan wat met globale voedselsekerheid en die uitdagings met die bereiking van die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte verband hou. Sy lig veral die verwoestende impak van die voortgesette konflik tussen Rusland en die Oekraïene uit, wat tot die grootste humanitêre ramp in die onlangse geskiedenis, die migrasie van miljoene mense en ʼn groot styging in voedsel- en kommoditeitspryse gelei het. Die konflik het ook die aandag en hulpbronne weggelei van pogings om armoede en hongersnood in Afrika suid van die Sahara en Suid-Asië te beëindig.

Sy noem dat die huidige globale voedsel- en voedingsuitdaging veel meer ingewikkeld en moeilik oplosbaar is as wat in 2015 voorsien is en dat die bereiking van die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte in die normale verloop van sake onwaarskynlik is .

Die Covid-19-pandemie het bestaande uitdagings vererger, veral in kwesbare streke soos Afrika suid van die Sahara en Suid-Asië, waar die vordering met wegbeweeg van landbou reeds traag was. Die pandemie het ook gelei tot ʼn vinnige dieetoorgang, met ʼn beduidende toename in die verbruik van goedkoop, ongesonde kosse, wat bydra tot die styging in vetsug en nie-oordraagbare siektes.

Sy identifiseer ook politieke onstabiliteit as ʼn beduidende bydraer tot voedselonsekerheid en armoede in Afrika. Onstabiliteit lei dikwels tot konflik, ontheemding en die ontwrigting van markte en landbou-werksaamhede, wat voedselpryse laat styg en dit moeilik maak vir boere om toegang tot insette en markte te verkry. Die politieke onstabiliteit in Afrika sal dus eers opgelos moet word, om voedsel- en voedingsekerheid te bereik en armoede op die vasteland te verminder.

"Om die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte te bereik, moet ons die kwessie van wanvoeding op omvattende wyse aanpak, deur die vraag en aanbod vir voedsame kos te hanteer. Dit sal beduidende belegging in produksie en handel benodig, om ʼn bestendige toevoer van bekostigbare, gesonde voedsel te verseker. Dit is net so belangrik om op die skep van werksgeleenthede en die verhoging van inkomste vir die armes, die opvoeding van verbruikers oor gesonde voedselkeuses, en die ontwikkeling van laekostewaardekettings te fokus. Ons moet in fisiese infrastruktuur belê om die effektiewe vraag na voedsame kos te verhoog. Ons moet egter ook voedselveiligheidsregulasies in ag neem en verseker dat ons pogings om toegang tot voedsame kos te verbeter, nie die gesondheid van verbruikers in gevaar stel nie," sê dr Lele.

Sy beklemtoon ook die belangrikheid van strukturele transformasie, wat ʼn afname in die landbou se aandeel aan die bruto binnelandse produk (BBP) en werksgeleenthede, totale produktiwiteitsgroei, demokratiese oorgang en algehele inkomstegroei behels. Armoede is veral in landelike gebiede gekonsentreer, wat die behoefte aan strukturele transformasiepogings om die ontwikkeling van landelike ekonomieë en gemeenskappe te prioritiseer, uitlig. Belegging in die landbou en produktiwiteitsgroei is nodig om volhoubare ekonomiese ontwikkeling te ondersteun en om die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte te bereik.

Oor die algemeen onderstreep die aanbieding die dringende behoefte aan omvattende optrede om die komplekse en onderling verwante uitdagings waardeur globale voedselsekerheid en die bereiking van die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte gekonfronteer word, aan te pak. Politieke onstabiliteit, aardverwarming, die impak van Covid-19 en die uitdagings van vraag en aanbod van voedsame kos en strukturele transformasie vereis onmiddellik aandag en vereis ook dat daar meer in die landbou, onderwys en gesondheid belê moet word om ʼn sterk ekonomie op te bou.

“Rakende die probleme in plaaslike ontwikkeling wat wêreldwyd deur regerings en boere ervaar word, is dr Lele se insigte, onuitgesproke kennis en wysheid van onskatbare waarde. Sy voorsien werkbare antwoorde op hierdie probleme, wat in die praktyk toegepas kan word. Instellings, regerings en die privaat sektor moet die implementering van hierdie oplossings ernstig oorweeg. Ons verontagsaam haar advies met groot risiko," voeg prof Jooste, hoof van Landbou-ekonomie aan die US, by.