Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ma en dogter ontvang saam hulle LLM-graad
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking (Anél Lewis)
Gepubliseer: 31/03/2023

Die reg is deel van die Botha-gesin se DNS. Ma en dogter Anya-Larissa en Vanya Botha het nie net albei vandeesweek hulle LLM-graad by die Universiteit Stellenbosch (US) se Maart-gradeweek ontvang nie, maar een van hul voorvaders was 200 jaar gelede ook by die regsberoep betrokke.  

Vanya (55) is ʼn landdros in Kaapstad. Sy wou nog altyd haar LLM doen, maar “die lewe het net gebeur”. Die tyd was net nooit reg nie, totdat haar oudste dogter, Anya-Larissa (25), vir haar LLM ingeskryf het en gesê het dit is moontlik om tegelyk te werk én die kursus te doen.  

Werkende studente voltooi gewoonlik die kursus oor twee of drie jaar, maar Vanya het besluit om dit binne ʼn jaar saam met haar dogter te doen. Dit was woes en ek was soms spyt oor my besluit, maar ek het gelukkig die steun van my liefhebbende gesin gehad en kon dit deursien.” Sy voeg by dat haar man die kookpligte gedurende die jaar oorgeneem het, sodat hulle almal hul studie kon voltooi.  


Anya-Larissa het aanvanklik ʼn BA-graad in drama en teaterstudies voltooi, maar die familie se liefde vir die reg het die oorhand gekry en sy het besluit om van rigting te verander na ʼn LLM met ʼn fokus op kinderregte. Ek het nog altyd in die regte belang gestel omdat ek in ʼn huishouding grootgeword het waar my ma so lank as wat ek kan onthou, ʼn landdros was.”  


Sy het gedurende haar LLM-studie die geleentheid gehad om ses maande lank in Utrecht in Nederland te studeer. Dit was betekenisvol omdat haar agter-agter-agter- oupagrootjie in 1819 sy LLM aan dieselfde universiteit behaal het.  


Nadat sy ʼn paar LLB-vakke saam met haar jonger suster, Doné, tydens dié se tweede jaar van ʼn B-graad in rekeningkunde en regsgeleerdheid (BRekLLB) gedoen het, het Anya-Larissa geweet hoe lonend dit kan wees om saam met ʼn lid van die gesin te studeer.  


Ek was baie opgewonde toe my ma besluit het om haar LLM saam met my te doen. Ons was nog altyd na aan mekaar. Ons sê altyd vir mense ons is nie net ma en dogter nie, maar ook beste vriende.” Die twee het hul klaswerk gedurende hul aandstappies bespreek en hul regspraak- en vaktydskrifartikels saam opgesom.  


Vanya sê Anya-Larissa se steun was van onskatbare waarde toe sy by die tegniese aspekte van studeer moes aanpas. “Ek moes vir die eerste keer in my lewe aanlyn eksamen skryf en moes boonop my antwoorde tik.”  


Ma en dogter het nie net klasse en hul aantekeninge gedeel nie, maar een van Vanya se vorige dosente, prof Sonia Human, het hul klasse aangebied. Dit was wonderlik om in die Ou Hoofgebou te sit waar ek 30 jaar gelede ʼn jong student met sterre in my oë was, maar hierdie keer saam met my dogter. 


Dis te verstane dat die twee trots is op mekaar se prestasies. Anya-Larissa, wat haar LLM-graad cum laude verwerf het, sê haar ma het nog altyd haar en haar suster se drome ondersteun. Doné het haar BRekLLB (cum laude) verlede jaar verwerf. Dit beteken baie dat ek saam met my ma kon graad vang. Sy het nog altyd daarvan gedroom om haar LLM te voltooi en dis wonderlik om te weet ek kon dalk vir ʼn verandering ʼn rol speel om haar te help om haar droom te verwesenlik.”   


Anya-Larissa het vanjaar haar doktorsgraad in die regte aan die US begin.  

Ma en dogter voeg albei by dat manlief en pa Marius ook krediet moet kry omdat hy die huishouding knap behartig het terwyl hulle gestudeer het. “My man het ʼn jaar lank gekook en ek moet erken dat hy ʼn veel beter kok as ek is,” het Vanya gesê.  


“Ons gesin was geweldig opgewonde oor ons gradeplegtigheid op 31 Maart en is baie trots op ons. Hulle is die enigste mense wat weet hoeveel ure en harde werk ons grade geverg het en hulle kon dus nie wag om dit saam met ons te vier nie.”  


Fotograaf: Stefan Els