Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Giséle Lavita (25) oorkom teëspoed om een van US se jongste LLD-graduandi te word
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking (Anél Lewis)
Gepubliseer: 31/03/2023

Giséle Chloé Lavita laat nie toe dat omstandighede in haar pad staan nie. Sy het vandeesweek op die tenger ouderdom van 25 jaar met ’n doktorsgraad in die regte (LLD) van die Universiteit Stellenbosch (US) gegradueer – een van die jongste mense tot nog toe wat dít kon regkry.  

Wat hierdie prestasie nog merkwaardiger maak, is dat haar graad gegrond is op navorsing wat sy vir haar meestersgraad in 2020 gedoen het. Haar navorsingswerk, wat op die regulering van Airbnb gefokus het, was van so 'n uitstaande gehalte dat eksterne beoordelaars 'n opgradering na 'n LLD voorgestel het. Sy het toe haar studie op 'n doktorale vlak voltooi.

Lavita het elke geleentheid op haar pad aangegryp. Sy is deur haar enkelma op die Kaapse Vlakte grootgemaak en het ses onderskeidings in matriek behaal ondanks die feit dat hulle weens finansiële beperkings moes trek en sy van skool moes verander. Toe die US haar 'n beurs aanbied, het sy dit aanvaar as “'n geleentheid om as 'n individu te ontwikkel en uit my gemaksone te kom".  

Danksy finansiering deur die Universiteit en eksterne donateurs kon Lavita haar studies voortsit. In haar finale LLB-jaar het sy as 'n navorsingsassistent by die Suid-Afrikaanse Leerstoel in Eiendomsreg gewerk en het sy 'n studiebeurs ontvang om haar meestersgraad onder toesig van prof Zsa-Zsa Boggenpoel te voltooi.  

Maar weens haar gesin se finansiële situasie moes Lavita haar inkomste verder aanvul terwyl sy heeltyds gestudeer het en het sy ook as ʼn tutor en kelner gewerk. “Ek was onder geweldige druk, maar dit was op die lange duur voordelig omdat ek buitengewone tydbestuursvaardighede ontwikkel het. Ek dink dit is wat my in staat gestel het om my LLD gedurende Covid-19 te voltooi."

Prof Juanita Pienaar, waarnemende Dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid, sê twee woorde kom by haar op wanneer sy aan Lavita dink: toewyding en vasberadenheid. “Sy is geweldig gefokus, toegewyd aan haar studies en vasbeslote om 'n positiewe impak op die gemeenskap te hê. Sy het haar nooit deur hindernisse of uitdagings laat afskrik nie; dit lyk trouens of dit haar aangespoor het. Ons is baie trots op Giséle, die mens wat sy is en wat sy bereik het."

Lavita beskryf haar jare by die US as 'n tydperk van aansienlike persoonlike ontwikkeling. Haar studie het haar in staat gestel om met mense van regoor die wêreld te meng en selfs haar Afrikaans te verbeter. “Ek het lewenslange vriende gemaak wat my uitkyk verbreed het, my in my Christelike geloof versterk het, my aan ander kulture blootgestel het en my vir nuwe, opwindende ervarings ontvanklik gemaak het."

Lavita het Duitsland as deel van haar studies besoek om 'n gevallestudie oor die regulering van Airbnb in Berlyn te doen. Dié ervaring het 'n liefde vir tale by haar laat ontstaan en sy is nou vertroud met Duits en het ook Spaans begin leer.

Gedurig gedagtig aan haar eie hindernisse, is Lavita betrokke by die Beautiful Life Opleidings- en Gemeenskapsontwikkelingsvereniging, 'n liefdadigheidsorganisasie op die Kaapse Vlakte wat honger gesinne voed, kinders skool toe stuur en werklose ouers help werk vind. Sy was tydens haar voorgraadse studies ook 'n mentor en studieleier vir ander studente.  

“My ervaring as 'n regsstudent het my werklik nederig laat voel. Noudat ek my LLD verwerf het, sal ek graag die akademie wil betree. Ongeag van die volgende stap in my lewe, is ek seker my vasberade ingesteldheid en vermoë om ondanks teëspoed deur te druk, sal verseker dat ek ʼn positiewe impak op almal rondom my het, waar dit ook al gaan wees."

Fotograaf: Stefan Els