Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Noodgeneeskunde-spesialis ʼn steunpilaar in tye van Covid én kanker
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Engela Duvenage
Gepubliseer: 30/03/2023

Kleintyd het prof Heike Geduld, hoof van die Afdeling Noodgeneeskunde van die Universiteit Stellenbosch (US), van drama weggeskram en emosioneel-gelade situasies so gou moontlik weer “stiller" probeer maak. En aan't speel met ʼn rooi koki het haar poppe gereeld “waterpokkies" gekry, want van kleinsaf wou sy ʼn dokter wees.

Sy't as derdejaar mediese student besluit om in noodgeneeskunde te spesialiseer toe sy haar bitter siek ouma na die GF Jooste-hospitaal in Manenberg geneem het. Die kalm professionaliteit van noodpersoneel midde-in die chaos van ʼn naweeksaand in ʼn Kaapse Vlakte-hospitaal het haar soos ʼn donderslag getref.

Sedertdien is die wêreld net ʼn bietjie kalmer met Geduld in die omtes.

In 2008 was sy onder die eerste groep spesialiste wat in Afrika ʼn MMed-graad in spesialis- noodgeneeskunde ontvang het. Sedertdien was sy al President van beide die Kollege van Noodgeneeskunde van Suid-Afrika en die Afrika-federasie vir Noodgeneeskunde, en kon sy sodoende diep spore op die vasteland trap. Sy adviseer die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) oor kwessies wat met haar spesialisveld verband hou, en sy het al handboeke en heelwat navorsingsartikels help skryf. 

Deesdae is sy nie meer eerstehands by pasiënte betrokke nie. Tóg bly dit vir haar ʼn voorreg om op ʼn vliegtuig, op pad werk toe of selfs by ʼn troue te help waar nodig.

“Noodgevalle gebeur. Somtyds kan ek min doen, maar ek weet hoe om stabiliteit aan ʼn chaotiese situasie te bring. As almal kalm is, dan weet ons dis oukei. Ons is hier, ons gaan ʼn plan maak.

“Al sê ek net ek weet dis erg. Maar dat ek daar is vir die persoon. Wanneer die ergste moontlike dinge met mense gebeur, wil hulle dikwels net iemand hê wat beheer neem en die situasie ontlont, de-eskaleer."

Sedert sy in 2019 Afdelingshoof geword het, is gelyke toegang tot nooddienste en spesialissorg, ook vir diegene op die platteland, hoog op Geduld se agenda.

“Iemand wat ʼn hartaanval op die platteland kry moet dieselfde vlak van sorg kan kry as ʼn pasiënt wat net buite die Tygerberg-hospitaal bly," glo sy. “Ons het meer ambulanse nodig. En meer spesialiste op die platteland. In die kultuur van die mediese wêreld word nog verwag dat alles in sentrale stadshospitale moet gebeur."

Covid slaan toe

Haar vermoë om kalmte te bring is terdeë getoets tydens die eerste maande van die Covid-19-pandemie, terwyl plaaslike gesondheidsorg- en verwante dienste voorbereidings moes begin tref gegrond op wat hulle oorsee sien gebeur het.

“Ek was nog besig om my voete as akademiese hoof te vind.  Ek het gedog ek is 'tough', maar toe kom Covid."

Geduld het beleid help opstel oor die hantering van kritiese pasiënte, asook hoe die werksvloei daarom tussen verskillende spesialisvelde soos kritiese sorg en noodgeneeskunde sou lyk. Sy was heeltyd ʼn oproep ver om ambulanspersoneel van die Wes-Kaap se Nooddienste te help besluit watter noodgevalle prioriteit moes geniet. Sy was ook nou betrokke by die beplanning, oprigting en funksionering van die Hospitaal van Hoop vir Covid-19-pasiënte, in ʼn reuse industriële ruimte by Brackengate.

“Ons het baie geleer, baie foute gemaak. Dit was ʼn groot toets vir ons as mense, maar ook vir die stelsel, en om te sien waar ons breek en waar ons sterk punte is.

“Ek was trots op hoe mense uit hul gemaksones beweeg het om die situasie as groter as een mens te hanteer. Die sisteem werk deur verhoudinge. Mense het saamgewerk. Ons het ʼn duidelike visie gehad en dinge reggekry. Mense het nie grense gehad nie. Daar was vertroue in mekaar.

“Ons moet dit onthou noudat ons weer terug na 'normaal' gaan. Ek mis soms die kameraderie."

Kanker slaan toe

Geduld erken dat sy te midde van 25-uur dae nie na haarself gekyk het nie. Daar was nie tyd daarvoor nie.

En toe gebeur haar eie krisis. Sy is kort voor Kersfees 2020, tussen Covid-golwe, met kanker gediagnoseer.

Vandag kan sy lag oor hoe sy ʼn borsbiopsie ingepas het in die middel van ʼn vergadering oor intensiewesorg-beddens. En hoe traak-my-nie-agtig sy daaroor was. 

Een dag het sy nog geselsend saam met kollegas hysbak gery. Die volgende dag het hulle haar skaars raakgesien toe sy as pasiënt in ʼn rolstoel in daardie einste hysbak ingestoot is.

Op helder dae tussen chemoterapiesessies het sy probeer werk aan Covid-verwante riglyne vir die WGO. Ander dae kon sy net sit. Sy kon nie tel nie. Haar geheue was vrot. Weens neuropatie het haar hande en voete drie maande lank gepyn. Haar hare het gekrul.

Alles was tipiese chemo-gevolge. Die verskil was dat dit met haar gebeur het. Die Dokter.

Geduld het einde 2021 teruggekeer werk toe. Lysies en notas maak bly deel van haar doen en late. Vir ingeval.

Sy is ewig dankbaar vir haar vriende, familie, kollegas en sogenaamde Chemo Buddies (die mense saam met wie sy chemoterapiebehandeling ontvang het) met wie sy die pad kon stap.

“My identiteit is nie meer net dié van dokter nie, maar van mens in die wêreld. Ek verstaan pasiënte se ervaring van gesondheidsdienste beter. Ek's meer in voeling met hoe om die stelsel te hanteer."

Sy't sedertdien informeel al dikwels kalmte gebied aan talle kankerlyers en hul families deur hul diagnose en behandeling vir hulle te help “vertaal" – omdat sy nou albei wêrelde intiem verstaan.

“Mense sê altyd mens moet gaaf wees, maar nie hoe nie. Ek't ʼn plekkie gevind in die wêreld van chemo-sirkels waar ek operasioneel gaaf kan wees. Iets kan doen.

“Soms bel ek net iemand wat pyn het. En ons praat daaroor, dat dit oukei is om so te voel. En wat om daaraan te doen. Soms voel dit of ek in daardie 20 minute meer gedoen het as in my hele dag se werk van stelsels uitsorteer."

 

Meer oor prof Geduld

  • 1998: Kwalifiseer as dokter aan die Universiteit van Kaapstad (UK)
  • 2003: Verwerf ʼn diploma in primêre noodsorg van die Kollege van Geneeskunde van Suid-Afrika
  • 2008: Ontvang ʼn MMed in spesialis-noodgeneeskunde via Emergency Medicine Cape Town (EMCT), destyds ʼn gedeelde opleidingsprogram tussen die UK en die US
  • 2009: Hoof van onderrig en opleiding by EMCT
  • 2016: Ontvang die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging se Humanitêre Toekenning
  • 2018: Ingelyf in die Orde van die Genootskap van die Internasionale Federasie vir Noodgeneeskunde
  • 2019: Aangestel as medeprofessor in en Hoof van die US se Afdeling Noodgeneeskunde


Foto-onderskrif: Prof Heike Geduld

Foto-erkenning: Damien Schumann