Die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit AgriWetenskappe en die Southern Africa Food Lab het onlangs 'n African Food Dialogue paneelbespreking aangebied. Die tema van die gesprek was om maniere te vind om diere en plante by die voedselsisteem in te sluit, terwyl bewaring steeds ondersteun word.
Die gesprek is gelei deur lede van die African Wildlife Economy Institute (AWEI), 'n instituut wat deel is van die Departement Veekundige Wetenskappe by US. Prof Kennedy Dzama, Uitgelese Professor in Veekunde en Adjunkdekaan vir Navorsing, Nagraadse Studie en Innovasie in die Fakulteit AgriWetenskappe het die interessante vrae uit die gehoor daarna gefasiliteer.
"By AWEI het ons die visie van Afrika wat oorleef en floreer deur die volhoubare gebruik van haar natuur. Ons visie is verder landskappe wat oorleef en floreer en bewaar word; wat gebruik word om inklusiewe ekonomiese geleenthede en sosiale welstand te skep, met respek vir die mense wat daar woon terwyl hulle ook ondersteun word," het me Deborah Vorhies, tussentydse bedryfshoof vir AWEI is, gesê.
Prof Francis Vorhies, direkteur van AWEI en ook 'n uitgelese professor aan die Departement Veekundige Wetenskappe by US, het die gebruik van wilde spesies om gebiede te bewaar, bespreek, terwyl dr Wiseman Ndlovu, 'n na-doktorale genoot by AWEI, uitgebrei het oor die beskikbare markte vir volhoubare wilde diere. Me Vorhies, wat ook dien as uitvoerende hoof van FairWild, 'n standaarde en sertifiseringsprogram vir wilde plantprodukte, het bespreek hoe 'n mark vir verwante produkte geskep kan word deurdat daar gesertifiseer word dat die produkte volhoubaar geoes is.
Prof Vorhies meen dit is nie genoeg om net wild binne beskermde gebiede aan te hou en hul bewaring te finansier deur sogenaamde "fototoerisme", wildbesigtiging en in 'n mindere mate deur jagtoerisme nie. Sulke benaderings skep nie 'n inklusiewe ekonomie wat gegrond is op die gebruik van wild vir lewensbestaan nie.
"Daar is meer daaraan as om net lángs die natuur te leef. Ons moet ook leer om sáám met die natuur te leef. Die gebruik van wild as hulpbronne vir voedsel tot voordeel van mense is 'n prioriteit, 'n geleentheid en 'n werklikheid," aldus prof Vorhies.
Prof Vorhies, wat ook 'n vooraanstaande akademikus met internasionale ervaring in bewaringsekonomie en finansies is, het internasionale beleide en besprekings uitgelig wat leiding gee aan wild as voedselsektor in Afrika. Hy het verduidelik hoe daar by die 2022-Konvensie oor Biologiese Diversiteit in Montreal, “'n nuwe globale biodiversiteitsraamwerk" van stapel gestuur is met 'n verbintenis tot die "volhoubare gebruik van wilde spesies" binne die konteks van handel regoor Afrika én wêreldwyd. Dit sluit aan by programme oor die volhoubare natuurlewebestuur en bio-handel onder die Wereld-voedsel-en-landbouorganisasie (FAO in Engels) en (VN) se Konferensie oor Handel en Ontwikkeling. Hy het ook aangedui hoe die uitkomste van Montreal-gesprekke die beleid oor die bewaring en volhoubare gebruik van die natuur tot voordeel van menslike gebruik bevestig het.
"Daar was 'n sterk onderskrywing van die gebruik van wild uit die natuur (plante en diere) en die skepping van natuur-gebaseerde besighede vir lewensbestaan én vir voedsel. Eksplisiete melding is gemaak van voedselsekerheid en hoe die plante en diere wat uit die natuur geneem word vir voedseldoeleindes gebruik kan word om klimaatsimpak en ander omgewingskwessies te versag."
"Dit is belangrik, want baie mense in die bewaringsektor van die wildekonomie waar ek vandaan kom, dink dikwels dat die enigste manier om die natuur te red is om dit teen mense te beskerm, bv. deur meer beskermde gebiede te skep," het prof Vorhies uitgebrei.
Prof Vorhies glo dat die wildsektor baie kan leer uit die visbedryf, wat groot ekonomiese rolspelers én lede van die publiek toelaat om vis te vang, inaggenome kwotas wat toegepas word. "Vissvang is inderdaad 'n vorm van hoe wild (kos) uit die natuur geoes word," was sy opmerking.
Hy het voorts gesê dat miljoene Amerikaners en Kanadese in Noord-Amerika enigiets van wilde sampioene en bessies tot wilde diere uit die natuur “oes" en dat dit is 'n groot bron van voedsel in hierdie lande is.
Verder is dit nodig om die voedselgeleenthede uit die natuur in landbougebiede van nader te bekyk, want "nie elke hektaar op 'n plaas kan geboer word nie". Voedsel kan dus ook van die natuurgebiede op plase verkry word.
"Dit kan selfs uitgebrei word deur die versameling van wild as voedsel ook in beskermde gebiede op te skaal," glo hy. “In sommige gebiede kan "boer" met wild eerder as met beeste vir voedseldoeleindes selfs beter wees vir ekosisteme."
In sommige beskermde gebiede vind 'n mate van vleisproduksie reeds plaas. In die Krugerwildtuin, byvoorbeeld, word buffelsvlies by slagpale in Skukuza verwerk en die verwerking van letswe (of die basterwaterbok) word in Malawi oorweeg.
Sulke pogings sal beskermde gebiede in staat stel om die VN se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte te bereik om kwessies soos armoede en voedselonsekerheid die hoof te bied. Parke kan dus bestuur word om voedselsekerheid sowel as toerisme te bevorder.
Me Vorhies het in haar bespreking hierby aangesluit en gesê dat die aarde onder druk is omdat 8 miljard mense moet oorleef en floreer. “ Maar die natuur moet óók oorleef en óók floreer, anders sal daar niks oor wees nie," het sy bygevoeg.
Sy het verduidelik hoe die gebruik van vrywillige standaarde en sertifisering, wat verbruikers die versekering gee oor waar hulle produkte vandaan kom, waardevolle hulpmiddels in die wildekonomie is. Dit kan byvoorbeeld verseker dat die produkte volhoubaar geoes is, dat dit bygedra het tot die welstand van die landskap, en dat diegene wat die produkte oes, gerespekteer word en behoorlik vergoed is daarvoor. Sy meen dat ons dit nooit as vanselfsprekend kan aanvaar dat al hierdie goeie planne sommer net sal gebeur nie; ons moet meganismes en maniere vind om te verseker dat dit sal gebeur.
“Sulke vrywillige standaarde en private sertifiseringstandaarde help om die verbruiker te bemagtig om goeie besluite te neem, en om kontak te maak met belanghebbendes wat deel is van die (voedsel)ketting."
Volgens dr Ndlovu is die volhoubare gebruik van wild die sleutel om te verseker dat wilde diere nie uitsterf nie.
'n Ontleding van die betrokke waardeketting, soos dié van vars produkte, is belangrik om seker te maak dat daar 'n volhoubare mark vir 'n produk beskikbaar is.
“Dit gaan oor totale gehaltebestuur deur die totale volhoubaarheid en bestuur van verwante diere of diereprodukte."
"Die meeste navorsers fokus hoofsaaklik op die aspek van beskerming en die bewaring van diere. By AWEI kyk ons holisties en sistemies na dinge om te sien hoe ons volhoubaarheid binne die wildekonomie en deur die hele waardeketting kan behou."