Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gehoorverlies stuit nie dié Matie se passie om ander te help
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 28/03/2023

'n Ernstige gehoorgestremdheid het Elana Solomon aangespoor om haar persoonlike ondervinding vir akademiese navorsing te gebruik waarby gestremde kinders en hulle onderwysers kan baat vind. Toe Solomon Dinsdag (28 Maart) haar meestersgraad in Menslike Rehabilitasiestudies by die Universiteit Stellenbosch (US) se Maart-gradeplegtighede ontvang het, was dit die hoogtepunt van 'n merkwaardige reis – 'n reis wat bewys lewer van haar deursettingsvermoë en passie om ander te help. 

Solomon was nege maande oud toe haar ouers begin vermoed daar is iets nie pluis met hulle baba wat nie op klanke en stemme gereageer het nie. Aanvanklike toets het geen gehoorverlies aangedui nie, maar namate sy ouer geword het, het Solomon nie sekere ontwikkelingsmylpale bereik nie. Fisio- en spraakterapie het ook nie 'n opmerklike verskil gemaak nie. 

“Op die ouderdom van vyf-en-'n-half en ná baie jare van besoeke aan professionele praktisyns waar ons elke keer moes daar is geen teken van gehoorverlies nie, is ek uiteindelik met diepgaande sensorineurale gehoorverlies in my regteroor en matige tot ernstige sensorineurale gehoorverlies in my linkeroor gediagnoseer.

“My ouers was verpletter, want hulle het gevoel die laat diagnose van my gehoorverlies het hulle kind benadeel. Ek het toe 'n gehoorapparaat in my linkeroor gekry," verduidelik Solomon. 

Doktors het haar na die Carel du Toit-sentrum, wat op die Tygerberg-hospitaal se terrein geleë is en waar dowe kinders leer praat, verwys. Hier is die saadjie geplant wat Solomons later sou inspireer om haar as arbeidsterapeut te bekwaam. 

“Ek het baie helder en positiewe herinneringe van my klas van vyf leerders waar ek individuele aandag en gespesialiseerde rehabilitasie-ondersteuning met spesiale toestelle vir gestremdhede ontvang het. Ek kon voel hoe dit my leer en ontwikkeling positief beïnvloed." 

Sy is later na die Mary Kihn-skool vir Dowes en Gehoorgestremdes oorgeplaas. Haar gehoor het egter in haar pre-adolessente jare begin verswak. Sy het in 2002 op 13-jarige ouderdom 'n kogleêre inplanting ontvang nadat haar gesin 'n jaar-lange geldinsamelingsveldtog begin het. “In daardie stadium het die kogleêre inplanting omtrent net soveel soos 'n motor gekos!" vertel Solomon. Maar dit was alles die moeite werd. Voor die inplanting moes Solomon reg langs haar onderwyser by haar tafel sit om te volg wat gesê word. “Ná die inplanting kon ek op my skoolbank sit en haar sonder hulp volg. Dit het my lewe verander."

Danksy die kogleêre inplanting kon sy ook by 'n hoofstroomskool, Wynberg Girls' High School, inskryf. Dit was nogal 'n groot aanpassing om van 'n skool met 80 leerders na 'n skool met 900 leerders te gaan, vertel Solomon. 

“Ek het ongelooflik hard gewerk en het 'n positiewe gesindheid gehad. Ek het my eie strategieë ontwikkel om my akademies te ondersteun. Ek het 'n FM-stelsel gedra om my onderwysers te kon hoor."

Solomon het nie net akademies uitgeblink nie, maar het ook as atleet ontluik. Sy het op hoërskool die Westelike Provinsie op die krieketveld verteenwoordig en sy het begin sokker en tennis speel. Sy het al vyf Twee Oseane-halfmarathons en vyf Kaapstad-fietstoere voltooi. 

Omdat sy self ondervind het watter verskil 'n ondersteunende skoolomgewing kan maak, het Solomon besluit om arbeidsterapie te gaan studeer. Sy werk tans vir die Wes-Kaapse Onderwysdepartement as 'n skoolgebaseerde arbeidsterapeut by dieselfde skool wat sy as kind bygewoon het, die Mary Kihn-skool. “Ek het die kringloop voltooi. Dit is so 'n groot voorreg om saam met die skoolhoof te werk wat my graad 2-klasonderwyser was. Dit is wonderlik om te kan terugploeg, 'n rolmodel te kan wees en die gehoorgestremde en dowe leerders te inspireer om te glo hulle kan akademiese sukses op skool, by tersiêre inrigtings en in die werkplek behaal."

Solomon se tesis vir haar meestersgraad het die uitdagings ondersoek wat arbeidsterapeute en onderwysers ondervind in die implementering van vakprogramme in spesialebehoefteskole vir kinders met ernstige intellektuele gestremdhede. Sy wil graag haar navorsing en bevindinge vir belanghebbendes aanbied ten einde die probleemgebiede te beklemtoon. “Ek wil bydra tot beleidshersiening en die ontwikkeling van sleutelstappe wat nodig is vir die versterking van verskeie rehabilitasie- en gestremdheidsgeoriënteerde programme. Ek hoop om die rehabilitasieprogramme in die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel te verbeter sodat leerders met gestremdhede, onderwysers en die skole in hulle geheel kan voel hulle word ondersteun."

Solomon beplan om nou haar PhD-studie aan te pak. Sy wil op die rehabilitasie van kinders met gehoorverlies in 'n opvoedkundige omgewing fokus. Sy is vol lof vir die leiding wat sy by die US ontvang het. “My dosente was ongelooflik ondersteunend en tegemoetkomend. Prof Martha Gieger, die kursussameroeper, en my studieleier vir my tesis, prof Lieketseng Ned, was altyd bereid om hulle tyd op te offer om raad en leiding te gee en ek is uiters dankbaar daarvoor."

Maar bowenal is Solomon dankbaar vir haar ouers wat haar merkwaardige reis moontlik gemaak het. My ma Ruth en my oorlede pa Ruben is my grootste rolmodelle. Hulle het my aangemoedig om my beste te lewer, om in myself te glo, om nooit tou op te gooi nie en om altyd my drome na te strewe. Hulle het my deernis, nederigheid en goedhartigheid teenoor ander geleer – dit is waardevolle eienskappe vir my beroep. Dit is danksy hulle onwrikbare ondersteuning en gebede dat ek tot hier gevorder het. Bowenal, dank ek die Here dat Hy my krag gegee het om my drome te bewaarheid."

FOTO: Stefan Els