Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Universiteit Stellenbosch Senaat ondersteun Rektor se strewe na inklusiwiteit en veeltaligheid
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 25/03/2023

Die *Senaat van die Universiteit Stellenbosch (US) het Vrydag (24 Maart 2023) met 'n oorweldigende meerderheid 'n mosie van vertroue in en ondersteuning aan die Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, en sy bestuurspan in hul strewe na inklusiwiteit en veeltaligheid aan die US, aanvaar.

Die mosie, ter tafel gelê deur prof Geo Quinot van die Fakulteit Regsgeleerdheid en gesekondeer deur prof Mbulungeni Madiba, Dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde, lui:

Met kennisname van die SAMRK [Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie] se verslag van 14 Maart en die US se reaksie daarop, bevestig die Senaat hul vertroue in en ondersteuning van die Rektor en Visekanselier en sy bestuurspan in hul strewe na inklusiwiteit en veeltaligheid by die US.  

Ter motivering van die mosie het prof Quinot die volgende aan die Senaat voorgelê: “Met inagneming van die onlangse aankondiging in die openbare media deur 'n US-raadslid rakende die voorneme om 'n mosie van wantroue in die Rektor, professor Wim de Villiers, by die Raad in te stel op grond van die Menseregtekommissie se Ondersoekverslag na Bewerings van Ongrondwetlike Taalpraktyke by sekere US-koshuise van 14 Maart 2023, wil ek verklaar dat:

1. Ons as US akademiese leiers is verbind tot veeltaligheid soos uiteengesit deur die US Taalbeleid en aangedui deur die wydverspreide implementering daarvan deur ons universiteitsgemeenskap.

2. Die nie-nakoming van, of verkeerde implementering van, sodanige beleid deur sekere groepe en/of individue in spesifieke kontekste binne die instelling ondersteun nie 'n mosie van wantroue in die Rektor nie, maar ondersteun eerder a) die voortgesette besinning deur die universiteitsgemeenskap oor hoe om ten beste 'n inklusiewe en veeltalige instelling te word waar almal se regte beskerm en bevorder word, en b) ondersteuning van Bestuur, insluitend die Rektor, om 'n inklusiewe en veeltalige gemeenskap te verwesenlik deur die effektiewe en deurdagte implementering van relevante beleide in 'n kompleks, diverse en groot instelling.

3. Sodanige samewerkende strewe sal gepas wees om uitvoering te gee aan die grondwetlike verantwoordelikheid om die onregte van die verlede en die verwesenliking van gelykheid vir almal reg te stel."

Prof Madiba het die mosie ondersteun en gesê dat hy en die dekane “die beoogde mosie van wantroue beskou as 'n ernstige saak van kommer, nie net vir die Rektor nie, maar vir ons almal, aangesien taalbeleid en beplanningsake by hierdie universiteit 'n kollektiewe en samewerkende poging is.

As een van die voorste kenners van taalbeleid en beplanning kan ek met vertroue sê die beoogde mosie van wantroue teen die Rektor het geen grondslag nie. Wat ons universiteit met betrekking tot veeltaligheid bereik het, word nie deur die meeste universiteite in die land geëwenaar nie."

Hy het bygevoeg dat die taalbeleid deur verskeie howe, insluitend die konstitusionele hof, ondersoek is. “Selfs die verslag van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie kon geen fout vind met betrekking tot ons taalbeleid nie, behalwe een frase wat dit aanbeveel verander moet word.

Ons sê nie ons taalbeleid is perfek nie, aangesien daar nie so 'n beleid in die wêreld is nie.

Die Bestuur, onder leiding van die Rektor, het nog altyd 'n verbintenis tot inklusiewe veeltaligheid getoon, en het ook die nodige begroting vir implementering verskaf.

Ons begroting vir veeltaligheid is ver bo die begroting van meeste ander universiteite in die land.

Alhoewel dit waar mag wees dat ons taalbeleid nie korrek geïnterpreteer is deur studente by slegs twee koshuise uit een-en-dertig koshuise gedurende die oriënteringstydperk volgens die SAMRK-verslag nie, kan hierdie foute nie gesien word as verteenwoordigend van die stand van taalbeleidsimplementering in die universiteit en die algehele prestasie van die Rektor met betrekking tot die implementering van veeltaligheid in die Universiteit nie."

Hy het afgesluit deur te sê dat daar “baie goeie suksesverhale is om te vertel met betrekking tot die implementering van inklusiewe veeltaligheid by ons universiteit wat die betrokke raadslid verkies om te ignoreer in die nastrewing van sy beoogde wantrouestemming."

  • Vir bespreking van die mosie het die Rektor en die Bestuurspan hul verskoon van die vergadering.

     

    *Die Senaat bestaan uit die professore van die Universiteit, die Rektor se Bestuurspan, twee raadslede en verteenwoordigers van onder meer die Studenteraad, permanente akademiese personeel en administratiewe personeel. (Vir bespreking van die mosie het die Rektor en die Bestuurspan hul verskoon van die vergadering.)

    Die Senaat is verantwoordelik, en verantwoordbaar teenoor die Raad, vir die akademiese en navorsingsfunksies van die Universiteit. Die Senaat reguleer leer, onderrig, navorsing en akademiesesteunfunksies aan die Universiteit, en maak aanbevelings aan die Raad oor beleide rakende akademiese aangeleenthede.​