Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
“Dear Mr Mandela, Dear Mrs Parks”: Tentoonstelling van kinderbriewe, globale lesse keer terug na US Museum
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking (Anel Lewis)
Gepubliseer: 24/03/2023

​Dit is baie gepas dat die geliefde rondgaande tentoonstelling, “Dear Mr Mandela, Dear Mrs Parks Children's Letters Global Lessons Exhibition" (“Beste mnr Mandela, Beste mev Parks, Kinderbriewe- Globale Lesse-tentoonstelling"), in internasionale vrouemaand na die Stellenbosch Universiteit Museum terugkeer, want dit herinner ons aan die invloed wat een vrou – Rosa Parks – in die 1950's op burgerregte in Amerika gehad het.

Dit is ook 'n herinnering van die mag van gewone mense om veranderingsagente te word. 'n Mens kry deur die versameling briewe wat kinders wêreldwyd aan die Suid-Afrikaanse bevrydingsleier, Nelson Mandela, en burgerregteaktivis Rosa Parks geskryf het, 'n gevoel van die krag van woorde, eenvoudige dade en dade van stille krag.

Die tentoonstelling, wat vir die eerste keer in 2008 by die Nelson Mandela Museum in Mthatha in die Oos-Kaap bekendgestel is, is deur die jare heen en weer tussen die VSA en Suid-Afrika geneem. Dit was laas in 2014 op Stellenbosch te sien en nou, amper 'n dekade later, is die tentoonstelling se boodskap nog net so toepaslik as voorheen.

Rosa Parks en Nelson Mandela se stories bly steeds kragtig, want hulle leer ons meer oor leierskap, het Bongani Mgijima, Direkteur van die US Museum, by die onlangse opening op Stellenbosch gesê. Parks se eenvoudige moedige daad – haar weiering om van 'n bussitplek af op te staan wat vir wit mense gereserveer was – het getoon “jy kan die hulpbronne wat jy het, gebruik om 'n verskil te maak". Die uitwerking is duidelik in die eenvoudige handgeskrewe brief te sien wat 'n Suid-Afrikaans seun genaamd Randall in 1996 geskryf het: “Jy is 'n dapper vrou omdat jy nie jou sitplek prysgegee het nie."

Hierdie gemoderniseerde weergawe van die teentoonstelling is deur die Nelson Mandela Museum (Mthatha, Oos-Kaap) in vennootskap met die Rosa en Raymond Parks-instituut vir Selfontwikkeling (geleë in Detroit, Michigan in die VSA) en die Michigan-staatsuniversiteit Museum (Oos-Lansing, Michigan, VSA) danksy 'n skenking van die VSA se ambassade in Suid-Afrika ontwikkel.

Prof Kurt Dewhurst, Direkteuur: Kulturele Inisiatiewe by die Michigan-staatsuniversiteit, het by die opening die volgende gesê: “Dit het 'n nuwe tentoonstelling geword, want daar het soveel in ons wêreld gebeur en ons word omring deur bedreigings vir demokrasie. So, dit is nie net 'n bygewerkte tentoonstelling nie, maar 'n nuwe een wat hopelik hierdie jonger geslag sal aanraak."

Ander vennote van die tentoonstelling sluit in Mind-Builders Kreatiewe Kunssentrum (Bronx, New York, VSA), Universiteit Stellenbosch Museum (Stellenbosch, Suid-Afrika) en die Robbeneiland Museum (Kaapstad, Suid-Afrika).

“Ek hoop hierdie uitstalling kan diegene wat nie die stories agter Nelson Mandela en Rosa Parks ken nie, inspireer om oor hulle eie stories na te dink en die moed te vind om verandering in hulle eie gemeenskappe tot stand te bring," Ulrich Wolff, kurator van die US Museum, gesê.

Soos Parks eenkeer opgemerk het: “Herinneringe van ons lewe, of ons werke en ons dade, sal in ander bly voortleef." Hierdie tentoonstelling, wat in Mei na die Robbeneiland Museum verskuif, verseker dat hierdie leiers se stille krag en moed sal bly voortleef en 'n nuwe geslag leiers sal inspireer.

“Ek dink ons kan almal leer om maniere te vind waarop ons veranderingsagente in hierdie wêreld kan word. Verandering begin by elkeen van ons. Baie dankie aan hierdie twee ikone, hierdie tentoonstelling beloof om juis dít te help doen," het Wolff opgemerk.