Wêreldwaterdag word jaarliks op 22 Maart gevier. In ʼn meningsartikel vir die Cape Times skryf meesterstudent Emma Davies & dr Reynold Chow (Departement Aardwetenskappe) dat ons ons riviere moet monitor vir plaagdoders wat ons waterbronne kan besoedel.
- Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder
Emma Davies & Reynold Chow*
Suid-Afrika is die grootste gebruiker van plaagdoders in Afrika suid van die Sahara, wat beteken dat ons waterbronne moontlik die risiko loop om deur die plaagdoders besmet te word. Plaagdoders word hoofsaaklik vir grootskaalse gewasverbouing gebruik. Ná toediening is dit egter moontlik dat hulle water op die oppervlak of grondwater kan binnedring, waar hulle moontlik kan bly en waterorganismes en selfs die mens se gesondheid skade kan berokken.
Die tema van vanjaar se Wêreldwaterdag (22 Maart) is “Accelerating Change" (“Versnel verandering") en fokus daarop om die waterkrisis te midde van klimaatsverandering op te los. Met Suid-Afrika wat geneig is tot droogte, kan ons nie bekostig dat ons waterbronne besmet word nie. Daarom is dit uiters belangrik dat ons ons waterbronne bewaar en beskerm deur aktiwiteite, insluitende plaagdoders, volhoubaar te bestuur wat dit kan besmet.
Hoewel daar streng reëls en regulasies is om die vlakke van plaagdoderneerslae te monitor op gewasse wat van Suid-Afrika af uitgevoer word, het ons nie regulasies wat die vlakke van plaagdoderbesmetting in die omgewing, veral in water, beperk nie. Dit beteken ons regering (dus die Departement van Water en Sanitasie) het nie 'n strategie beskikbaar om ons riviere vir plaagdoders te monitor nie. Daarom weet ons nie watter plaagdoders nablywend in die omgewing is of hoeveel daarvan ons water binnedring nie. Dit kan 'n probleem word vir ons land se water-ekostelsels, asook vir mense in landelike gemeenskappe wat op oppervlak- én grondwater staat maak. As Suid-Afrikaners moet ons met die gevolge van plaagdoderbesoedeling in die omgewing saamleef, terwyl lande wat ons produkte invoer, dit nie hoef te doen nie.
Die gebruik van plaagdoders in die landbou is die vernaamste dryfveer vir plaagdoderbesoedeling. Die gebruik daarvan vir ander doeleindes as landbou (byvoorbeeld bosbou en onkruidbeheer langs die pad) en huishoudelike gebruik is bykomende bronne. Dit is ook belangrik om te verstaan hoe hierdie smetstowwe ons ekostelsel binnedring – dit kan afloop, in die lug vrygestel word, in grondwater en afvalwater beland en op talle ander maniere plaasvind. Dit is noodsaaklik om hierdie bronne en paaie te verstaan, want ons kan hierdie inligting gebruik om verbinding-spesifieke oplossings te skep wat uiteindelik die risiko's verbonde aan die gebruik van plaagdoders en die negatiewe uitwerking op gemeenskappe en waterorganismes tot 'n minimum kan beperk.
Ten einde die kennisgapings oor plaagdoderbesmetting te help aanspreek, monitor ons altesame 50 verbindings in die Wes-Kaap deur passiewe toetsers te gebruik. Passiewe toetsers is klein skyfies wat in riviere geplaas word om plaagdoders deur diffusie en sorpsie te versamel. Diffusie vind plaas wanneer molekules van 'n hoëkonsentrasiegebied (die water) na 'n laekonsentrasiegebied (die toetser) beweeg. Sorpsie vind plaas wanneer 'n verbinding (plaagdoder) homself aan 'n ander (passiewe toetser) deur fisiese of chemiese prosesse laat vaskleef.
Ten slotte …
Ons studie het sover 30 verskillende plaagdoderverbindings opgemerk, met net 'n paar wat in groot hoeveelhede voorkom. Dit illustreer dat spesifieke verbindings die meeste besmetting veroorsaak en dus die fokus van versagtende maatreëls moet wees. Twee verbindings wat veral kommer wek, is chlorpyrifos en imidacloprid wat omgewingsgehaltestandaarde (EQS) oorskry. 'n EQS-waarde is die minimum konsentrasie wat die sensitiefste waterorganismes kan beïnvloed. Deur plaagdoderkonsentrasies in die water met n EQS-waarde te vergelyk, help dit ons om te bepaal watter plaagdoders n risiko vir waterlewe inhou. Imidacloprid, 'n plaagdoder wat algemeen gebruik word om witluise in wingerde te bekamp, wek veral kommer omdat dit sedert 2017 sy EQS-waarde in al ons monsters oorskry het.
Om die moontlike risiko's beter te verstaan wat plaagdoderbesoedeling vir die omgewing en menslike gesondheid inhou, benodig ons deurlopende en konsekwente moniteringsprogramme vir plaagdoderbesoedeling in landbou-sensitiewe opvangsgebiede gekombineer met 'n opnamestelsel van die plaagdoders wat boere gebruik. Doelgerigte oplossings kan aan die hand van hierdie inligting ontwikkel word wat sal help om volhoubare landboupraktyke te bevorder wat weer op hulle beurt die omgewing én die boere (geïntegreerde plaagbestuur) kan bevoordeel. Sulke programme is lewensnoodsaaklik om te verseker dat varswaterbronne nie deur plaagdoders besoedel word nie en dat die gesondheid en welstand beskerm word van gemeenskappe wat op hierdie hulpbronne staatmaak.
Met die viering van Wêreldwaterdag is dit belangrik om te besef hoe verskillende soort besoedeling ons kosbare waterbronne kan beïnvloed. Deur 'n omvattende begrip van die probleem te ontwikkel, kan ons die ontwikkeling van doeltreffende oplossings bespoedig.
*Emma Davies is 'n meestersgraadstudent en dr Reynold Chow 'n dosent in die Departement Aardwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch. Dr Chow is ook verbonde aan die Grondfisika- en Grondbestuurgroep by die Wageningen-Universiteit in Nederland.