Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studie bevind maatskaplike werkers het beter ondersteuning nodig
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 22/03/2023

Onhandelbare werksladings, gebrekkige erkenning, onvoldoende toesig en te veel stres is maar net van die redes waarom maatskaplike werkers in Suid-Afrika uit hulle poste bedank. Dit is nie verbasend dat die omsetkoers hoog bly ondanks die inwerkingstelling van die Werwings- en Retensiestrategie vir Maatskaplike Werkers in 2009 nie.

“Maatskaplike werkers in die praktyk ondervind daagliks baie stresvolle situasies weens 'n gebrek aan emosionele ondersteuning, hulpbronne, ontwikkeling en besluitneming, asook weens onvoldoende toesig en swak salarisse," sê dr Sandra Bredell wat onlangs haar doktorsgraad in Maatskaplike werk aan die Universiteit Stellenbosch behaal het.

Bredell wou meer insig kry in hoe maatskaplike werkers die balans tussen hulle werk en persoonlike lewe en hulle subjektiewe welstand – hoe hulle hul lewens evalueer – sien. Sy het met maatskaplike werkers wat in die voorste linie werk en toesighouers/bestuurders onderhoude gevoer. Volgens haar is dit kommerwekkend dat meer as die helfte van die maatskaplike werkers wat aan haar studie deelgeneem het, binne die eerste vyf jaar uit hulle pos wou bedank weens verswakkende werksomstandighede.

'Afgesien daarvan dat hulle gespanne en oorwerk gevoel het en nie genoegsame ondersteuning van toesighouers ontvang het nie, moes hulle dit ook hanteer dat hulle werk na hulle gesinslewe en andersom oorspoel.

“Tuis het finansiële kommer, 'n gebrek aan begrip vir hulle werksomstandighede, verskillende rolle by die werk en in die gesin, en die gehalte van hulle verhoudings hulle gesinslewe beïnvloed.

“Hoewel hulle gevoel het maatskaplike werk kry nie die erkenning wat dit verdien nie, het hulle ook erken maatskaplike werkers kan meer doen om voorspraak vir hulle beroep en waaroor dit gaan, te maak asook om heersende wanbegrippe daaroor uit die weg te ruim."

Volgens Bredell wou dit ook voorkom asof daar aan die een kant 'n gebrek aan organisatoriese verbintenis is tot beskikbare en betroubare hulpbronne (gepaste kantoortoerusting, goed-onderhoude voertuie, 'n voldoende werksmag om die werk te doen, ensovoorts) en aan die ander kant ondersteunende werksomstandighede (ondersteunende toesighouers, buigbare werktye, veilige werksomstandighede, ensovoorts) is.

“Indien ondersteunende werksomstandighede daargestel word, dra dit die boodskap aan maatskaplike werkers oor dat die organisasie vir hulle omgee. Hulle voel dan dat hulle behoort, wat hulle laat afsien van hulle voorneme om te bedank.

“Dit sal hulle verder motiveer en hulle wil versterk om aan te hou om die broodnodige dienste met passie te lewer. Dit sal hulle ook help om gesond te bly en in hulle werk te floreer."

Aanbevelings

Bredell het as deel van haar studie ook 'n paar aanbevelings gedoen wat kan help om maatskaplike werkers se balans tussen hulle werk en persoonlike lewe te herstel en hulle welstand te verbeter.

Sy sê die Suid-Afrikaanse Raad vir Maatskaplikediensberoepe (SACSSP) moet meer voorspraak doen vir die beroep en toesighouers moet 'n spesifieke opleidingskursus deurloop en by die Raad geakkrediteer word.

“Daar behoort 'n spesifieke toesighouer- en ontwikkelingsprogram by organisasies te wees vir hulle jong maatskaplike werkers in die praktyk. Toesighouers se werklading moet só gestruktureer word dat hulle tyd het vir doeltreffende en ondersteunende toesig vir jong maatskaplike werkers in die eerste twee jaar van diens.

“Toesighouers moet maatskaplike werkers help om hulle vaardighede te ontwikkel, grense in die werkplek te stel, die balans tussen hulle werk en persoonlike lewe te verbeter en selfsorg vir hulle holistiese welstand te handhaaf.

“Welstand- en oriëntasieprogramme vir maatskaplike werkers in die praktyk moet by die SACSSP geregistreer word en die bestuur moet inkoop in die konsep van selfsorgprogramme, welweesdae en buigbare werktye om hulle waardering en ondersteuning aan die werksmag te toon."

Bredell voeg by dat tersiêre instellings die voorgraadse kursus in Maatskaplike Werk as 'n soort siftingsonderhoud moet gebruik en die kurrikula moet studente daarop voorberei om grense in die werkplek te stel en vol te hou met selfsorg. 

Sy vra ook dat salarisse hergradeer word sodat maatskaplike werkers wat by welsynsagentskappe werk, 'n salarisverhoging kan kry.

Bredell sê dat hoewel dit maatskaplike werkers se eie verantwoordelikheid is om na hulleself om te sien en om by die werk te floreer deur die grense te handhaaf wat hulle gestel het, moet hulle steeds weet dat hulle toesighouers, welsynsorganisasies en die SACSSP hulle ondersteun.