Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US vier 30 jaar van betekenisvolle internasionale betrekkings
Outeur: Hannelie Booyens
Gepubliseer: 13/03/2023

Robert Kotzé is ʼn man van vele talente, maar een ongewone vaardigheid het hom oor die afgelope drie dekades goed te pas gekom: die vermoë om feitlik oombliklik op vliegtuie aan die slaap te raak, selfs voor opstyging. Dié vaardigheid is noodsaaklik omdat daar baie jare was toe hy as senior direkteur van die Universiteit Stellenbosch se Internasionale Kantoor meer naweke oorsee deurgebring het as tuis. 

Maar vandeesweek gaan Kotzé nêrens heen nie. Talle van sy internasionale kollegas kom van 13 tot 17 Maart vir ʼn baie spesiale geleentheid in Stellenbosch byeen: die jaarlikse vergadering van die Stellenbosch Internasionale Akademiese Netwerk (SIAN) wat deur US Internasionaal aangebied word. Sowat 120 afgevaardigdes van 77 universiteite wat 37 lande verteenwoordig, sal die feestelikhede ter viering van 30 jaar van internasionalisering by die US meemaak. 

Kotzé verkies om nie as die dryfkrag agter die US se hoogs suksesvolle internasionaliseringspogings bestempel te word nie, maar beskryf sy betrokkenheid eerder as “stille diplomasie en die navigering van die plaaslike omgewing in samewerking met fakulteite – die primêre tuiste van internasionalisering". Hy gee ook vinnig die eer aan die “wonderlike, gewillige en wyse kollegas" wat gehelp het om die US se internasionale betrekkinge met meer as 200 internasionale instellings te ontwikkel en te laat groei. 

Kotzé het sy loopbaan as ʼn tussenganger tussen die US en universiteite wêreldwyd in 1993 begin nadat hy teruggekeer het van ʼn studietydperk van 14 maande in Duitsland. Einde 1992 het die US Bestuur besluit die Universiteit moet op ʼn internasionale vlak betrokke raak en is die Kantoor vir Internasionale Betrekkinge in die Afdeling Navorsingsontwikkeling tot stand gebring. Kotzé was destyds die enigste personeellid.  

Dié Kantoor het gou die bestemming geword vir alle briewe met buitelandse seëls en oproepe wat die US van mense met onbekende aksente ontvang het. 

“Ek kon die US-omgewing navigeer, geleenthede identifiseer, goeie werksverhoudinge met US-kollegas ontwikkel en betekenisvolle bande vestig met ons eerste vennote by KU Leuven in België, die Universiteit van Leiden in Nederland en die Universiteit van Tübingen in Duitsland," verduidelik Kotzé. 

Kotzé onthou hoe hy die eerste groep uitruilstudente van Leiden in Februarie 1994 by die lughawe gaan oplaai en op die nippertjie huisvesting in die dorp vir hulle gevind het – waar hy (twee keer) deur die huiseienaar se hond gebyt is! Hy moes ook Binnelandse Sake trotseer en in die proses deur stapels en stapels dokumente werk. 

US Internasionaal het van ʼn klein begin ontwikkel tot ʼn multidimensionele entiteit wat deur etlike spesialissentrums en -institute ʼn globale reikwydte het. Die US het bekendheid verwerf as ʼn universiteit met ʼn sterk reputasie vir akademiese uitnemendheid, wêreldklas-navorsing en ʼn openheid vir kreatiewe internasionale samewerking. En soos internasionale akademici kan getuig nadat hulle ʼn tyd lank in Stellenbosch was, sorg die Universiteit baie goed vir sy besoekers. “Dit help natuurlik dat die dorp en sy omgewing baie mooi is," merk Kotzé op.    

Vanjaar is ʼn rekordgetal van 650 internasionale semesterstudente van reg oor die wêreld by die US verwelkom en US Internasionaal het nou 55 permanente personeellede en studente-interns om te help met die soort beplanning en logistiek wat Kotzé aanvanklik op sy eie behartig het. Die Internasionale Kantoor fasiliteer ook talle geleenthede vir US-studente en -personeellede om by vennootuniversiteite in die buiteland te studeer en te werk. 

Kotzé het ʼn sterk persoonlike band met die US, nie net as ʼn alumnus nie, maar ook as ʼn voormalige lektor, Hoof van die Helderberg-koshuis en as tussentydse Dekaan van Studentesake, ʼn pos wat hy bykans twee jaar lank beklee het. Sy vrou, Annemaré, het onlangs afgetree as professor in die Departement Antieke Studie en hul dogters het altwee aan die US studeer. 

Wanneer hy internasionale gaste op die US-kampus rondwys, stop Kotzé altyd by die Ou Hoofgebou, nou tuiste van die Fakulteit Regte, om ʼn kosbare herinnering te deel. “Dit is waar ek my vrou ontmoet het toe ek Hebreeus gedoseer het voor ek na die Kantoor vir Internasionale Betrekkinge geskuif het. Ons het ons troufoto's in die binnehof laat neem." 

Hy het in ʼn huishouding met twee dowe ouers grootgeword en Kotzé het met ʼn edel motief teologie aan die US begin studeer. “Ek wou ʼn predikant van ʼn dowe gemeente word. Ek het met teologie begin en toe my hart op Grieks en Hebreeus verloor. Ek het ʼn meestersgraad in Hebreeus gedoen en is Duitsland toe vir navorsing vir my PhD. Maar die stigting van die Internasionale Kantoor en om al die aksente te probeer hanteer het sy tol geëis en die PhD is by die agterdeur uit!" 

Op ʼn ernstiger noot voeg Kotzé by dat hy nooit die koersverandering in sy loopbaan berou het nie. Sy akademiese agtergrond gekombineer met sy pastorale agtergrond het hom perfek toegerus vir die rol om internasionale betrekkinge by ʼn universiteit te bestuur. Sy passie om lewens te verbeter en geleenthede te skep beteken dat hy altyd bewus is van die plaaslike en streeksimpak van samewerking. “Ons band met die gemeenskap en met Afrika is van deurslaggewende belang vir die Universiteit," benadruk hy. 

US Internasionaal het die afgelope paar jaar baie tyd bestee aan die posisionering van die US as ʼn voorste Afrika-universiteit in ooreenstemming met die Universiteit se Visie 2040 en die strategiese raamwerk om programme en inisiatiewe te vestig met hul wortels in Afrika, maar met ʼn globale reikwydte.

Die US het tans bilaterale ooreenkomste met meer as 20 hoëronderwysinstellings in die res van Afrika, waar doelgerigte vennootskappe en inklusiewe netwerke gevestig is. 

Die Covid-pandemie van die afgelope jare het ʼn reuse-invloed op internasionale akademiese samewerking gehad. Maar daar was ondanks die uitdagings tóg ʼn silwer randjie, sê Kotzé. “Aan die begin het ons gevoel dit is die einde van internasionalisering, met geen studente-mobiliteit of -afvaardigings nie. Ja, internasionale studentegetalle het gedaal, maar bande het sterker geword en mettertyd het ons ontdek dat virtuele vergaderings uitgebreide besprekings en betrokkenheid moontlik kon maak. Die pandemie het vir ons gewys hoe belangrik die deel van navorsing en kennis is – om geleenthede te identifiseer, vertroue te bou en bande te vestig bo en behalwe die individue wat die voorreg het om te reis en by vennootinstellings te wees." 

Teen die agtergrond van die wêreld se huidige geopolitieke uitdagings het kennisdiplomasie belangriker as ooit tevore geword, meen Kotzé. 

“Internasionale samewerking is van deurslaggewende belang vir akademiese instellings wat betref die lewering van onderrig van gehalte en om tot die globale kennisekonomie by te dra. Wat leer en onderrig betref, is dit belangrik vir die ontwikkeling van die globale vaardighede en interkulturele bewustheid van inkomende en uitgaande studente en bevorder dit hulle indiensneembaarheid. Op die vlak van navorsing en innovering is dit belangrik vir die vestiging van sterk navorsingsgroepe en om aanvullende kundigheid byeen te bring om globale kwessies aan te pak. En op die vlak van maatskaplike impak is dit belangrik vir plaaslike, streeks- en kontinentale ontwikkeling, veral vir ʼn instelling wat in Afrika geleë is – soos die US."

Dit is onwaarskynlik dat Kotzé sal ophou reis wanneer hy oor drie jaar aftree. Hy wil Barcelona se argitektuur nog op sy tyd bestudeer, hy wil nóg ʼn opera in Sydney, Australië ervaar en hy wil baie graag weer die stomende herderspastei proe wat hy op 'n keer in Chicago geniet het. En dan is daar die talle onvergeetlike ervarings wat hy en sy gesin gehad het toe hulle in Duitsland gebly het, wat hy graag herbesoek. 

Maar wat die toekoms ook al vir Kotzé inhou, staan een ding vas: Daar is geen beter gevoel in die wêreld as om na Stellenbosch terug te keer nie. “Elke keer as ek van die vliegtuig afstap en die berge sien en die grond ruik, weet ek hierdie is my land en dis waar ek behoort. Dit is my huis." 

 

KOTZÉ OOR SY LOOPBAANHOOGTEPUNTE:

• My eerste konferensie van die European Association for International Education (EAIE)-in 1994 in Den Haag, waar ek aan huis van die destydse Rector Magnificus van die Universiteit van Leiden gebly en tydens aandete my daaglikse ervarings met hom en sy vrou gedeel het. 

• My wandeling in 1996 op die kampus saam met mev Ethel Kennedy toe die Kennedy-familie Robert Kennedy se 1966-besoek aan Stellenbosch gedenk het. Toe ons by die Rooiplein kom, het sy opgemerk: “Dis Stanford!" Ek het dit merkwaardig gevind dat Stellenbosch se voorkoms en atmosfeer haar aan Stanford kon laat dink. 

• My betrokkenheid by die beplanningsproses vir die bou van die Concordia-koshuis om huisvestingsopsies vir internasionale studente te bied.  

• Die omskepping in 2010 van die Internasionale Kantoor in die Nagraadse en Internasionale Kantoor (NGIK), toe die Universiteit ons gevra het om die suksesvolle ondersteuningstrukture vir internasionale nagraadse studente na alle nagraadse studente uit te brei en om ʼn nagraadse vaardigheidsprogram in te stel. Dorothy Stevens het die geleentheid aangegryp en die fondamente vir die Nagraadse Kantoor gelê toe hulle in 2016 van die NGIK na die Afdeling Navorsingsontwikkeling geskuif het.

• Ons eerste Familievergadering in 2003 toe ons tien jaar van internasionalisering gevier het. Dit was die voorloper van die jaarlikse SIAN-vergadering wat ons vandeesweek aanbied – die eerste een wat ons ná die Covid-onderbreking van aangesig-tot-aangesig hou, nadat ons die afgelope drie jaar aanlyn vergaderings gehou het. 

• Ons betrokkenheid by die skep van die B Com-graad in Internasionale Besigheid, waar die studente hul sesde semester oorsee moet voltooi. ​