Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maatskaplike geregtigheid is almal se geveg
Outeur: Tendani Tshauambea
Gepubliseer: 11/03/2023

​​​“Ons moet veg vir die samelewing wat ons wil hê."

Dít was die woorde van voormalige Konstitusionele Hof-regter Albie Sachs by die vierde jaarlikse Maatskaplike Geregtigheidslesing, wat onlangs deur die Sentrum vir Sosiale Geregtigheid (SSG) en die Regstrustvoorsitter vir Sosiale Geregtigheid, binne die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die Universiteit Stellenbosch, aangebied is.

Vanjaar se lesing het gefokus op Maatskaplie Geregtigheid en die Grondwet: Is dít die land waarvoor ons geveg het? met maatskaplike geregtigheid wat onder die soeklig gekom het as “een van die dringendste uitdagings van ons tyd, naas klimaatsverandering".

Die lesing is aangebied deur prof. Thuli Madonsela in haar hoedanigheid as Direkteur van die SSG en Voorsitter van die Regstrust vir Sosiale Geregtigheid.

In aanloop tot die lesing het Madonsela gesê: “Die tydsberekening daarvan kan nie meer gepas wees nie, aangesien baie hul rug op die Grondwet draai, met sommige wat dit daarvan beskuldig dat dit niks meer as 'n sogenaamde 'Potemkin-dorpie' is nie, terwyl ander dit verwerp as 'n neoliberale bloudruk wat die status quo versterk."

Voormalige regter Sachs, ook 'n afgetrede advokaat, anti-apartheidsaktivis en skrywer, het 'n volgepakte lesinglokaal van net meer as 200 mense toegespreek, en geen tyd verspil nie om die vraag – of dít die land is waarvoor hy tydens apartheid geveg het – te beantwoord.

“Ja, dit ís die land waarvoor ek geveg het, maar nee, dit is nié die samelewing waarvoor ons geveg het nie."

Die land waarvoor hy geveg het, het Sachs gesê, is “'n Suid-Afrika met 'n Handves van Regte, 'n vrye pers en al die ander instellings wat met 'n grondwetlike demokrasie geassosieer word". Met sy herinneringe aan hoe die Vryheidsmanifes geskep is, het hy gesê dat dit “nie ontwerp is [deur prokureurs] nie, maar voortgespruit het uit die eise gestel deur die mense".

“Die land wat ons vandag het, is die resultaat van die mense van Suid-Afrika wat deur hul demokraties-verkose verteenwoordigers 'n Grondwet op Suid-Afrikaanse bodem opgestel het."

As 'n bobaas-storieverteller het hy die gehoor op sy lewensreis as 'n anti-apartheidsaktivis geneem, wat begin het met sy inhegtenisname op die ouderdom van 17, terwyl hy nog 'n tweedejaar-regstudent aan die Universiteit van Kaapstad was. Hy het ook gepraat oor sy ondervinding tydens die bywoning van die Congress of the People in 1955, waar die Vryheidsmanifes aanvaar is, sowel as sy deelname aan die aanvaarding van grondwetlike riglyne vir 'n nuwe Suid-Afrika by 'n ANC-byeenkoms by die Universiteit van Zambië in 1988.

Die bespreking is gelei deur die bekroonde joernalis Lukhanyo Calata, wat ook as die programdirekteur gedien het. Die gehoor het bestaan uit universiteitsbestuur, studente, studenteleiers en personeellede. Verskeie besoekende hooggeplaastes het ook by die US-gemeenskap aangesluit, insluitend die Sweedse ambassadeur, mnr. Håkan Juholt, die jongste dienende hoof van die Royal Bafokeng Nations, dr. Koketso Rakudu, me. Sharna Fernandes, Lid van die Uitvoerende Komitee van die Wes-Kaapse regering, verteenwoordigers van die Regsfakulteitstrust, sowel as die direkteurs van Cluver Markotter Prokureurs.

In haar verwelkomingstoespraak het prof. Juanita Pienaar, Waarnemende Dekaan van die Regsfakulteit, Sachs beskryf as iemand wat “vele wonderlike regsuitsprake met fynheid en akkuraatheid neergelê het".

Me. Jaina Lalla, 'n meestersgraadstudent, het gesê dat sy saamstem met Sachs se antwoord op die vraag wat deur die lesingtema gestel is. Lalla het gesê: “Terwyl hy nie die voortdurende kwessies binne Suid-Afrika heeltemal ignoreer nie, beklemtoon hy die pragtige nasie wat Suid-Afrika is, en nóg belangriker, die mag wat Suid-Afrikaners besit met hul reg tot vrye spraak teen dinge wat hulle wéét onregverdig is. As 'n Zimbabwiër, is dit iets wat regtig vir my uitgestaan het; dit het my laat besef hoe kragtig hierdie reg is, aangesien dit een is wat my mense nie self veilig en vrylik kan uitoefen nie".

Sachs het ook gesê dat hy “'n ewige optimis" is, maar erken dat, hoewel Suid-Afrika 'n vrye land is, “dit nie regverdig óf gelyk is nie, en geteister word deur misdaad, geslagsgebaseerde geweld, korrupsie en disfunksionele munisipaliteite".

Hierdie sentimente is weerspieël in die openingsrede van die US-rektor, prof. Wim De Williers. Hy het tydens sy openingsrede op Wêrelddag van Sosiale Geregtigheid (wat slegs een dag voor die Sachs-lesing gevier is), die aandag gevestig op die vereiste om “ons volle en onmiddellike aandag" te skenk aan die kwessies in ons samelewing, soos deur Sachs genoem.

Sachs het ook gepraat oor die stryd wat hy as 'n anti-apartheidsaktivis in die gesig gestaar het en die beserings wat voortgespruit het uit die sluipmoordpoging op sy lewe in 1988. Hy het gesê dat hy nie hierdie dinge as “opofferings beskou nie, maar eerder as die enigste opsies wat [hy] voel reg sou wees in reaksie op die onregverdige stelsel van apartheid".

“Die enigste manier waarop ek 'n vry mens in my land kon wees, was om by die stryd aan te sluit wat deur Afrika-mense gelei is."

Thembalethu Seyisi, 'n kandidaatprokureur en ambassadeur van Maatskaplike Geregtigheid se M-Plan-inisiatief (wat deur Madonsela binne die SSG begin is), en 'n leier van die Stellenbosch-alumnigroep, het genoem waarom studente maatskaplike geregtigheidsinisiatiewe moet ondersteun. “Dit is van kardinale belang vir studente om maatskaplike geregtigheidsinisiatiewe soos dié jaarlikse lesing te ondersteun, sodat hulle toegespits kan bly op huidige maatskaplike euwels, en om inspirasie te put om sistematies te begin dink oor hoe hulle hul rol kan speel in die skep van 'n Suid-Afrika waar almal se lewe verbeter en moontlik bevry word."

Herhalende temas wat deur Sachs se lesing voorgekom het, het sy pligsbesef, sy duidelike begrip van reg en verkeerd en sy teenkanting teen onreg, wat sy lewe tot op hede beklemtoon het, ingesluit.

“Ek word kwaad; veral as ek sien dat mense saam met wie ek in die loopgrawe was, skelms geword het," het hy gesê.

Ten spyte van hierdie teleurstelling in sy voormalige kamerade, bly hy positief en het hy 'n beroep op die jeug gedoen om die stryd vir 'n meer regverdige samelewing aan te pak. Hy het ook verklaar dat ons “ons weg sal vind deur die moeilikheid waarin ons ons tans bevind".​