Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Toonaangewende epidemioloog word direkteur van Populasiegesondheidsinnovasie by SERI
Outeur: Corporate Communication and Marketing | Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 02/03/2023

Prof Frank Tanser, 'n toonaangewende Suid-Afrikaanse navorser op die gebied van MIV, het hom by die Sentrum vir Epidemie-reaksie en Innovasie (SERI) aangesluit as direkteur van Populasiegesondheidsinnovasie.

He is gesamentlik as professor by die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke én die Departement Globale Gesondheid aangestel.

Tanser se navorsing is daarop gemik om intervensiestrategieë te evalueer en te ontwerp ten einde die MIV-epidemie en die negatiewe gevolge daarvan teë te werk in gemeenskappe wat die ergste deur die epidemie geraak is. Sy deurslaggewende werk die afgelope 25 jaar het beduidende insigte oor die veranderende en dinamiese aard van die MIV-epidemie en die sleutelaandrywers daarvan verskaf wat rigting gegee het aan MIV-voorkoming en behandelingspogings in Afrika suid van die Sahara. Tanser het die afgelope drie jaar in die Verenigde Koninkryk gewerk, waar hy die stigtersdirekteur van die Lincoln Internasionale Instituut vir Landelike Gesondheid was. Die instituut het daarop gefokus om die grootste gesondheidsuitdagings wat landelike gemeenskappe wêreldwyd ondervind, aan te spreek.

“Ek is baie bly en voel geëerd om terug te wees in Suid-Afrika en om by die Universiteit Stellenbosch en saam met SERI en die Departement van Globale Gesondheid te werk. Ek is lief vir hierdie vasteland en daar is geen plek in die wêreld waar ek nou eerder sou wees nie – ek voel dit is hier waar ek die grootste verskil kan maak," sê hy.

Tanser beplan om innoverende navorsing te doen wat op die uitwerkings van intervensies op bevolkingsvlak fokus wat die belangrikste gesondheidskwessies aanspreek wat kwesbare bevolkings regoor Afrika affekteer. “Ons het reeds baie finansiering vir MIV-verwante projekte in Suid-Afrika en Zimbabwe bekom en ons is tans besig om voorleggings op te stel oor die uitwerking van klimaatsverandering en gesondheid wat vennote uit Wes-, Oos- en Suidelike Afrika betrek. Uiteindelik wil ons op SERI se uitstekende werk gedurende die Covid-19-pandemie voortbou en 'n span Afrika-navorsers skep wat die voortou kan neem in die uitbouing van Populasiegesondheid as vakgebied.

“Ons is veral opgewonde oor prof Tanser se terugkeer na Suid-Afrika. Sy aanstelling sal 'n florerende Navorsingsgroep vir Populasiegesondheid by SERI in samewerking met die Departement van Globale Gesondheid by die US en die Afrika-instituut vir Gesondheidsnavorsings vestig," sê die direkteur van SERI, prof Tulio de Oliveira.

Bekroonde navorser

Tanser het 'n meestersgrade by die Imperial College London en een by Rhodes-Universiteit en sy doktorsgraad aan die Universiteit van KwaZulu-Natal behaal. Hy is 'n senior fakulteitslid van die Afrika-instituut vir Gesondheidsnavorsing en is 'n ereprofessor by die University College London en Monash-Universiteit in Maleisië. Hy dien tans in die raad van The Lancet HIV en is lid van verskeie belangrike nasionale en internasionale komitees, wat die Internasionale Wetenskaplike en Tegniese Advieskomitee vir die direkteur van UNAIDS insluit.

Tanser was ook in 1998 'n stigsterlid van die Afrika-sentrum vir Populasiegesondheid (nou die Afrika-instituut vir gesondheidsnavorsing) en was verantwoordelik vir die bou van Afrika se eerste omvattende populasiegebaseerde geografiese inligtingstelsel (GIS) by die sentrum.

Die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad het hom in 2017 met die Raad se goue medalje – 'n toekenning vir wetenskaplike prestasie – ter erkenning van sy uitnemende navorsing vereer. Die Koninklike Geografiese Vereniging het in 2019 aan Tanser die Back-toekenning gegee vir “die onderneming van toegepaste navorsing wat 'n uitmuntende bydrae tot die ontwikkeling van nasionale en internasionale openbare beleid gelewer het".

Tanser het al meer as 250 artikels in vooraanstaande internasionale vaktydskrifte laat verskyn en sy navorsing is al meer as 34 000 keer aangehaal.​