Sachs, 'n Suid-Afrikaanse veteraan-aktivis, skrywer en oudregter wat in die eerste Konstitusionele Hof van Suid-Afrika gedien het, het 'n inspirerende geleentheidstoespraak by die Sentrum vir Sosiale Geregtigheid se prestigeryke geleentheid gelewer. Hy is deur sy vrou Vanessa vergesel.
Die tema van Sachs se lesing was Social Justice and the Constitution: Is this the country we were fighting for? (“Sosiale geregtigheid en die Grondwet: Is dit die land waarvoor ons geveg het?"). Hy het ter beantwoording van die vraag die gehoor op 'n aangrypende reis geneem om hulle insig te gee in die aanbreek van demokrasie en die wordingsgeskiedenis van die Suid-Afrikaanse Grondwet.
Nadat die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, Sachs verwelkom en voorgestel het, het die oudregter herinneringe opgehaal oor die land se moeilike verlede en het hy 'n aangrypende prentjie geskets van die “verstandelike gimnastiek" wat hy as jong prokureur moes doen in sy stryd teen apartheid.
Sachs het sy ondervindinge gedeel van hoe hy as 17-jarige tiener-aktivis in hegtenis geneem is omdat hy teen die apartheidswette betoog het en in 1955 aan die geskiedkundige Kliptown-byeenkoms in Soweto deelgeneem het waar die Vryheidsmanifes aanvaar is. Hy het later 'n leidende rol in Zambië gespeel waar grondwetlike riglyne vir die eerste keer onder die leierskap van die voormalige ANC-president, Oliver Tambo, opgestel is.
Volgens Sachs is dit maklik om die vraag of die hedendaagse Suid-Afrika die land is waarvoor hy geveg het, te beantwoord. “Ja, dit is die land waarvoor ek geveg het. Maar, nee, dit is nie die samelewing waarvoor ons geveg het nie."
Sachs erken Suid-Afrika staar reuse-uitdagings soos die energiekrisis, werkloosheid, misdaad, korrupsie, geslagsgebaseerde geweld, wanfunksionele munisipaliteite en toenemende ongelykheid in die gesig. “Maar ons moenie die reusagtige vooruitgang vergeet wat Suid-Afrika die afgelope drie dekades op politieke vlak en ten opsigte van sosiale geregtigheid gemaak het nie," het hy gesê.
Suid-Afrika het die mees progressiewe grondwet in die wêreld omdat dit die uitvloeisel van 'n kollektiewe stryd en duurgekoopte vryhede was, het hy verduidelik. “Dit is nie deur prokureurs ontwerp nie; dit is deur mense opgestel wat vir hulle vryheid geveg het. Dit het voortgespruit uit die eise van mense wat onderdruk, gevange geneem en verban is omdat hulle uitdrukking gegee het aan hulle toekomsdroom."
Die gehoor het hartlik op Sachs se insigte gereageer en het met entoesiasme aan die vraag-en-antwoord-sessie deelgeneem. Die bekroonde joernalis Lukhanyo Calata het as programdirekteur hierdie deel van die program gefasiliteer.
Sachs het in antwoord op 'n vraag oor sy opofferings gesê hy beskou nie die beserings wat hy in 1988 in 'n sluipmoordpoging deur die apartheidsregering opgedoen het, as 'n opoffering nie. Hy het beklemtoon dat selfs die verlies van 'n arm en sy linkeroog in die motorbomaanval nie vir hom 'n opoffering was in vergelyking met dít wat so baie swart mense in Suid-Afrika verloor het nie. “Baie swart mense het hulle lewens verloor, maar daar is geen sigbare littekens nie. Ek kry baie simpatie omdat my trauma sigbaar is. Maar ek het nie opofferings gemaak nie. Indien ek saam met die stroom van voordele van die wit samelewing gedurende apartheid sou gegaan het om 'n ryk prokureur te word, sou ek my siel, my hart, die betekenis van my bestaan opgeoffer het. Die enigste manier waarop ek 'n vry mens in my land kon wees, was om by die struggle aan te sluit wat deur Afrikane gelei is."
Sachs het homself as 'n “ongeneeslike" optimis beskryf. “Ek het geglo vryheid was moontlik, selfs toe dit onmoontlik gelyk het. Ek was nie alleen nie. Ander – soos Oliver Tambo en Ruth Mompati en Aziz Pahad en Joe Slovo en so baie ander – het hierdie droom gedeel. Ons het almal geglo ons kon 'n demokratiese Suid-Afrika bewerkstellig, en ons het dit ondanks alles reggekry," het hy gesê en bygevoeg “daar is nie meer baie van ons oor nie, ons moet ons stories vertel …"
Sachs sê hy bly hoopvol ondanks al die teleurstellings van onlangse gebeure in Suid-Afrika. “Maar ek word wel kwaad, veral wanneer ek sien hoe mense saam met wie ek geveg het – mense wat eens op 'n tyd dapper was en wat ek bewonder het – skelm geword het. Mag het op die een of ander manier iets aan hulle gedoen. Dit maak seer. Dit maak regtig seer," het hy bely.
Sachs het ook erken dit was vir hom pynlik om die Zondo-kommissie se verslag oor staatskaping en korrupsie te lees. “En tog sê 'n deel van my 'wow!' Ons regering het die kommissie aangestel. Ons hoofregter was deel van die kommissie. Dit was nie net 'n paar dapper joernaliste wat na vore gekom het nie. Ons mense het op onthulling aangedring en het hulle stemme oor geregtigheid verhef. Daarom is die inligting oor die korrupsie wat so seer maak, ook op 'n manier 'n bron van plesier. Die verrotting word nie weggesteek nie. Ons weet wat verkeerd is. In daardie sin werk ons instellings, want ons het nog steeds toegang tot die waarheid."
Volgens Sachs is die feit dat Suid-Afrika sedert 1994 reeds ses vrye en regverdige verkiesings gehou het, 'n teken dat ons konstitusionele demokrasie werk. “Wanneer politici uitgestem word, aanvaar hulle dit. Ons presidente bly nie lewenslank in die amp nie," het hy opgemerk.
Hy glo ook daar is rede tot optimisme dat ons Konstitusionele Hof 'n baken van geregtigheid is en dat Suid-Afrika 'n lewendige mediakorps het wat vry is om die regering te kritiseer. Hy het op 'n ligter noot bygevoeg dit is 'n uitstekende teken dat een die bedrywe wat die vinnigste in Suid-Afrika groei, skerpsketsery (stand-up comedy) is. “Dit sê iets oor ons land. Ons kan vir onsself lag en ons kan gesonde selfondersoek doen. Ons is vry."
Sachs het sy optimisme oor Suid-Afrika beskryf as dieselfde soort vreugde wat hy ná die motorbomaanval ervaar het toe hy besef het hy het “net" 'n arm verloor. “Ek was daarvan oortuig dat namate ek herstel, my land ook sou herstel. Ek het vandag dieselfde gevoel." Hy het die gehoor daaraan herinner dat Suid-Afrika 'n wonderlike land is met ongelooflike mense, 'n briljante grondwet en al die meganismes om dit te laat slaag. “Ons sal ons pad deur die huidige probleme vind," het hy gesê en 'n beroep om jongmense gedoen om by die stryd aan te sluit vir 'n beter en regverdiger samelewing.
Die gehoor, insluitende verskeie US-ampsdraers, diplomate, asook die opperhoof van die Koninklike Bafokeng, dr Koketso Rakhudu, die Wes-Kaapse minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sharna Fernandez, en die verteenwoordiger van die Stellenbosse burgemeester, raadslid Patricia Crawley, het Sachs staande toegejuig.
Prof Thuli Madonsela, Direkteur: Sentrum vir Sosiale Geregtigheid by die US, het in haar bedanking en slotwoord die luim perfek saamgevat toe sy gesê het sy is sprakeloos. “Ek kan nie die woorde vind om my ontsaglike eer en dankbaarheid vir u ongelooflike lesing vandag uit te druk nie; vir wat u regdeur u lewe vir ons land gedoen het en net vir wie u is nie." Madonsela het Sachs se voorstel gesteun dat daar nie vir die reg gewag moet word om positiewe verandering mee te bring nie, en sy het die jongmense in die gehoor geloof vir hulle deelname aan sake wat maatskaplike geregtigheid steun. “Niemand hier vanaand het die gemors geskep waarteen die 17-jarige Albie Sachs jare gelede geveg het nie. Maar julle moet met my saamstem dat dit nou ons gemors is en ons moet dit regmaak," het sy gesê.
Die vierde Jaarlikse Lesing oor Maatskaplike Geregtigheid is aangebied deur die US se Sentrum vir Sosiale Geregtigheid in vennootskap met Cluver Markotter Prokureurs op Stellenbosch.