Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ainsley Moos se lewe by aandoenlike gedenkdiens gevier
Outeur: Corporate Communication and Marketing (Hannelie Booyens) | Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 17/02/2023

Honderde vriende, kollegas en familie het vanmiddag (Vrydag 17 Februarie 2023) hulde gebring aan Ainsley Moos, die voorsitter van die Universiteit Stellenbosch Raad wat onverwags op 31 Januarie oorlede is. Die gedenkdiens is in die Kruiskerk gehou.

Dr Ernest Messina, 'n vriend en mentor van Moos, het in sy verwelkoming gesê Moos se skielike afsterwe was 'n enorme skok vir almal. Hy het almal teenwoordig gevra om uit te reik na mekaar en om hulle tot Moos se nalatenskap en “buitengewone talent" te verbind.

'n Hele aantal sprekers, insluitende oudregter Edwin Cameron (die US se Kanselier) en prof Nico Koopman (Viserektor), het na vore gegaan om hulle herinneringe van Moos te deel. Hulle het veral sy ongelooflike werksetiek, goedhartigheid en toegewydheid aan sy werk en gesin beklemtoon.

Dr Johan van Zyl, wat saam met Moos by African Rainbow Capital gewerk het, het hom vir sy bydrae tot Suid-Afrika geloof en hom as 'n beginselvaste en visionêre leier en gesinsman beskryf wat hard gewerk en in Suid-Afrika geglo het. “Hy was altyd gewillig om daardie ekstra myl te loop. Ainsley se woord was sy eer. Hy was verbind tot die waarheid en feite. Ons het so baie by Ainsley geleer. Ons gaan hom as 'n span baie mis," het Van Zyl gesê.

'n Familievriend, Patrick Wagenaar, het hulde gebring aan Moos se lojaliteit en liefde vir sy gesin. Moos het selfs as kind uitgeblink en elke geleentheid wat hom voorgedoen het, aangegryp. “Ainsley was lief vir boeke; hy was kunstig en altyd leergierig. Hy het verstommend vinnig sukses in sy loopbaan behaal," het Wagenaar gesê.

Moos se vrou, Taryn Cohn, is deur familie ondersteun toe sy hartroerende staaltjies vertel het. “Ons het nie ewig gekry nie, maar ons het 'n wonderlike liefdesverhaal en 'n pragtige kind saam gehad. Ons het uitgesien na 'n wonderlike lewe saam … Ainsley was ons anker," het sy gesê. Sy het haar diepe waardering uitgespreek vir Moos se toegewydheid tot vaderskap en oor hoe verbonde hy tot ouerskap was. Sy het hom as 'n “ware heer" en 'n “nederige persoon" beskryf wat altyd 'n geleentheid en die positiewe in alles raakgesien het. “Hy het groot vreugde uit sy werk geput en hy is opreg bewonder." Cohn het gesê sy hoop om haar seun te leer hoe wonderlik sy pa was. Sy het ook hulle dankbaarheid teenoor die Universiteitsgemeenskap en die breër publiek uitgespreek vir die geweldige ondersteuning wat die gesin ontvang het.  

Die Universiteit Stellenbosch het nie net 'n uiters begaafde Raadsvoorsitter verloor nie, maar ook 'n gewaardeerde en lojale vriend van die gemeenskap. Dit was waaraan die Rektor en Visekanselier van die US, almal teenwoordig herinner het.

De Villiers het Moos se impak op sy medewerkers as 'n blywende teenwoordigheid beskryf. “Hy het altyd met sy stil, weldeurdagte en treffende logika daardie blywende uitwerking gehad in die manier waarop hy ons na oplossings gelei het, of ten minste op nuwe en ander perspektiewe gewys oor sake wat voor die US Raad gedien het. Hy was nie iemand vir konfrontasie nie, maar hy het nooit weggeskram van robuuste gesprekvoering nie en het die vrye uitdrukking van gedagtes aangemoedig."

De Villiers het ook boodskappe voorgelees wat kollegas in 'n gedenkboek neergepen het. “Die uitwerking wat Ainsley op ons studente en personeel gehad het, is 'n aanduiding van die eienskappe van hierdie man wat ons instelling nog so baie kon bied," het De Villiers gesê.

 “Ons onthou vandag 'n groot gees wie se nagedagtenis nie vergeet sal word nie en wie se lewe ons vier en eer," het De Villiers gesê.

Moos het sedert 2014 in die US Raad gedien en was onder andere voorsitter van die Raad se vergoedingskomitee en 'n lid van die uitvoerende komitee en die menslikehulpbronnekomitee. Voordat hy in 2021 die amp van Raadsvoorsitter opgeneem het, het Moos vanaf 2018 as ondervoorsitter gedien.

Die diens is afgesluit met 'n roerende uitvoering van verskeie gewyde liedere deur die Universiteit Stellenbosch se koor. ​