Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Entoesiasme vir Geregtelike Geneeskunde die dryfveer van nuwe hoof
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie - Edna Ellman
Gepubliseer: 16/02/2023

Ingesteldheid is alles. 'n Goeie kop op jou skouers kan berge versit, en as die regte ingesteldheid die dryfkrag agter 'n hele span is, is prestasie moeiteloos en sukses onvermydelik.

Hierdie woorde van dr Janette Verster, wat sedert Junie 2022 hoof van die Afdeling Geregtelike Geneeskunde by die Departement Patologie binne die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe is, kom nadat sy 17 maande lank aan die stuur was as waarnemende hoof tydens 'n uitdagende tydperk.

“My span het groot trauma beleef ná die afsterwe van ons kollega en leier, professor Johan Dempers, in Januarie 2021. Ons het vir 'n lang tydperk net twee gekwalifiseerde mediese spesialiste gehad, en die hele span het koppe en hande bymekaar gesit, en nie net die voortsetting van ons intense nagraadse opleidingsprogram, sowel as ons voorgraadse program verseker nie, maar ook uitgebrei op die bestaande akademiese program en mekaar voortdurend gemotiveer met nuwe idees oor hoe om die diens verder te verbeter deur die gebruik van beelding en tegnologie. Ek is trots op wat die span die afgelope twee jaar ondanks onpeilbare swaarkry bereik het."

Vir Dr Verster, wat in Kuilsrivier in die Wes-Kaap grootgeword het, was dokterword 'n droom wat reeds as jong kind begin het.

“Ek wou tydens my skoolloopbaan 'n pediater word. As voorgraadse student het ek uiteindelik Geregtelike Geneeskunde my keusevak gemaak. My eksterne studieleier gedurende my elektiewe studies was wyle professor Dempers, wat 'n geweldige passie vir hierdie werksrigting en die vermoë gehad het om ander te begeester, en so is my diepgaande belangstelling in die vakgebied van Geregtelike Geneeskunde gebore," sê sy. Professor Dempers, 'n gerespekteerde patoloog en die voormalige hoof van die afdeling, het 'n noodsaaklike rol gespeel in die verskaffing van bewyse in hoëprofielsake, is dood ná 'n stryd met Covid-19.

“Voordat ek in die vakgebied gewerk het, was ek byna daagliks by neonatale resussitasie betrokke; dit, tesame met my liefde vir pediatrie in die algemeen, het uitgeloop op 'n diep belangstelling in pediatriese forensiese patologie, wat een van my gunsteling onderwerpe in my werksterrein bly."

Verster sê sy het ook 'n groot belangstelling in forensiese beelding en radiologie. “Ek het ses maande se onbetaalde verlof in 2018 geneem en by die Instituut vir Regsgeneeskunde aan die Universiteit van Zürich in Switserland gewerk, waar ek uitsluitlik nadoodse rekenaartomografie (PMCT) skanderings interpreteer en oor verslag gedoen het, en 'n Sertifikaat van Gevorderde Studie (CAS) (Forensiese Beelding en Virtopsie) aan die universiteit verwerf het – ek is nie bewus van enige soortgelyke kursusse of kwalifikasies in Suid-Afrika nie."

Verster het in 2005 haar MBChB-graad aan die Universiteit Stellenbosch voltooi, gevolg deur nagraadse studies tot 2012 en het in 2016 by die universiteit begin werk. Haar pligte as afdelingshoof sluit die bestuur van begrotings, aanstellings, die operasionele aangeleenthede van die afdeling en administratiewe pligte in. As kliniese bestuurder hou sy toesig oor die mediese spesialiste in die eenheid, nagraadse studente wat spesialiseer in Forensiese Patologie, die akademiese program van die afdeling, navorsing binne die afdeling en opleiding van voorgraadse mediese studente.

Verster se korttermynplanne sluit in toenemende doeltreffendheid van dienslewering, internasionale samewerking, deur toepassing van innoverende tegnologiese vooruitgang en gevorderde beelding en die vestiging van 'n sterk navorsingskultuur en liefde vir akademiese literatuur onder personeel.

Op langer termyn beoog sy die uitbreiding van navorsingsbetrokkenheid en die uitbreiding van die departement se publikasierekord. “Geregtelike patologie is 'n uiters onder-nagevorsde vakgebied in Suid-Afrika, en ek is daartoe verbind om beduidende bydraes te maak tot die ontwikkeling van relevante navorsing in geregtelike geneeskunde, veral in nadoodse beelding. Ek het groot belangstelling in voorgraadse onderrig en die voortdurende ontwikkeling van onderrigvaardighede wat ooreenstem met huidige nasionale en internasionale tendense.

“Ek sal beslis betrokke wil bly by ingewikkelde pediatriese gevalle en die praktiese opleiding van nagraadse studente met betrekking tot die bestuur van komplekse pediatriese gevalle.

“Ek het noukeurige in-situ disseksietegnieke met babas bemeester en is veral vertroud met disseksie van babas se kardiovaskulêre stelsel en gevalle van aangebore hartmisvorming en pediatriese opehartchirurgie."

As voorsitter van die kindersterftehersieningsproses by Tygerberg se Forensiese Patologie Dienste in die Wes-Kaap, wat sy in 2017 begin het, beoog sy om 'n meer gespesialiseerde sterftehersieningsproses met skielike-suigelingsterftesindroom verder te ontwikkel sodra die kindersterftehersieningsproses, wat kinders vanaf geboorte tot 18 jaar insluit, goed op dreef is. 

“Hierdie sterftehersieningsprosesse moet uitgebrei word om vrouemoord/geslagsgebaseerde geweld en trauma-sterftehersieningspaneelbesprekings in te sluit om die gesondheidsverwysingstelsel te verbeter, gesondheidstelselmislukkings te bekamp, die regstelsel by te staan en terugvoer aan die groter gemeenskap te gee ten einde gemeenskapstrukture te verbeter of toekomstige trauma en noodlottige ongelukke so ver as menslik moontlik te voorkom."

Verster geniet skilder, voëlkyk en bosveldvakansies in haar vrye tyd en studeer tans Duits om met internasionale betrekkinge te help. “Deur realistiese sketse en skilderye het ek my vermoë om gedetailleerde waarnemings te maak aansienlik verbeter. Ek het dit veral nuttig gevind in my werk as forensiese patoloog."

Gevra oor wat haar dryf, sê sy “die soeke na nuwe uitdagings, deurlopende ontwikkeling en prestasie, sukses – nie noodwendig my eie nie, maar om ander gemotiveerd te hou en te sien hoe hulle uitblink."

 

​EKSTRA BRON: https://www.news24.com/news24/southafrica/news/respected-pathologist-who-helped-put-away-henri-van-breda-mortimer-saunders-succumbs-to-covid-19-20210127