Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wanneer klimaatsverandering jou dwing om die enigste (en duurste) opsie te kies
Outeur: Wiida Fourie-Basson (Faculty of Science)
Gepubliseer: 15/02/2023

Ons pogings om geleidelik by klimaatsverandering aan te pas, kan ons dalk by 'n kantelpunt bring met slegs een keuse: om óf dinge op 'n totaal ander manier aan te pak, óf niks.

Hierdie sogenaamde kantelpunte in aanpassing, gaan egter baie kapitaal- sowel as tegnologie-intensief wees, waarsku prof Guy Midgley, tussentydse direkteur van die Skool vir Klimaatstudies (SKS) by die Universiteit Stellenbosch. Hy is die hoofouteur van 'n onlangse artikel, “Potential tipping points for climate change adaptation costs", wat gepubliseer is in die vaktydskrif Climate and Development. Die ander outeurs is prof Arthur Chapman, ook van die SKS, en Julio Araujo van SouthSouthNorth, 'n organisasie sonder winsbejag wat in die veld van klimaatsveranderingveerkragtigheid in Afrika werk.  

Volgens prof Midgley is die literatuur geneig om te fokus op laerisiko aanpassingsresponse, meestal as gevolg van hoë vlakke van onsekerheid oor die impak van kimaatsverandering.  

Afrika se aanpassingskapasiteit word egter alrééds as beperk beskou. In die Interregeringspaneel oor klimaatsverandering (IPCC) se laaste verslag oor Afrika, is die oorskreiding van aanpassingsperke een van die kritiese risiko's wat Afrikalande in die gesig staar.

In die navorsingsartikel word drie fases van menslike aanpassings by 'n veranderende klimaat geïdentifiseer. Eerstens, in die “hanteringsaanpassingsfase", is die respons goedkoop, grootliks reaktief, en behels laekosteveredeling van bestaande tegnologieë.

Sodra hierdie hanteringsmeganismes nie meer effektief is nie, is daar 'n oorgang na meer doelbewuste pogings om alternatiewe tegnologieë of praktyke te vind, wat gepaardgaan met 'n toename in koste. Die wesenlike eienskappe van die sektor word egter steeds behou.

Die derde fase "steun sterk op tegnologie en/of is kapitaalintensief" en word gekenmerk deur nuwe bestuurstegnieke -praktyke wat die wesenlike karakter van die betrokke sektor transformeer, en gaan dikwels selfs gepaard met 'n verdere skerp styging in koste.  

Wat beteken dit vir voedselproduksie en 'n natuurgebaseerde bestaan in Afrika?

Volgens die outeurs lê een van Afrika se belangrikste kwesbaarhede in die sensitiwitieit van landbouproduksie vir droogte en hittestres, en die verband tussen oesmislukkings en natuurgebaseerde bestaan.

Dit beteken dat baie gemeenskappe op inheemse kennissisteme en plaaslike kennis steun om by die impak van klimaatsverandering aan te pas, wat kenmerkend is van die laekoste aanpassingsresponsfase. In die geval van Rwanda, byvoorbeeld, is teeproduksie tans beperk tot hoogtes van tussen 1600 en 2100 meter bo seevlak, as gevolg van sy sensititiwiteit vir hittestres.

Verwarming van 1 graad Celsius sal hierdie gepaste hoogteband ongeveer 160 meter hoër verskuif. Teeproduksie word ook geraak deur reënvalwisselvalligheid – minder reën het 'n kleiner oes tot gevolg. Deur op hulle intieme kennis van die gebied en sy plantegroei staat te maak, kan plaaslike boere steeds aanpas deur op hierdie tekens staat te maak.

Aangesien toekomstige verwarming en groter reënvalveranderlikheid vir daardie streek voorspel word, gaan die aanpassingsresponse duurder word: soos om bome te plant wat skadu gee en teeplantasies fisies hoër op teen die helling te verskuif, of om skadunette en misting in te span. Wanneer bogenoemde maatreëls nie meer werk nie,  betree ons die derde en baie duurder fase, soos die die aanplantingsgebied wat fisies verskuif word.

In hierdie fase verloor die plaaslike boerekennis sy doeltreffendheid.  

Namate die inheemse kennissisteme begin misluk, sal dit volgens die outeurs selfs duurder tegnologiese oplossings verg om die probleem op te los: “Indien dít die geval is," skryf hulle, “staar Afrika-lande 'n aansienlike verlies aan waarde in die gesig, wat nie tans in ekonomiese terme oorweeg word nie – die verlies aan generasies se swaar verworwe inheemse plaaslike kennis".

Versterking van beleidmaking en beplanning in Afrika

Prof Midgley sê hulle hoop dat hulle identifisering van hierdie kantelpunte in aanpassingsbelegging, beleidmakers en beplanners sal help om beter begrip te hê van wat voorlê, en ook sal help om hulle standpunt te versterk tydens onderhandelinge oor die globale versagtingsdoelwitte.

“'n Fokus op die identifisering van aanpassingskostekantelpunte sal die onmiddellike waarde van navorsing oor klimaatsimpakte en aanpassings vir beleidmakers en beplanners verhoog, veral in ontwikkelende landstreke soos Afrika," sluit hulle af. 

Kontak science@sun.ac.za vir medianavrae.

Photo: Rwandan tea plantations around Nyungwe national park. Photo credit: ​​Ben Ayobi wikicommons​ - https://commons.wikimedia.org/wiki/File:Foggy-sunrise-rwanda.ngsversion.1474048474112.adapt.1900.1.jpg​