Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
DSKK en Maties vennote in eerste sosiale kohesie-musiekfees
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 12/02/2023

Die Universiteit Stellenbosch (US) het sy Verwelkomingsprogram vir nuwelinge afgesluit met 'n musiekfees daarop gefokus om sosiale kohesie deur diversiteit te bevorder, met die aanbieding van sy eerste Maties Connect-fees (oftewel die MC Fest) op Saterdag, 11 Februarie. Dié fees, wat deur die Departement van Sport, Kuns en Kultuur (DSKK), asook die Universiteit se Afdeling Studentesake (ASD) en Maties Connect befonds is, het plaaslike en internasionale musikante en platejoggies uit verskillende musiekgenres op een verhoog bymekaargebring.

“In 'n land waar sommige musiekgenres steeds geag word om slegs vir sekere rasse aanloklik te wees, wou die Afdeling Studentesake aan die Universiteit Stellenbosch 'n geleentheid skep waar ons al ons studente aan 'n diverse groep kunstenaars en musiekgenres kan blootstel en vir hulle wys dat daar eenheid selfs in diversiteit is. Musiek is 'n goeie manier om dít te doen," verduidelik mnr. Charl Davids, die Direkteur van die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling (SSVO) binne die ASD.

Davids, saam met ander ASD-personeellede binne die Sentrum vir Studentegemeenskappe (SSG), die Maties Connect-span onder leiding van Connect-koördineerder, me. Leoné Wilkinson, en die DSAC was die dryfvere wat die fees na die US gebring het. Maties Connect is 'n studentegedrewe, nie-winsgewende organisasie wat elke jaar fondse vir 'n voorafbepaalde stigting werf. Die organisasie is ook verantwoordelik vir die bestuur van Vensters, 'n gewilde Maties-geleentheid waartydens nuwelinge in koshuise en pendelaarstudentegemeenskappe (waarna daar voorheen verwys is as Privaat Studente-organisasies of PSO's) kort optredes aan studente, personeel en die publiek bied. Fondse wat vanjaar tydens Vensters ingesamel is, sal aan ASD en die #BridgetheGap-inisiatief geskenk word.

Vensters het die MC Fest voorafgegaan, met albei byeenkomste wat op die Welgevallen-hokkievelde in Stellenbosch gehou is. Kunstenaars soos Early B, Neon Dreams, ObvslySnowy, Simeon, Barnaschone, Mr Thea, Chef KD en Sun-El Musician het by die MC Fest opgetree.

“Om 16 verhoë oor die Stellenbosch-kampus heen te hê is duur en was net nie meer finansieel haalbaar nie. In plaas daarvan kon ons een meesterverhoog bou waar ons Vensters deur die dag en die MC Fest in die aand kon hê. Ons wil ook die veiligheid van ons studente verseker wanneer ons Vensters aanbied, en daarom is dit sinvol om dit op een plek te hê waar jy polisie- en sekuriteitsbeamptes en paramedici op bystand het om te help in 'n noodgeval," het Wilkinson gesê.

“Ons kon ook toegang tot die venue monitor aangesien studente en personeel kaartjies met hul studente- en personeelnommers moes bespreek. Beheerde toegangspunte het beteken dat sakke gekontroleer kon word as 'n bykomende maatreël om veiligheid te verseker, en deelnemers is verhinder om sterk drank na die ruimte te bring en alkohol te misbruik."

Newlands Spring Brewery Co. en SABSharp, die Suid-Afrikaanse Brouerye se uitkomsgebaseerde platform vir verantwoordelike drinkery, wat in 2021 bekendgestel is, het as vennote aanboord gekom om verantwoordelike drinkery by die fees te verseker, deur slegs bier met 'n lae alkoholkonsentrasie te verkoop. Daarbenewens is waterhidrasiestasies ook deur die SAB beskikbaar gestel en het studente toegang verkry tot hul aanlyn platform vir verantwoordelike drinkery. SAB het ook 'n reeks ander items geborg wat vir die fees benodig was.

Ander wat gehelp het om die koste van die MC Fest te dek sluit in Mia Mélange, Eikestad Winkelsentrum, en The Village Lounge & Café.

“Dis belangrik vir Maties Connect om sosiale kohesie onder ons studente te bou en ons weet dat studente meer interaksie met mekaar het wanneer hulle saamsnoer oor iets wat ook lekker is," verduidelik Wilkinson, wat saam met haar span ook verantwoordelikheid geneem het vir die beplanning en organisasie van die MC Fees.

“Ons het met studente geskakel om uit te vind watter kunstenaars hulle graag op die verhoog sou wou sien. Dit het beteken dat ons in baie studente se smaak kon voorsien. Studente het dus betrokke geraak by die bou van sosiale kohesie voor en tydens die geleentheid sonder om dit eens te besef, en dít is wat 'n mens wil doen – jy wil 'n ruimte skep waar dit natuurlik en op 'n onbewustelike vlak kan gebeur. Andersins kan hierdie dinge performatief word."

Die fees is ook gebruik as 'n “welkom terug vir seniors en 'n 'welkom by Maties' vir nuwelinge", onder die vaandel van die begin van 'n "Reënboogrevolusie".

Mnr. Vusithemba Ndima, die Direkteur-Generaal van die DSKK, het Saterdagaand die MC Fest bygewoon en al die nuwelinge, senior studente en personeel by die geleentheid verwelkom.

“As deel van die aansporing van die ganse samelewing, insluitend hoër onderwysinstellings, om 'n betekenisvolle rol te speel om sosiale kohesie te bevorder en ons land van die plaag van rassisme en ander maatskaplike euwels te bevry, is die departement tans besig met die proses om 'n maatskaplike ooreenkoms te ontwikkel vir sosiale kohesie en nasiebou. Die rasionaal vir dié maatskaplike kompak spruit uit die besef dat geen enkele sektor, insluitend die regering, eiehandig daarin kan slaag om die visie van 'n maatskaplik geïntegreerde en inklusiewe samelewing, te dryf nie," het Ndima verduidelik.

“Dit wil sê, vir Suid-Afrika om 'n maatskaplik geïntegreerde en inklusiewe samelewing te word, moet die verskillende sektore in die samelewing verbintenisse maak en mekaar aanspreeklik hou om sosiale kohesie en nasiebou in ons land te bevorder, en dus sal dit 'n ernstige fout wees indien hierdie konsert eenmalig sou wees, en nie opgevolg word nie deur 'n volwaardige program wat maatskaplike samehorigheid en nasiebou by hierdie instelling sal fasiliteer. Daarom doen ek 'n beroep op u om die nodige beleggings te maak in die gees van 'n maatskaplike ooreenkoms sodat hierdie instelling 'n skitterende voorbeeld van integrasie en insluiting in ons nasie kan word, waar almal gelyk behandel en verwelkom word.

“Aan die einde verlang ons almal na 'n land wat gekenmerk word deur meer maatskaplike interaksie, samewerking en solidariteit. Ons moet saamwerk om hierdie visie te verwesenlik en Suid-Afrika te bevorder."

Volgens Edwin Cleophas, Sekretaris-Generaal vir die Social Cohesion Advocates-program binne Kuns en Kultuur by DSKK, “was dit 'n maklike besluit vir die departement om met die Universiteit Stellenbosch saam te werk" vanweë DSKK se fokus op die dryf van diversiteit en sosiale kohesie in Suid-Afrika en die Universiteit se verbintenis tot transformasie.

“Universiteite is plekke waar jy 'n diverse groep mense bymekaarvoeg in 'n ruimte waar hulle 'gedwing' word om met mekaar saam te leef. Voordat jy universiteit toe gekom het, kon jy, as jy wou, enige skool bywoon en 'n skool gekies het wat meer eksklusief is. Wanneer jy egter universiteit betree, moet jy leer om met mense van verskillende agtergronde saam te leef, wat verskillende tale praat, verskillende kulture het, en aan wie jy dalk nie blootgestel is nie.

“Die Department is gefokus op nasiebou en sosiale kohesie en glo dat jy nie 'n beter Suid-Afrika vir almal kan bou as jy dit onafhanklik doen nie. Universiteite bied 'n ruimte vir ons om te fokus op nasiebou en sosiale kohesie tussen diverse groepe, en veral nuwelinge," het Cleophas gesê.

Selfs met die US wat onder die openbare soeklig geplaas is weens kommer wat geopper is oor die vordering van transformasie in die Khampepe-kommissie se verslag van verlede jaar, glo Cleophas dit is die perfekte instelling is vir DSKK om mee saam te werk om maatskaplike samehorigheid onder jong Suid-Afrikaners te bou.

“Ons ken die US se geskiedenis, en ons weet dat dit die geboorteplek van apartheid is. Dit is 'n swaar etiket om te dra, en dit is tyd dat ons daardie etiket hanteer en dit bespreek om daar verby te beweeg. Die Minister sien dit nie as 'n eenmalige verbintenis nie, maar die begin van aaneenlopende skakeling met personeel en studente by die Universiteit en ander belanghebbendes binne en buite die US. Al die betrokke vennote is opgewonde oor die moontlikhede van hierdie vennootskap.

“Die Universiteit het gesê hy is ernstig oor transformasie, so nou moet ons skouer aan die wiel sit en doelbewus wees om transformasie teweeg te bring. Die Universiteit is aanboord, en die regering is hier om die Universiteit te ondersteun sodat elke individu, ongeag agtergrond, geloof, inkomstevlak of taal, kan voel dat hulle hier hoort."

Die fees word ook beskou as 'n geleentheid vir “personeel om die modelle vir studente te wees wat vir hulle wys wat diversiteit beteken". Dit is belangrik, het Davids gesê, aangesien een van die “klagtes wat gereeld van studente gehoor word, is dat wanneer geleenthede, byvoorbeeld Huisdans, plaasvind, net een genre van musiek gespeel word".

“Dit veroorsaak onnodige rasseverdeling en konflik," het hy gesê.

“Deur 'n geleentheid soos hierdie aan te bied, wil ons die toonbeeld wees van diversiteit en inklusiwiteit om aan ons studente te wys dat, selfs al is ons verskillend, ons steeds dieselfde geleentheid kan bywoon en die musiek waarvan ons hou, kan geniet, terwyl daar voorsiening gemaak word vir so 'n wye gehoor as moontlik. As ons, as personeel, nie die toonbeeld vir ons studente is van wat dit beteken om divers en inklusief te wees nie, hoe kan ons verwag dat hulle moet weet hoe om dít prakties uit te voer?" het Davids bygevoeg.

Hy is veral opgewonde oor die vooruitsig dat van die wins van die fees na 'n noodfonds binne die DSAf sal gaan sodat diverse uitgawes – “soos 'n student wat 'n bril benodig om eksamen te kan skryf nadat hy beroof is en sy bril beskadig is" – deur die fonds gedelg kan word. Maties Connect het ook verseker dat die Afdeling Alumni-betrekkinge fondse kon insamel vir sy #BridgetheGap-inisiatief, wat studente bystaan om moontlike struikelblokke op hul pad na die voortsetting of voltooiing van hul studies to help oorkom. Individue wat kaartjies gekoop het, is ten tyde van aankoop die opsie gegee om aan dié fonds te skenk.

Cleophas het gesê hoewel 'n musiekfees die geleentheid vir mense van verskillende agtergronde bied om met mekaar te kommunikeer, berus die verantwoordelikheid van voortdurende transformasie kollektief en stewig op die skouers van US-personeel en -studente.

“Om die kultuur by 'n instelling te verander, het ons individue nodig om hulself kollektief te verbind tot die proses van transformasie, diversiteit, inklusiwiteit en 'n gevoel van behoort."

Nadat hy die ondersteuning wat die Universiteit aan sy studente bied aanskou en beleef het tydens sy besoeke aan die instelling, wou Cleophas graag hê studente – veral eerstejaars – moes weet dat die universiteit verskeie geleenthede vir hulle bied om toegang tot ondersteuning en hulpbronne te verkry om 'n sukses van hul studies te maak.

“Isolasie is een van die grootste redes hoekom mense universiteite verlaat, maar wat ek by die US gesien het, is dat wanneer jy sukkel, dit belangrik is om rond te vra vir die hulp wat vir jou beskikbaar is."