Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
PhD-studie help siggestremdes om wiskundige vergelykings, diagramme te lees
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 13/02/2023

Blinde of siggestremde mense kry toegang tot dokumente deur 'n skermleser te gebruik wat teks hardop lees of op 'n spesiale hardeware braille-toestel laat verskyn. 'n Groot gedeelte tegniese en wetenskaplike materiaal bly egter ontoeganklik vir hulle omdat wiskundige vergelykings en diagramme as beelde vertoon word en nie as teks wat 'n skermleser kan lees nie.

Só sê dr Rynhardt Kruger wat onlangs sy doktorsgraad in Elektroniese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US) behaal het. Kruger het vir sy PhD, getiteld Technical document accessibility (Toeganklikheid van tegniese dokumente), metodes ontwikkel wat dit vir blinde of siggestremde mense makliker kan maak om grafiese inligting in elektroniese dokumente wat nie teks is nie, te lees (sien video). Sy studieleiers was proff Thomas Niesler en Febe de Wet van die Navorsinggroep vir Digitale Seinverwerking in die US se Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese. Hy werk as 'n navorser en ontwikkelaar in stemrekenarisering by die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad.

 


  • Selfoongebruikers klik hier vir die video.

Kruger, wat self blind gebore is, sê hy weet hoe moeilik dit is om vergelykings en diagramme in wetenskaplike dokumente te lees. “Gedurende my studiejare was die materiaal in my handboeke nie altyd toeganklik nie. Ek het besef dat baie tegniese dokumente nie aan bestaande toeganklikheidstandaarde vir blinde of siggestremde mense voldoen nie." Kruger was egter ondanks dit die eerste blinde persoon om sy BSc-honneurs- en meestersgraad in rekenaarwetenskap by US te behaal. Hy het vir sy honneursprojek 'n program ontwikkel wat blinde musikante help om musieknotasie te bestudeer. Vir sy meestersgraad het Kruger metodes nagevors wat blinde persone toelaat om aanlyn toegang tot virtuele wêrelde te kry.RynhardtKruger_pic_orig.jpg

Hy is passievol daaroor om mense met gestremdhede se toegang te verbreed en sê dit is belangrik om voortdurend na assistiewe tegnologie te soek wat blinde mense of persone met 'n siggestremdheid kan gebruik om vergelykings en diagramme in wetenskaplike tekste te lees.

“Tans moet grafiese materiaal eers na 'n toeganklike formaat omgeskakel word voordat hulle dit kan lees. Die probleem is dat diagramme steeds net deur tekstuele beskrywings of tasbare diagramme toeganklik is en dit is duur om dit te produseer. Tekstuele beskrywings is dikwels onvoldoende om die ingewikkelde verhoudings tussen onderdele van diagramme soos lyne en reghoeke of die kontoere op 'n geografiese kaart te beskryf.

“Wanneer vergelykings in 'n toeganklike formaat beskikbaar is, moet hulle liniêr gelees word, want dit is hoe wiskunde in huidige toeganklike formate uitgedruk word. Dit verhinder blinde lesers of persone met siggestremdhede om toegang tot die visuele uitleg van die vergelyking te kry."

Volgens Kruger kan blinde of siggestremde lesers sy metodes gebruik om diagramme, geometriese vorms en vergelykings deur klanke en as gebare op 'n raakskerm of deur teksgebaseerde navigasie te verken.

“Die inhoud van diagramme word aan lesers as 'n spesiale vorm van klank gespeel waarvandaan hulle die inhoud wat verken word, kan interpreteer. In die geval van 'n afwaartse lyn van bo links na onder regs op die skerm sal die gevolglike klank 'n klank wees wat afneem in toonhoogte," verduidelik hy.

“Ek het twee bewegings uitgewerk wat blinde of siggestremde mense kan gebruik om inhoud op 'n raakskerm te verken. Wanneer een vinger oor die skerm getrek word, word die inhoud direk onder die vinger in 'n klank omskep. Wanneer twee vingers oor die skerm getrek word, tree die lyn tussen die twee vingers op as 'n skandeerder en word alle inhoud wat deur daardie lyn geraak word, 'n klank."

Kruger sê 'n vergelyking word aan lesers oorgedra deur die elemente van die vergelyking as “kamers waardeur hulle kan stap" voor te stel. “Die rigtings tussen twee kamers weerspieël die visuele uitleg van die vergelyking sodat die leser byvoorbeeld regs moet beweeg om 'n element te besoek wat visueel regs van die element geleë is waar die gebruiker tans geplaas is."

Hy wys daarop dat die formaat van die vergelykings wat in sy navorsingstudie gebruik is, soortgelyk is aan ontoeganklik vergelykings wat lesers moontlik in gepubliseerde materiaal mag teëkom.

Kruger benadruk die belangrikheid van sy navorsingstudie en sê dit toon dat blinde of siggestremde lesers in staat is om die basiese onderdele van 'n diagram te kan identifiseer en voorheen ontoeganklike vergelykings kan verken deur sy benadering te gebruik.

“My metodes stel blinde of siggestremde lesers in staat om direk toegang tot grafiese materiaal te kry en vergelykings te lees en diagramme te verken deur net ʼn tablet te gebruik, eerder as om vir duur hardeware of omskakelingsdienste te moet betaal.

“Hierdie metodes sal mense help om 'n idee te kry van 'n diagram se vorm waar die vorm self belangrik is (soos byvoorbeeld 'n voorheen onbekende geometriese vorm), en om toegang te kry tot materiaal wat reeds gepubliseer is en wat geskep is sonder om toeganklikheidstandaarde in ag te neem.

Kruger sê hy wil graag hê dat sy metodes in 'n boekleestoepassing ingebou word om lesers in staat te stel om diagramme en vergelykings direk in boeke te bestudeer.

  • Hooffoto deur Gerd Altmann van Pixabay. Foto 1: Dr Rynhardt Kruger​