Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuweling-Maties het groot impak
Outeur: Corporate Communication and Marketing (Hannelie Booyens) | Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 10/02/2023

​Die saal by die Universiteit Stellenbosch (US) se Academia-koshuis is Donderdag in 'n baie doeltreffende toebroodjie-fabriek omskep toe twee spanne onder die wakende oog van die primaria van Academia, Katey Wijnburg, meegeding het om te sien wie die meeste toebroodjies ten bate van 'n goeie doel kan voorberei. Danksy die nuwelingstudente se poging is altesame 750 grondboontjiebotter-en-konfyt-toebroodjies aan die rampeenheid van die Stellenbosch Munisipaliteit geskenk as deel van die Universiteit se jaarlikse Sosiale Impak-gemeenskapsoggend.

Volgens Wijnberg was daar geen tekort aan entoesiasme vir die projek onder die nuwelinge nie. “Almal was opgewek en gretig om 'n bydrae te lewer. Ons hoofdoel was om sukkelende gemeenskappe te help. So onmoet ons ook mense wat ons nie andersins sou leer ken nie en die veldtog skep bewustheid oor hoe 'n klein daad van welwillendheid 'n groot impak kan hê," het Wijnberg gesê. Studente van Academia het ook skenkings aan die Stellenbosse Hospieswinkel gedoen en studente het hulle skeppende vermoëns aangewend om klein matjies uit plastieksakke ten bate van Maties Paw te vleg.

Studente van Huis Visser en Heemstede het na die Dierewelsynsvereniging van Stellenbosch uitgereik waar hulle 'n paar honde baie gelukkig gemaak het deur met hulle te gaan stap. Koshuise soos Wilgenhof en Silene PSO het op hulle beurt hulle kragte ten bate van 'n ekologiese saak aangewend toe hulle die Helderberg Oseaanbewustheidsbeweging gehelp het om die strand skoon te maak.

Die gees van welwillendheid en kameraadskap was regoor die dorp sigbaar met meer as 5 000 studente wat by verskeie organisasies, opvoedkundige instellings en inisiatiewe soos Rise Against Hunger, Eco-Sistas, Thuma Mina, die Stellenbosse Nagskuiling en Ingenieurs sonder Grense Borders vrywillige werk gedoen het. Hierdie pogings om 'n sosiale impak te hê sal reg deur die jaar voortgaan. Dit is daarop gemik om alle nuwelingstudente aan gemeenskapsontwikkelingsprojekte bekend te stel om voort te bou op die kultuur van die versterking van sosiale impak by die US.

Die veldtog word deur die Afdeling vir Sosiale Impak aangebied in samewerking met die Sentrum vir Studentegemeenskappe wat in die Afdeling vir Studentesake aan die US gesetel is.