Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US verloor gewaardeerde en lojale vriend
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 01/02/2023

“Nie net het die Universiteit 'n uiters knap raadsvoorsitter verloor nie, maar 'n besonderse gewaardeerde en lojale vriend van die Universiteit." 

So sê prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US). Die US het laat  gisteraand die nuus verneem dat mnr Ainsley Moos, Voorsitter van die US-Raad en passievolle oud-Matie, gister (31 Januarie 2023) oorlede is.  

“Dit is uiteraard 'n geweldige skok vir die universiteitsgemeenskap en dit kom, om die minste te sê, in 'n tyd wat die Universiteit swaar geleun het op sy bestuurskundigheid én sy bewese ervaring as kommunikasiespesialis, maar ook wat betref sy vaardighede as bestuurder van belanghebberverhoudinge in die korporatiewe wêreld. Op 'n persoonlike vlak was sy ondersteuning aan my inspirerend. Matieland het inderdaad 'n groot vriend verloor. In die besonder dink ons in hierdie hartseer tyd aan sy familie en geliefdes," sê prof De Villiers.   

"Ainsley was passievol oor die Universiteit Stellenbosch en oor die rol wat die Universiteit, sy personeel en studente nasionaal, maar ook op die globale verhoog moet speel en hy het hard gewerk om hierdie visie te deel," het dr Nicky Newton-King, Ondervoorsitter van die Raad, gesê. “Sy nederigheid en kalm leierskap was die Raad tot groot voordeel soos was dit die afgelope jaar 'n reeks ernstige uitdagings hanteer het. Die Universiteit was baie gelukkig om Ainsley op hierdie kritiese tyd in sy geskiedenis onder sy leiers te kon reken." 

Mnr Moos was 'n lid van die uitvoerende span van die finansiële dienstemaatskappy African Rainbow Capital (ARC).  

Hy dien reeds sedert 2014 in die Raad en het onder meer opgetree as voorsitter van die Vergoedingskomitee van die Raad en as lid van die Uitvoerende Komitee en Menslike Hulpbronnekomitee. Hy is in 2018 as ondervoorsitter aangewys en het die voorsitterstoel op 3 Desember 2021 ingeneem. 

Mnr Moos is 'n US-alumnus wat die grade BA, BPhil (Joernalistiek) en 'n MBA aan die Universiteit verwerf het. Hy het ook leierskapsprogramme by GIBS, Wits en Harvard voltooi.  

  • Die US Raad het ʼn toesighoudende verantwoordelikheid vir akademiese en bedryfsake, sowel as institusionele beleid en strategie by die instelling.  ​