Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kom ons voer die goedheid verder!
Outeur: Development & Alumni Relations
Gepubliseer: 20/12/2022

Vir die 28-jarige Matie-alumnus Jazz Rampen het die ondersteuning van die Universiteit Stellenbosch se Bridge the Gap‑ (BTG‑)veldtog beteken dat hy sy deel kon doen om tot 'n beter toekoms vir talentvolle jong Matie-studente by te dra.

“Persoonlik voel ek sterk dat alle mense gelyke toegang tot opvoeding moet hê, daarom was ek baie bly om my skenking te maak," sê hy.

BTG is in 2021 van stapel gestuur en nooi alumni, die studentegemeenskap, personeel, ouers, en vriende van die Universiteit om studente te ondersteun om die finansiële struikelblokke te oorkom wat hul pad na sukses versper. Die doel van die veldtog is om die gaping tussen talent en finansiële behoefte te verklein en om 'n tasbare verskil in studente se lewe te maak.

Die Universiteit samel fondse in vir verskeie inisiatiewe onder die sambreel van BTG. Dit sluit in: #Move4Food en die Tygerberg Pantry‑projek om hongersnood onder studente te bekamp; #Action4Inclusion, #GradMe, Caught in the Middle, en #Zim4Zim om uitstaande studenteskuld uit te wis; #EndPeriodPoverty om sanitêre higiëneprodukte beskikbaar te stel aan studente wat dit nie kan bekostig nie; en #MatiesHaveDrive om bestuurdersopleiding te verskaf aan studente wat 'n bestuurslisensie benodig om werk te kry. Skenkers kan kies watter prioriteitsinisiatief hulle wil ondersteun, of dit nou 'n spesifieke inisiatief of die Fonds in die algemeen is.

Jazz, wat as 'n volhoubaarheidsleer‑konsultant vir 'n Nederlandse bank werk, sê deernis en mededeelsaamheid is waardes wat sy ouers aan hom oorgedra het.

“Terwyl ek grootgeword het, het ek gesien hoe my ouers vir ander omgee en hul tiendes aan die kerk gee. Noudat ek op 'n plek is waar ek kan gee en tot die samelewing kan bydra, voel ek dit is my plig om so te maak. Ek dra oor die algemeen by tot inisiatiewe waarby ek aanklank vind en in hierdie geval het die BTG-fonds aan al my vereistes voldoen."

Sy boodskap aan mede-alumni is om daardie sprong te maak en die goedheid verder te voer. “Ek was verras deur die verskeidenheid inisiatiewe binne die BTG-veldtog. Julle kan gerus gaan kyk, ek is seker daar sal 'n inisiatief wees wat ook julle hartsnare sal aanroer."