Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Teenkorrupsie-kampvegter van die US met prestigeryke internasionale toekenning vereer
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 14/12/2022

Prof Sope Williams-Elegbe, ʼn openbare verkrygingskundige en teenkorrupsie-kampvegter van die Departement Handelsreg aan die Universiteit Stellenbosch (US), het onlangs internasionale lof vir haar uitstaande werk in die stryd teen korrupsie ontvang.  

Williams-Elegbe, ook die Adjunk-direkteur van die Eenheid vir Verkrygingsreg in Afrika aan die US, is op 8 Desember 2022 vereer met die prestigeryke Sjeik Tamim Bin Hamad Al-Thani-Internasionale Uitnemendheidstoekenning vir Teenkorrupsie-navorsing en -onderrig. Die toekenningsplegtigheid is in Doha in Katar gehou.

Dié toekenning word deur die Verenigde Nasies (VN) se Kantoor vir Dwelms en Misdaad (UNODC) en die Staat van Katar verleen en erken individue en organisasies wat tot die wêreldwye veldtog teen korrupsie bygedra het en wat hulleself in die een of ander hoedanigheid aan die stryd teen korrupsie toegewy het.

Volgens die organiseerders het die toekenning ook ten doel om die sigbaarheid te verhoog van diegene wat korrupsie bestry en om regerings, akademiese instellings, die media en die burgerlike samelewing te motiveer om die beginsels van die VN se Konvensie teen Korrupsie (UNCAC) te aanvaar en te verstaan, en saam te werk om dit in werking te stel.

Williams-Elegbe sê sy is dankbaar vir die toekenning en voel geëer dat sy daarvoor oorweeg is.

“Ek is ook dankbaar vir die navorsingsgeleenthede wat die US aan my gebied het en wat so ʼn toekenning moontlik gemaak het. Dit is ʼn hoogtepunt in my loopbaan en ʼn aanduiding dat my akademiese werk waardevol vir ons gemeenskap is en ʼn impak het. Dit is ʼn sterk bevestiging van my werk en voel soos vergoeding vir die persoonlike en professionele opofferings wat ek gedurende my loopbaan gemaak het."

Williams-Elegbe is in 2019 deur UNODC as ʼn teenkorrupsie-kampvegter genomineer en in 2021 deur die Open Contracting Partnership. Sy is ʼn lid van Transparency International se werkgroep oor diskwalifikasie en uitsluiting, ʼn adjunkvoorsitter van die International Bar Association se diskwalifikasie- en uitsluitingsubkomitee, ʼn raadslid van die Stellenbosch-Pavocat-akademie en ʼn raadslid van die nieregeringsorganisasie Slave Free Trade, wat in Genève gesetel is.

Williams-Elegbe het omvattend oor teenkorrupsie en openbare verkrygingsreg gepubliseer en was ook tussen 2016 en 2019 by die opleiding van ondersoekers van die Kantoor van die Openbare Beskermer in Suid-Afrika betrokke. Sy het in 2019 haar eerste B-gradering (vir navorsers wat aansienlike internasionale erkenning van hul eweknieë geniet) van die Nasionale Navorsingstigting ontvang. In 2020 het sy die eerste nagraadse regsmodule oor korrupsie en openbare verkryging aan ʼn Afrika-universiteit ontwikkel.  

  • Foto: Prof Sope Williams-Elegbe by die toekenningsplegtigheid in Doha, Katar.