Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Thuli besoek die Verenigde Koninkryk
Outeur: Darryn Havenga
Gepubliseer: 14/12/2022

Dit is nie aldag dat die geleentheid hom voordoen om tyd in die geselskap van groot Suid-Afrikaners deur te bring nie, wat nie slegs op die oomblik groot goed vir ons land en sy mense vermag nie, maar wie se agtergrond ook bewys dat hulle gedurig besig is om ons land en die lewensomstandighede van al sy mense te probeer verbeter. Hierdie geleentheid het hom die afgelope September vir my en honderde mede-Suid-Afrikaners en lede van die Britse publiek voorgedoen, toe professor Thuli Madonsela by die Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge aangesluit het om verskeie kiesafdelings in die Verenigde Koninkryk (VK) te besoek.

In reaksie op ʼn vraag oor haar mening oor die moontlikheid van ʼn gesprek met ʼn VK-gemeenskap oor maatskaplike geregtigheid, het prof Thuli die volgende te sê gehad: “Ek sien daarna uit om in die VK te praat en met die VK-gemeenskap oor die onderwerp van maatskaplike geregtigheid in interaksie te tree. In hierdie vinnig-bewegende wêreld sukkel die meeste samelewings en politieke regimes, daardie wat op demokratiese beginsels en ideale gegrond is, ingesluit, om ʼn balans tussen individuele vryheid en maatskaplike geregtigheid te bereik en te handhaaf. Soos ons toenemende ekonomiese en maatskaplike druk ervaar, versprei ongelykheid regoor alle samelewings en so raak die behoefte aan maatskaplike geregtigheid groter. Ons moet dus saamstaan om oplossings te kry."

Dit is effens vreemd dat hierdie geleentheid, waaraan reeds drie jaar lank beplan is, met die heengaan van Haar Majesteit Koningin Elizabeth II en die kroning van Sy Majesteit Koning Charles III saamgeval het toe dit uiteindelik plaasvind.

Vir ons as Suid-Afrikaners, vir prof Thuli en ons alumni, was dit amper surrealisties dat twee van ons geleenthede oorvleuel het – wat ons tyd saam een van ware besinning gemaak het, te midde van hierdie historiese oomblikke in ʼn land wat nie aan ons behoort nie, maar een waarmee ons ʼn lang en ingewikkelde geskiedenis deel.

Ons tyd saam met prof Thuli het op die Saterdag begin, toe die Geheime Raad vir Prins Charles tot koning uitgeroep het – op daardie tydstip was prof Thuli en 20 van die universiteit se alumni besig om in Pall Mall af te stap, op pad na Green-park en dus verby die St James-paleis. Ons het nie geweet dat dit is waar die Geheime Raad en die toekomstige koning van die Verenigde Koninkryk sou wees nie. Wel, ons het dalk nie geweet nie, maar die tienduisende ander Londenaars en besoekers het – dus selfs op ons sosiale wandeling saam met prof Thuli om #Action4Inclusion en maatskaplike geregtigheid te bespreek, is ons per ongeluk meegevoer deur ʼn oomblik in die geskiedenis – ʼn aandoenlike herinnering vir almal op die wandeling aan die werk waarmee prof Thuli aan die Universiteit Stellenbosch besig is.

Later in Green-park , was daar geleentheid om saam te kom en te besin in die gedenktuin waar die publiek hulle eer aan die ontslape koningin, Haar Majesteit Koningin Elizabeth II, kon betoon – en weer eens sal hierdie oomblik in ons geheue vasgelê wees, vervleg met hierdie historiese oomblik van besinning, toe prof Thuli met ons gesels het oor wat maatskaplike geregtigheid is, waarom maatskaplike geregtigheid belangrik is en hoe wanbalanse maatskaplike ontbinding en ekonomiese probleme veroorsaak.

Ons kuier saam met prof Thuli in die VK is die Maandagoggend vroeg by die SA Kamer van Koophandel se sakeontbyt voortgesit, wat deur Freshfields Bruckhaus Deringer LLP aangebied is en waar prof Thuli met die fisiese en die aanlyn gehoor in interaksie getree het oor die onderwerp “Wat is Maatskaplike Geregtigheid?".

Prof Thuli is baie besig gehou, want kort ná die sakeontbyt was daar ʼn intieme middagete saam met skenkers van die Universiteit Stellenbosch en trustees van die US-stigting in die VK. Hier het die gesprek gefokus op die werk van die Sentrum vir Maatskaplike Geregtigheid, wat binnekort bekendgestel sal word.

Daardie aand het prof Thuli, as die gas van prof Adam Habib en die Skool vir Oosterse en Afrikastudies (SOAS), Universiteit van Londen, ʼn openbare lesing in die Brunei-galery aan gaste van die SOAS en ons alumni in Londen aangebied as deel van die Director's Lecture-reeks. Die lesing, “The Meaning of Social Justice", is goed ontvang en is ook aanlyn beskikbaar.

Ons tyd saam met prof Thuli het in Edinburg geëindig as gaste van die WS Society. Die Society of Writers to His Majesty's Signet (wat as die WS Society bekend staan) (Skotse liefdadigheidsorganisasie SC050987) is die 500-jaar-oue geïnkorporeerde liggaam van Skotse prokureurs. Dit is een van die oudste geïnkorporeerde liggame tot openbare voordeel in Skotland.

Dit was op hierdie dag en met hierdie geleentheid dat ons vir ʼn tweede keer deel was van ʼn historiese oomblik. Die koningin se liggaam het regoor ons hotel in die St Giles-katedraal in staatsie gelê. Met ons aankoms in Edinburg kon ons nie taxi's gebruik om by ons hotel uit te kom nie; dus het ons vier reisigers uit Stellenbosch die Koninklike Myl te voet aangepak (wat op sigself iets was om te aanskou in die lig van hoe steil daardie heuwel is). Ons het nie geweet dat Haar Majesteit se liggaam op daardie tydstip uit St Giles-katedraal sou beweeg, in die Koninklike Myl af, om na Londen vervoer te word nie. So bevind ons ons dus aan die begin en einde van hierdie toer midde in buitengewone historiese oomblikke.

Tussen al hierdie opwindende en besinnende gebeure deur, was die aand wat ons as gaste van die WS Society saam met prof Thuli deurgebring het, die ideale manier om ons toer saam met prof Thuli deur die VK af te sluit. Die bekroonde internasionale joernalis, Meera Selva, het tyd op die rusbank saam met prof Thuli bestee en gesels oor die rol van die media en die regsgemeenskap in die versekering van die beveiliging van demokrasie en maatskaplike geregtigheid. Wat regtig die toneel opgestel en die toon vir die aand aangegee het, was die groep jong regsinterns wat voor die aanvang van die geleentheid vraag-en-antwoord-tyd van gehalte saam met prof Thuli kon deurbring, en die verwelkomingstoespraak deur Lady Dorian, ʼn Skotse advokaat en regter wat sedert 2016 as adjunk-hoofregter (Lord Justice Clerk) dien. Sy is die eerste vrou om hierdie amp te beklee.

Ons het op hierdie VK-reis vertrek met die doel om uit te vind wat ons kan doen in ʼn wêreld waar die enorme gaping in die verspreiding van welvaart, inkomste en openbare voordele steeds groter raak en ʼn algemene tendens toon wat moreel onbillik, polities onwys, en ekonomiese ongesond is. Ongeregtighede op internasionale vlak het ook ʼn gelykmatige toename in ongelykheid tussen welvarende en arm lande opgelewer.

Hoe pak ons dus bestaande ongelykheid aan? Word die aard, legitimiteit en gebruik van mag volledig begryp deur diegene wat die voorreg het om politieke en administratiewe mag wêreldwyd uit te oefen? Wat verstaan hulle onder eiebelang, verligte eiebelang, gemeenskaplike belang en die algemene welsyn? Wat kan ons elkeen doen om ongelykhede in sake binne ons beheer, soos studenteskuld, te verminder? Dit is die vrae wat ons in hierdie paar dae aan al ons gehore regoor die VK gevra het.

ʼn Mens kan maar net geloof in die beste van die mensdom hê en vertrou dat elkeen van die 500 mense wat ons op hierdie toer raakgeloop en wat die boodskap gehoor het, hulle bes sal doen om ʼn wêreld van geregtigheid vir almal te help skep.