Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
''n Geleentheid om 'n verskil te maak'
Outeur: Development & Alumni Relations
Gepubliseer: 13/12/2022

Toe die Maties Frederik Schutyser en Rachel Spichiger​ die geleentheid raaksien om studente aan hul alma mater te ondersteun het hulle nie gehuiwer nie. Aan die einde van 2021 het hulle besluit om 'n skenking aan die Universiteit Stellenbosch se Bridge the Gap‑ (BTG‑)veldtog te maak.

BTG, wat in 2021 van stapel gestuur is, wil die struikelblokke uit die weg ruim wat Maties verhinder om 'n betekenisvolle studente-ervaring te hê en daardie gesogte graad te verwerf.

Die Universiteit samel fondse in vir verskeie inisiatiewe onder die sambreel van BTG. Dit sluit in: #Move4Food en die Tygerberg Pantry‑projek om hongersnood onder studente te bekamp; #Action4Inclusion, #GradMe, Caught in the Middle, en #Zim4Zim om uitstaande studenteskuld uit te wis; #EndPeriodPoverty om sanitêre higiëneprodukte beskikbaar te stel aan studente wat dit nie kan bekostig nie; en #MatiesHaveDrive om bestuurdersopleiding te verskaf aan studente wat 'n bestuurslisensie benodig om werk te kry. Skenkers kan kies watter prioriteitsinisiatief hulle wil ondersteun, of dit nou 'n spesifieke inisiatief of die Fonds in die algemeen is.

“Hierdie Fonds bied 'n werklike en konkrete geleentheid om 'n verskil te maak," sê Frederik en Rachel. Die twee, wat in 1997 op Stellenbosch ontmoet het toe Rachel op 'n uitruil‑termyn was om in die letterkunde te studeer, en Frederik sy LLM gedoen het, sê hulle is intens bewus van die belang van 'n gehalte‑opvoeding en doen graag hul deel deur 'n skenking te maak.

“Ons wil hê studente moet hul unieke reis sonder onnodige spanning geniet en met gemoedsrus gradueer. Ons reis het ons van Botswana na Zambië en van Switserland na Denemarke gelei, voordat ons ons in 2011 in Brussel gevestig het.

“Ons werk tans by die Europese Kommissie [Rachel in internasionale ​vennootskappe, en Frederik in humanitêre hulp] en ons het albei die begeerte om terug te ploeg. As ons net 'n klein rol kan speel om 'n student te help om sy of haar volle potensiaal te bereik, sal dit wonderlik wees!"