Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorsing wil einde-van-lewe-versorging vir pasiënte en hul gesinne verbeter
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 13/12/2022

Noodgevalle-eenhede van hospitale wêreldwyd word oorstroom deur pasiënte wat palliatiewe of einde-van-lewe-versorging nodig het. Dieselfde geld Suid-Afrika, waar stygende koerse van kanker, hipertensie, diabetes, MIV en tuberkulose (TB) bydra tot die getal pasiënte wat palliatiewe sorg nodig het.

Die optimering van gesondheidstelsels en tuisgebaseerde sorg in gemeenskappe kan die druk op noodgevalle-eenhede verlig en dit makliker vir pasiënte en hul gesinne maak om ʼn lewensbeperkende siekte te hanteer.

Dít is volgens ʼn studie wat onlangs in die African Journal of Emergency Medicine gepubliseer is.

​Dié studie deur Christopher Straeuli (van die George-streekshospitaal), Louis Jenkins (Universiteit Stellenbosch) en Nardus Droomer (Universiteit van Kaapstad) beskryf hoe pasiënte met lewensbeperkende toestande tot die gevallelading van ʼn noodgevalle-eenheid in ʼn streekshospitaal in die Wes-Kaap bydra. Die navorsers sê daar is ʼn tekort aan data oor hoeveel van hierdie pasiënte noodgevalle-eenhede besoek en hoekom.

“Daar is ʼn toenemende behoefte aan palliatiewe sorgdienste in Suid-Afrika, maar sonder data wat inligting oor die werklike gevallelading in noodgevalle-eenhede aan gesondheidstelsels kan bied, bly die beplanning van ingrypings om dienslewering te verbeter ʼn uitdaging. Veelvuldige besoeke deur pasiënte aan noodgevalle-eenhede is ʼn teken dat palliatiewe sorg te kort skiet, wat aansienlike kommer vir die pasiënt én hul sorggewers meebring."

Om die probleem te help aanpak, het hulle ʼn identifikasie-instrument vir palliatiewe sorg wat vir lae- en middelinkomstelande ontwikkel is, gebruik om al die pasiënte te assesseer wat oor ʼn tydperk van drie maande by die streeksgesondheidsfasiliteit se noodgevalle-eenheid aangemeld het. Hulle het die relevante inligting van hierdie pasiënte in ʼn elektroniese databasis vasgelê.

“Ons studie het bevind die meeste pasiënte wat die noodgevalle-eenheid vir palliatiewe sorg besoek het, is ontslaan (55%), net meer as ʼn kwart (26%) is in die hospitaal toegelaat, terwyl ʼn klein persentasie (13%) in die hospitaal gesterf het.

“Sommige pasiënte het die noodgevalle-eenheid besoek omdat hulle onder meer urinêre katetervervangings en medikasie nodig gehad het. Hierdie is ʼn funksie van plaaslike primêre gesondheidsorgfasiliteite en kon dus moontlik vermy gewees het.

“Ander het by die noodgevalle-eenheid beland omdat hul sorggewers oorweldig gevoel het en dit moeilik gevind het om voortgesette ondersteuning te bied."

Die navorsers sê pyn en asemnood was die mees algemene redes vir besoeke aan die noodgevalle-eenheid. Kanker, neurologiese toestande en MIV was die toestande wat die meeste gediagnoseer is en het gesamentlik meer as die helfte van die gevalle uitgemaak. Pasiënte met MIV en TB was aansienlik jonger.

Die navorsers sê noodgevalle-eenhede in Afrika het ʼn tekort aan hulpbronne en is ongemaklike plekke vir pasiënte wat einde-van-lewe-versorging nodig het. “Dit is besig, raserig en oorweldigend, gewoonlik sonder toepaslike ruimtes vir die versorging van en konsultasie met die sterwende pasiënt of om oor kwessies te gesels wat met die einde van die lewe te make het."

Hulle benadruk die behoefte aan meer voorspraak vir goed funksionerende tuisgebaseerde palliatiewe sorg om die druk op noodgevalle-eenhede te verlig en beter pasiëntgesentreerde sorg moontlik te maak.

  • ​Bron: Straeuli, C; Jenkins, L & Droomer, N 2022. Patients requiring palliative care attending a regional hospital emergency centre in South Africa: A descriptive study. African Journal of Emergency Medicine 12 (2022) 387–392: DOI: 10.1016/j.afjem.2022.08.006