Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vasberadenheid en uithouvermoë help Dowe onderwyser sy droom bewaarheid
Outeur: Sonika Lamprecht / Photo: Stefan Els
Gepubliseer: 09/12/2022

Tien jaar nadat hy gematrikuleer het, is Imran Bodalaji se droom verwesenlik om 'n onderwyser te word toe hy die verhoog oorgesteek het om sy BEd-graad te ontvang by die Universiteit Stellenbosch (US) se Desember-gradeplegtigheid. Hy is slegs die tweede Dowe student om hierdie prestasie te behaal.

Bodalaji (29) is op Worcester gebore en het 'n jonger suster, Seema Bodalaji. Hy was ses maande oud toe sy familie in 1993 uitgevind dat hy doof gebore is toe. Hy het vir twee jaar die Karel du Toit-sentrum bygewoon voordat hy by die De La Bat-skool – 'n skool op Worcester wat in die behoeftes van Dowe leerders voorsien – se kleuterskool begin bywoon het.

Hoewel hy sy laerskoolopleiding by die voormalige Worcester Voorbereidingskool (nou bekend as Laerskool Wynland) begin het, is daar in sy graad 3-jaar besluit om na die De La Bat-skool oor te skuif vir die res van sy laerskoolopleiding. “Die skuif van 'n hoofstroomskool na 'n Dowe skool het my baie gehelp, want ek het ingesluit gevoel en dat ek verstaan word. Ek kon 'n band met die onderwysers en medeleerders vorm, aangesien gebaretaal my gehelp het om inligting reg te verstaan. Dit het my akademiese en holistiese prestasie verbeter."

Bodalaji droom al van graad 9 af daarvan om 'n onderwyser te word, danksy die inspirasie van sy oorlede ouma, Ayesha Bibi Dawood, en onderwysers by sy skool se “onbeperkte liefde, ondersteuning en motivering".

Nadat hy in 2012 matriek voltooi het, het hy 'n kursus in vroeëkinderjare-ontwikkeling (vlak 4) by die Nasionale Instituut vir Dowes se kollege voltooi. Hy het in 2014 by die Worcester-kampus van Boland-kollege ingeskryf om vlak 5 te voltooi. Danksy liplees en die ondersteuning van sy medestudente wat hulle klasaantekeninge vir hom geleen het, het hy vlak 5 geslaag. “Toe vind ek uit ek benodig 'n toepaslike onderwyskwalifikasie om as opvoeder te kwalifiseer, aangesien vlak 5 my slegs toegerus het om 'n crèche-opvoeder te wees. Ek het sonder sukses by verskeie universiteite aansoek gedoen om 'n BEd-graadkursus te volg aangesien ek nie aan die vereistes voldoen het nie."

Maar Imran het geweier om sy droom prys te gee. Hy het in 2015 besluit om twee van sy skoolvakke te herhaal sodat hy aan die akademiese vereistes kon voldoen om vir 'n BEd-graad in te skryf. Hy het ook 'n kortkursus in Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT) by die US voltooi. “Ek het gehoop om eendag hier te kon studeer. Ek het op die Universiteit se webwerf gelees van die ondersteuning wat hulle bied, en het geweet dat Stellenbosch die beste in my behoeftes sou voorsien. In die tussentyd het ek tot aan die einde van 2016 as 'n klasassistent by De La Bat gewerk. Ek kon uiteindelik in 2017 by die Universiteit Stellenbosch inskryf."

Danksy die ondersteuning van die onderskeie Universiteitstrukture, was hy op pad om sy droom 'n werklikheid te maak. “Die Eenheid vir Gestremdhede en die Taalsentrum het individuele ondersteuning gebied deur vir my toegang tot twee SAGT-tolke te gee wat elke lesing en vergadering saam met my bygewoon het. Hulle het voor in die klas gestaan om die lesing te tolk en die werk aan my te verduidelik. Hulle het ook seker gemaak dat ek toegang tot leermateriaal kry. Ek voel die Universiteit het meer as genoeg langtermynbystand op 'n individuele grondslag gebied om die holistiese welstand van 'n Dowe student te verseker."

Teen die einde van 2021 het die nagevolge van die Covid-19-pandemie hom egter getref en het hy gesukkel om die laaste pylvak van sy graad te voltooi. “Ek was heeltemal uitgebrand en dit het gevoel of my droom buite my bereik was en die pad daarheen eenvoudig te lank. My uithouvermoë en veerkragtigheid is tot die uiterste beproef, maar ek het besluit om nie tou op te gooi nie.

“'n Mentor, dr Claudia Saunderson, is aan my toegewys. Sy het in my geglo en my ondersteun om my graad suksesvol te voltooi. Sy het my as mentor gehelp om 'n balans tussen my akademiese en persoonlike lewe te vind. Ek het nie verwag dat ek in my finale jaar so sou sukkel nie, maar het die uitdagings oorkom en ek glo dit het my sterker gemaak. Baie dankie aan almal wat my ondersteun het om hierdie mylpaal te bereik. Alhamdulilah, deur God se genade en barmhartigheid het ek dit gemaak!"

Sy volgende droom? Bodalaji se toekomsplanne is om in die opvoedkundesektor te werk, en spesifiek om leerders deur die gebruik van SAGT te onderrig. “My droom is om vir Dowe leerders Suid-Afrikaanse Gebaretaal aan te leer sodat hulle nie hoef in te pas om 'n opvoeding in Suid-Afrika te ontvang nie. Dowe leerders moet eindelose geleenthede gegun word om te groei – op skool en ná skool – sodat hulle enigiets wat hulle wil, kan bereik. En ons as gekwalifiseerde Dowe SAGT-onderwysers moet saamwerk om eienaarskap van SA Gebaretaal in ons Dowe gemeenskap te bevorder en met innoverende planne vorendag kom om mekaar te bemagtig, te versterk en te ondersteun."