Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wiskundige Statistiek-honneursgraduatus met gesogte Kanseliersmedalje vereer
Outeur: Corporate Communication and Marketing | Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 08/12/2022

Jean Durand, 'n Wiskundige Statistiek-graduatus met Datawetenskap as fokus, is die ontvanger van vanjaar se gesogte Kanseliersmedalje van die Universiteit Stellenbosch (US).

Die medalje word jaarliks aan 'n finalejaar- of nagraadse student toegeken wat akademies uitgeblink het, wat op verskeie maniere tot die kampuslewe bygedra het en wat hard gewerk het om ko-kurrikulêre eienskappe te ontwikkel. Durand het Donderdag (8 Desember 2022) die medalje by die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe se gradeplegtigheid ontvang.

Durand se akademiese prestasies in sy vier jaar as student aan die US was werklik uitsonderlik. Hy het elke liewe module van sy B-graad met onderskeiding geslaag, en het in nie minder nie as vier van sy voorgraadse modules 100% behaal.

Hy het in meer as 75% van sy voorgraadse modules tussen 90%–99% behaal, terwyl hy slegs in die ander sewe van die 28 modules van sy voorgraadse studie 'n finale punt van tussen 83%-89% behaal het. Gedurende sy Honneurs-BCom-jaar het hy 'n gemiddeld van 90% in al sy geregistreerde modules gehandhaaf – wat werklik 'n uitsonderlike prestasie is.

Hy was in sy eerste jaar aan die US die top-student in Toegepaste Wiskunde, in sy tweede jaar het hy die toekenning as die beste Wiskunde-student ontvang en in 2021 het hy die toekenning vir die beste Wiskundige Statistiek-finalejaarstudent ingepalm. Afgesien van hierdie toekennings het hy ook in 2021 die prestigeryke Michiel le Roux-merietebeurs en in 2022 die Rektor se toekenning vir uitnemende akademiese prestasie ontvang.

Durand het in reaksie op die medalje gesê dit voel “regtig ongelooflik". “Ek is baie trots op myself, en dit is so 'n droom-manier om my tyd op Stellenbosch af te sluit. Ek het die afgelope paar jaar baie hard gewerk en dit voel fantasties om op hierdie manier beloon te word," sê hy. 

“Ek weet dit sou nie moontlik gewees het sonder my vriende en familie se ondersteuning nie. Ek wil ook net dankie sê aan al die dosente wat dit vir my moontlik gemaak het. Dit was so 'n wonderlike ondervinding vanjaar. Om terug te keer na die kampus en nuwe mense te ontmoet het dit regtig 'n fantastiese finale jaar gemaak."

“Jean Durand se voorgraadse én nagraadse akademiese prestasies was werklik uitsonderlik en buitengewoon, gegewe die uitdagende modules in hierdie programme," sê prof Paul Mostert, voorsitter van die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap, wat ook die dosent was vir verskeie van Durand se modules. 

“Dit was ook gedurende sy studie duidelik dat hy die respek van sy medestudente en dosente verdien het," het Mostert namens die departement gesê.

Durand het die kortlys by drie Britse universiteite gehaal om vir hulle gesogte meestersprogramme in Datawetenskap en/of Kunsmatige Intelligensie in te skryf. Die drie is Edinburgh-Universiteit, Cambridge-Universiteit en die Imperial College of London.