Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Duitse vise-kanselier ‘hoogs beïndruk’ met US se navorsing, fasiliteite
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Wilma Stassen
Gepubliseer: 08/12/2022

ʼn Hoëvlak afvaardiging van Duitsland, wat όόk die Duitse vise-kanselier ingesluit het, het onlangs met top-wetenskaplikes van die Universiteit Stellenbosch (US) vergader by die nuwe ultramoderne Biomediese Navorsingsinstituut (BMNI) op die universiteit se Tygerberg-kampus in Kaapstad.

“Ek is hoogs beïndruk," het die Duitse vise-kanselier, dr Robert Habeck, gesê na ʼn blitstoer van die BMNR-fasiliteit en gesprekke met ondermeer die US se top bio-informatikus, prof Tulio de Oliveira, oor belangrike navorsing wat die US doen met betrekking tot die globale epidemiese response. 

Die besoek – wat ook verskeie lede van die Duitse kabinet en parlement, die Duitse ambassadeur en konsul-generaal in Suid-Afrika, asook ʼn groot besigheidsafvaardiging en media ingesluit het – het gevolg op ʼn onlangse besoek deur De Oliveira aan Duitsland om die Duitse Afrikatoekenning van die bondskanselier, Olaf Scholz, te ontvang. Gedurende sy besoek einde November het De Oliveira samesprekings gehou met die Duitse Minister van Gesondheid, verskeie parlementslede en mede-wetenskaplikes.

Die afvaardiging is op ʼn toer geneem deur die splinternuwe, ultramoderne BMNI-fasiliteit by die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW). Dit is die mees gevorderde biomediese navorsingsfasiliteit op die Afrika-kontinent en het meer as R1 miljard gekos om te bou. Dit spog met wêreldklas navorsingslaboratoriums en toerusting, insluitende twee Illumina Novaseq DNS-volgordebepalingsplatforms – die grootste van sy soort in die wêreld. Daar was ook demonstrasies by die laboratoriums van die Sentrum vir Epidemiese Response en Innovasie (CERI), wat ʼn belangrike rol gespeel het met die opsporing van variante gedurende die Covid-19-pandemie, en werk doen aan pandemie voorkoming in Afrika en die res van die wêreld.

Habeck, wat ook die Duitse Bondsminister vir Ekonomiese Sake en Klimaataksie is, het gesê hy was “geskok" nadat De Oliveira verduidelik watse impak klimaatsverandering het op die uitbreek van siektes en epidemies.

Die besoek maak deel uit van pogings om samewerking te stimuleer tussen Suid-Afrika/Afrika-instansies en Duitsland en om belegginsgeleenthede te ondersoek om belangrike navorsing op die Afrika-kontinent te bevorder.

Bannier-foto: Die Duitse afvaardiging saam met FGGW-personeel.