Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
ANO stel nuwe digitale tydskrif "Research for Impact" bekend
Outeur: Division for Research Development
Gepubliseer: 07/12/2022

​Welkom by die Afdeling Navorsingsontwikkeling (ANO) se digitale navorsingstydskrif ‘Research for Impact’

https://www0.sun.ac.za/researchforimpact/research-for-impact/

In hierdie nuwe publikasie word daar aan die hand van ’n verskeidenheid artikels op die mees onlangse navorsing gefokus wat aan die US gedoen word, asook deur middel van onderhoude wat met `n aantal van ons vooraanstaande navorsers gevoer is. Die bydraes is in ’n helder, toeganklike styl geskryf en die verskeidenheid bied vir sowel wetenskaplikes as ander belangstellende lesers interessante en tersake leesstof.

Lees ook oor die innoverende werk wat ons navorsers doen, nie net ter wille van kennisproduksie in hul onderskeie velde nie, maar ook om ’n daadwerklike verskil in die samelewing te maak.
 
Ons het artikels ingesluit wat navorsing in elk van die Universiteit se vyf strategiese navorsingsareas verteenwoordig om die belangrike inisiatiewe en vernuwings wat op ons kampusse en in akademiese velde plaasvind ten toon te stel. Ons wys ook waar en hoe dit verband hou met nasionale, streeks- en globale doelwitte om volhoubare ontwikkeling te verseker en vooruitsigte vir mense en die planeet te verbeter.
 
Die Afdeling Navorsingsontwikkeling (ANO) het die afgelope 12 jaar ’n jaarlikse navorsingspublikasie Research at Stellenbosch University saamgestel. Hierdie publikasie was deel van die Afdeling se werk om ons institusionele navorsingsportefeulje meer sigbaar te maak deur navorsingsverwante inligting en artikels met ’n groter gehoor te deel.

Die taak om die sigbaarheid van navorsing te verhoog het internasionaal een van die beste praktyke op die gebied van navorsingsbestuur geword. Die doel was om ons navorsing in ’n tydskrifformaat aan te bied wat toeganklik is vir navorsingsvennote, toekomstige medewerkers en befondsingsagentskappe, asook vir alumni, die media en algemene publiek. Hierdie benadering was vir eers nuut en het wegbeweeg van die tradisionele styl van verslagdoening oor navorsingsuitsette. Deur middel van ’n narratiewe benadering het die tydskrif ons navorsingsuitsette toegankliker gemaak vir die regering en befondsingsagentskappe, sowel as vir toekomstige studente en ander teikengehore.
 
Vandag lyk wetenskapskommunikasie-praktyke baie anders. Ons leef in ’n digitale era, waarin wetenskapskommunikasie aanlyn die norm geword het. Webpublikasie-standaarde het aansienlik verbeter, en in hoër onderwys is dit allermins ’n uitsondering. Die beste wetenskapsjoernalistiek aanlyn vind baat by hierdie soort verhale, innoverende ontwerp en slim gebruik van multimedia. Ons het dus besluit om hierdie benadering te volg vir ons heel eerste digitale tydskrif. Ons prioritiseer ook die digitale leesbaarheid van ons unieke, pasgemaakte inhoud vir verskeie toestelle. Benewens die artikels, is daar ook treffende foto’s, redaksionele illustrasies, infografika, video’s en klankgrepe wat die leeservaring verryk.

Gereelde toevoegings tot Research for Impact aanlyn verseker dat ons inhoud relevant bly en die US se nuwe navorsing en ontwikkelings ten toon stel.
 
Research for Impact bied volop stof tot nadenke en saamwerkgeleenthede en ons verwelkom terugvoer en voorstelle. Geniet die artikels en boekmerk ons aanlyn platform om ons gereeld te besoek vir nuus oor nuwe navorsing en ontwikkelings aan die US.

Laai ’n keur uit die 2022-artikels in Research for Impact af by die onderstaande skakel.
Research for Impact: 2022-keur