Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Besinning oor 2022
Outeur: Prof Hester Klopper, Deputy Vice-Chancellor: Strategy, Global and Corporate Affairs
Gepubliseer: 05/12/2022

​Wanneer die meeste mense oor 2022 besin sal hulle die jaar waarskynlik beskou as dié waarin hulle probeer terugkeer het na 'n gevoel van normaliteit en die leefwyse wat hulle voor die wêreldwye Covid-19-pandemie geken het. Terwyl 2020 en 2021 jare van ontwrigting was, glo ek dat 2022 ons die geleentheid gebied het om te besin oor die trauma wat tydens die pandemie gevoel is en om die toekoms energiek te omhels.

Vir die Universiteit Stellenbosch (US) was 2022 'n jaar waarin ons enkele laagtepunte ervaar het, maar ook hoogtepunte bereik het wat ons hoop vir die toekoms gee. Ons is deurgaans gerig deur ons waardes van uitnemendheid, deernis, aanspreeklikheid, respek en billikheid.

Ons internasionaliseringspogings het die Universiteit se visie ondersteun om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit met 'n wêreldwye impak te wees. In 2022 het ons ook ons verbintenis tot omvattende internasionalisering voortgesit, en ons studente en personeel kon weer 'n globale ervaring hê. Ons kon ons vennootskappe en ons deelname aan internasionale netwerke versterk.

Alhoewel die US die afgelope jaar vele hoogtepunte ervaar het wat ons globale wortels versterk het, vermeld ek graag 'n paar wat vir my uitstaan.

  • Vir die eerste keer in die geskiedenis is die Nobel‑simposia in Oktober 2022 buite Swede en by die Universiteit Stellenbosch se Instituut vir Gevorderde Studie gehou, 'n groot eer vir ons instelling.
  • In Augustus 2022 is die US-Japan-sentrum by ons Universiteit gestig met die doel om verhoudinge tussen Japan en Suid-Afrika deur die Sentrum se programme te versterk.
  • Ons werk op die Afrikavasteland het groter impak verseker, veral deur die US se Afrika Doktorale Akademie en ons deelname aan die African Research Universities Alliance (ARUA).
  • Ons het die jaar afgesluit met 'n afvaardigingsbesoek deur The Guild of European Research-Intensive Universities, wat 'n insiggewende betrokkenheid vir toekomstige vooruitsigte was.

Die jaar 2022 was inderdaad 'n goeie jaar vir internasionalisering by die US, en ons sien uit na volgende jaar om ons verbintenis met ons vennote en netwerke wêreldwyd te verdiep.

- Prof Hester C. Klopper, Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake​