Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Afrikastreeksforum oor Klimaatsverandering sê “dit is tyd vir Afrika”
Outeur: Mmanape Hlungwane
Gepubliseer: 05/12/2022

Die Afrikastreeksforum (ARF) oor Klimaatsverandering is deur ons Skool vir Klimaatstudies in samewerking met die Global Alliance of Universities on Climate (GAUC) by die Universiteit Stellenbosch (US) aangebied. Die ARF was 'n geleentheid om meer te wete te kom oor die Afrika‑agenda vir COP27 wat in November 2022 in Sharm El-Sheikh, Egipte, plaasvind. Die ARF was 'n vyf dae lange, interaktiewe, hibriede konferensie wat verskeie instellings en belanghebbendes in staat gestel het om betrokke te raak by klimaatsveranderingwetenskap en die toegepaste sosiale en beleidsimplikasies daarvan vir Afrika. Die Forum het 'n groep afgevaardigdes van 45 verskillende universiteite oor die hele Afrikavasteland betrek.

Deur die GAUC  kon 15 lid-universiteite van 6 vastelande by die Universiteit Stellenbosch se Skool vir Klimaatstudies en by die US byeenkom, wat almal tot die bevordering van oplossings vir klimaatsverandering verbind is. Tydens die Climate-X-bekendstelling is ander personeel en studente van GAUC die geleentheid gebied om virtueel by die Stellenbosse afgevaardigdes aan te sluit. Die span het later 'n openingseremonie vir die lede by die US aangebied, wat deur prof Klopper, die Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake, waargeneem is. Sy het die afgevaardigdes hartlik verwelkom en gesê die ARF is uitstekende voorbereiding vir COP27. Sy het klem gelê op samewerking om die COP27‑agenda te bevorder en om Afrika 'n prominente rol daarin te gee. Sy het opgemerk dat die ARF, as die eerste op die vasteland en met die leiding van die US, 'n belangrike deel uitmaak ter bevordering en uitbreiding van die verbintenis tot samewerking tussen ons Afrika‑universiteite. Bowenal is dit in pas met die US se visie en missie om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te word, wat in en vir die vasteland werk.

Die tweede dag van die Forum het afgeskop met 'n programrede deur die waarnemende direkteur van die Skool vir Klimaatstudies, prof Guy Midgley, wat die klimaatsgesprekke met 'n bespreking oor die potensiële nielineêre aanpassingskoste gelei het. Die Forum is in die week voortgesit met ander opwindende en produktiewe paneelbesprekings en daar is besluit om mee te werk aan die stigting van 'n liggaam wat as die African Universities Climate Network bekend staan. Hierdie paneelbespreking is gewy aan die idee om netwerke onder Afrikane verder uit te brei as dié wat op klimaatsverandering gemik is. Me Simone Engelbrecht van die AUDA‑NEPAD Sentrum van Uitnemendheid in Wetenskap, Tegnologie en Innovasie, in samewerking met die US, het bevestig dat Afrika‑wetenskaplikes se werk in verband met klimaatsverandering sou kon baat by die ontwerp van 'n Afrika-model gerig op die gebruik en bekendstelling van kennisskeppers, ‑houers, en -kommunikeerders uit Afrika, sowel as deur die hulpbronne in 'n gemeenskaplike repertorium.

Die onderwerp betreffende die klimaat is uitgebrei met paneelbesprekings soos Periperi U se regstreekse gesprekke, jeugbetrokkenheid by klimaatwetenskap en -beleid, volhoubare en hernubare energiestelsels, die Intergovernmental Panel on Climate Change (IPCC) se implikasies vir klimaatsverandering, menslike gesondheid en klimaatsverandering, en toenemende Afrika-betrokkenheid by globale assesseringsverslae. Die ARF het steun via die direkteur van die Suid-Afrikaanse Nasionale Navorsingstigting ontvang, wat maniere gedeel het om navorsingstoekennings te bekom, maar selfs belangriker, om die behoefte aan samewerking tussen Afrikane te beklemtoon. Bykomende insette en bydraes het gekom van die direkteur van die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke wat voor die Skool vir Klimaatstudies gestig is, met die doel om 'n ruimte te skep waar die beste vakkundiges en denkleiers, akademici, en beleidmakers in 'n interdissiplinêre ruimte byeen gebring kan word. Studente by die konferensie het ook loopbaanadvies ontvang, terwyl die SAFTA‑genomineerde aanbieder Vicky Davis opleiding voorsien het wat betref hul optrede as openbare sprekers. Tydens 'n oggendsessie het sy afgevaardigdes leiding gegee met wenke en gereedskap om 'n aanbieding met selfvertroue te lewer. Die middag is gebruik om interaktief aan die afgevaardigdes se aanbiedingsvaardighede te werk, terugvoering oor hul styl te gee, en boodskapoordrag te verbeter.

Die African Journal of Climate Studies (AJOCS) is by die ARF bekend gestel. Die tydskrif is 'n stap vorentoe in die dokumentering en uitbeelding van klimaatverwante werk en die byeenbring van kundiges en studente in klimaatstudies in Afrika.

Laastens was die ARF 'n waardevolle geleentheid vir die US om ons Afrika-vennote persoonlik en virtueel te akkommodeer, en om die behoefte aan medewerking oor klimaatsverandering in Afrika te beklemtoon. Opnames van die ARF kan hier gekyk/afgelaai word:

https://drive.google.com/drive/folders/18CDSTq3zUpy5Io0VLVUUSUQd1ZviM4a-?usp=sharing

African Journal of Climate Studies

Oproepe vir voorleggings aan die AJOCS kan gedoen word via die webwerf http://climatestudies.org/, terwyl oproepe vir subredakteurs via die epos indexing@aosis.co.za gerig kan word.