Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US daartoe verbind om te help om 'n inklusiewe samelewing vir mense met gestremdhede te bou
Outeur: Prof Gubela Mji
Gepubliseer: 02/12/2022

Die Internasionale Dag vir Persone met Gestremde wat jaarliks op 3 Desember gevier word, is daarop gemik om 'n begrip vir kwessies oor gestremdheid te kweek en om ondersteuning vir die waardigheid, regte en welstand van mense met gestremdhede aan te moedig. Die dag help ons ook om ons aandag opnuut op die uitdagings te vestig wat mense met gestremdhede wêreldwyd ondervind. Vanjaar se tema, 'Transformative solutions for inclusive development: The role of innovation in fuelling an accessible and equitable world' (oftewel Transformatiewe oplossings vir inklusiewe ontwikkeling: Die rol van innovasie om 'n toeganklike en billike wêreld aan te vuur') is dus baie gepas. Dit is nodig dat ons in ons veranderende wêreld weer opnuut moet dink oor ons plek daarin, asook ons stereotipering, blinde kolle en die maniere waarop ons tot die uitsluiting van mense met gestremdhede bydra.

Innoverende oplossings om billike maniere van bestaan en ervarings teweeg te bring, kan help om mense met gestremdhede in alle sfere van die samelewing in te sluit. By die Universiteit Stellenbosch (US) besef ons die behoefte vir voortdurende nadenke oor hoe ons innovasies skep wat tot 'n inklusiewe, toeganklike en billike wêreld sal bydra.

Een voorbeeld van hierdie nadenke is die US se 2020-verklaring om transformasie aan te moedig met 'n spesifieke fokus op gestremdheidsinsluiting. Die lei ons op ons pad vorentoe. Ons hersien byvoorbeeld tans ons praktyke, asook die Beleid oor Gestremdheidstoegang wat in 2018 goedgekeur is. Daar is verskeie gapings gevind wat gevul moet word en daar is vordering gemaak op die gebied van gestremdheidsinsluiting op ons onderskeie kampusse. Ons het in 2020 die behoefte aan meer inligting oor gestremdheid en groter sensitiwiteit geïdentifiseer. Sedertdien het ons 'n erkende program vir studente in plek gestel. Dit staan as “Lei met gestremdheid" bekend. Daarby het ons oor personeellede aangewys om met personeel- en studenteopleiding en -bewusmaking te help. 

Ten slotte …

Afgesien van die US se Beleid oor Gestremdheidstoegang, verskaf ander strukture soos die Verenigde Nasies se Konvensie oor die Regte van Mense met Gestremdhede, die VN se Doelwitte vir Volhoubare Ontwikkeling, die Afrika-handves vir Mense- en Volkeregte oor die Regte van Mense met Gestremdhede in Afrika en die Nasionale Ontwikkelingsplan 2030 ook stukrag om 'n voorspoedige en beter lewe vir mense met gestremdhede in die vooruitsig te stel en te bewerkstellig. Daar word veral sterk gefokus op omgewings wat gestremdheidsinklusief is in alle aspekte van die lewe en in alle sfere van die samelewing.

Die 'African Netwerk of Evidence-to-Action in Disability' (AfriNEAD) speel ook 'n belangrike rol. AfriNEAD, wat in 2007 in die Sentrum vir Gestremdheids- en Rehabilitasiestudies by die US tot stand gekom het, is 'n streeksgebonde gestremdheidsnavorsingsnetwerk. Dit bied aan die Universiteit 'n platform om 'n institusionele verbintenis tot en 'n aspirasie na die bevordering van inklusiwiteit op al sy kampusse te toon. Die US bied in 2023 die sewende AfriNEAD-konferensie aan. Dit sal vir die US nog 'n geleentheid bied om sy verbintenis te bevestig om te help om 'n inklusiewe samelewing vir mense met gestremdhede te bou.

*Prof Gubela Mji is die hoof van die Sentrum vir Gestremdheids- en Rehabilitasiestudies by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.