Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Desember-gradeplegtighede
Outeur: Corporate Communication and Marketing | Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 02/12/2022

Die Universiteit Stellenbosch (US) sal by sy Desember-gradeweek, wat van 5–9 Desember duur, 5 505 kwalifikasies verleen. Gradeweek is 'n hoogtepunt op die Universiteit se akademiese kalender, en 13 plegtighede sal van 5 tot 9 Desember by die Coetzenburg-sentrum aangebied word. 

Eredoktorsgrade

Die US sal ook eredoktorsgrade toeken aan 'n aantal individue wat uitsonderlike bydraes op hulle onderskeie gebiede gelewer het.

Prof Ernest Aryeetey sal die graad Doktor in die Handel (DCom), honoris causa, ontvang. Dié voormalige visekanselier van die Universiteit van Ghana is die stigtersekretaris-generaal van die Afrika-navorsingsuniversiteitsalliansie (ARUA), 'n netwerk universiteite wat hulle op navorsingsvermoëbou op die vasteland toespits.

Die graad Doktor in die Filosofie (DPhil), honoris causa, sal toegeken word aan me Zubeida Jaffer, 'n bekroonde Suid-Afrikaanse joernalis, skrywer en aktivis. Jaffer het haar loopbaan in 1980 by die dagblad Cape Times begin en het later gedurende die weerstandsbeweging teen apartheid plaaslike gemeenskapskoerante help ontwikkel.

Mnr Strive Masiyiwa, die stigter en uitvoerende voorsitter van die gediversifiseerde internasionale telekommunikasiegroep Econet Global Ltd, waarvan die hoofkantoor in Suid-Afrika geleë is, sal die graad Doktor in die Ingenieurswese (DIng), honoris causa, ontvang. Hy word as een van die baanbrekers van die mobieletelekommunikasiebedryf in Afrika beskou.

Die graad Doktor in die Landbou (DAgric), honoris causa, word toegeken aan mnr Thomas Dreyer (Tommie) van Zyl. Hy staan al langer as 20 jaar aan die stuur van ZZ2, 'n innoverende landbou-onderneming en varsproduktemaatskappy. Die maatskappy lewer 'n aansienlike bydrae tot werkskepping en sosio-ekonomiese ontwikkeling in Suid-Afrika.

Prof Agnes Binagwaho, 'n Rwandese pediater, het merkwaardige bydraes gelewer tot die verbetering van die gesondheid en welstand van mense in Rwanda en die res van Afrika. Sy sal die graad Doktor in die Natuurwetenskappe (DSc) (Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe), honoris causa, ontvang. Dit sal in absentia toegeken word.

Die psigiater en geestesgesondheidskenner prof Vikram Patel sal die graad Doktor in die Filosofie (DPhil), honoris causa, ontvang. Hy is 'n toonaangewende figuur in die globale geestesgesondheidsbeweging en 'n belangrike bydraer tot die bevordering van geestesgesondheid en die voorkoming van geestesongesteldheid in lae- en middelinkomstelande.

“Leef ons waardes uit"

Die Rektor en Visekanselier van die US, prof Wim de Villiers, het die graduandi by voorbaat gelukgewens en hulle verseker dat 'n kwalifikasie van die US vir hulle sal deure oopmaak, ongeag waar in die wêreld hulle is.

“Ondanks ons uitdagende jaar is ons internasionale reputasie méér as ongeskonde. Ons het sterk netwerke en doelgerigte vennootskappe gebou, en die internasionale gemeenskap wil graag sien watter impak ons gegradueerdes sal hê," het hy gesê.

Oor 2020 en 2021, toe Covid nog die wêreld in 'n wurggreep gehad het, het De Villiers gesê die US het daardie uitdagende akademiese jare suksesvol voltooi danksy personeellede en studente se aanpasbaarheid en skrik-vir-niks-gees. “En in 2022 kon ons selfs verder gaan. Ons personeel en studente oor die hele akademiese spektrum het opnuut bewys dat die US innovasie koester en bevorder," het hy gesê.

“Daarmee sê ek nie daar was nie groot uitdagings nie. Die ongelukkige voorvalle by ons universiteit het ons gedwing om na te dink oor wat dit werklik beteken om 'n inklusiewe instelling te wees. Maar nadenke vereis ook optrede, en ons sal alles doen wat nodig is om te sorg dat die US 'n plek is waar almal voel hulle is welkom en word gehoor."

Hy het die graduandi aangemoedig om “voort te gaan om die US se waardes van uitnemendheid, deernis, billikheid, respek en verantwoordbaarheid uit te leef".