Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Covid-19 het SA se MIV-teikens gestrem, maar ook geleenthede vir innovasie gebring
Outeur: Munya Saruchera
Gepubliseer: 01/12/2022

Wêreldvigsdag word op 1 Desember herdenk. In 'n meningsartikel vir News24 skrfy dr Munya Saruchera van die Afrika-sentrum vir MIV/Vigsbestuur dat ons die lesse wat ons uit die bestuur van die Covid-19-pandemie geleer het moet gebruik om MIV/Vigs effektief te hanteer.

  • Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Dr Munya Saruchera*

Terwyl die wêreldgemeenskap op 1 Desember Wêreldvigsdag herdenk, is dit ook 'n belangrike geleentheid vir ons as Suid-Afrikaners om na te dink oor hoe die Covid-19-pandemie en die vroeëre pandemie van MIV/Vigs – wat die land se gesondheidsagenda en -fokus oorheers het – op mekaar inwerk. Aan die begin van die Covid-19-pandemie was wetenskaplikes bekommerd dat mense wat met MIV lewe, 'n groter risiko geloop het om Covid-19 op te doen weens hul aangetaste immuniteit. Dit was 'n kommer in Suid-Afrika wat die middelpunt van die MIV-pandemie is.

Hoewel ons aansienlike vordering in die behandeling van MIV gemaak het, lê daar steeds baie werk voor, gegewe die land se MIV-voorkoms van 19,10% – die vierde hoogste koers ter wêreld. Dit beteken 7,8 miljoen mense is MIV-positief, wat meer is as in enige ander land en nagenoeg een-vyfde van alle MIV-gevalle in die wêreld is. Suid-Afrika bestuur tans die grootste antiretrovirale terapie- (ART-) program ter wêreld.

Die impak van Covid-19 op MIV-behandeling

MIV/Vigs het die afgelope twee-en-'n-half jaar nie baie aandag gekry nie namate die wêreld gepoog het om die Covid-19-pandemie die hoof te bied en die virus se negatiewe impak te verminder. Die nasionale algehele staat van inperking het dit vir mense wat met MIV lewe, moeilik gemaak om toegang tot hul ART'e te kry en om te toets sodat hulle kan weet wat hul status is. Die inperkings het ook die ARV-behandelingsprogram beïnvloed en het die Suid-Afrikaanse Nasionale Vigsraad (SANVR) se nasionale strategie vertraag. Volgens die SANVR het die pandemie tot ontwrigtings in die toetsing- en behandelingsdienste vir MIV gelei. Die nasionale studie oor inkomste-dinamika en mobiele koronavirus-opname (NIDS-CRAM) het bevind minder mense landwyd het gedurende die pandemie primêre gesondheidsorgdienste gebruik, veral vir MIV-toetsing.

Die heraanwending van hulpbronne om die Covid-infeksiekoers te vertraag, het reusegevolge vir die gesondheidsdienste se voorsieningdienste vir ander siektes, veral vir MIV-programme, ingehou. Hoewel daar nog geen afdoende studie nog oor die volle omgang gedoen is nie, is die uitwerking in MIV-voorkomingspogings, toegang tot medikasie en ander vorme van sorg gevoel. Daar is ook mediese komplikasies en 'n hoër risiko van middelweerstandigheid in MIV aangemeld. Daarby is MIV-bestuursopleiding minder geprioritiseer en het dit ook onbekostigbaar vir baie praktisyns geword.

Hoewel Suid-Afrika se beleggings in sy MIV-reaksie die land in staat gestel het om vinnig op die Covid-19-epidemie te reageer, het die tydelike opskorting van navorsing, die herleiding van belangrike hulpbronne vir MIV-beheer en pasiënte se beperkte toegang tot gesondheidsorggeriewe hierdie MIV-reaksie negatief beïnvloed. Die sukses met die integrasie van reaksies op die botsende epidemies het egter oorlewingsuitkomste verbeter en verseker dat vooruitgang wat in die bestuur van MIV gemaak is, nie heeltemal uitgewis is nie. Dit verseker ook dat Suid-Afrika op koers bly om die 2030 UNAIDS 95-95-95-teikens (95% MIV-positiewe mense weet wat hulle MIV-status is, 95% van die mense wat met MIV gediagnoseer is, ontvang ononderbroke ART, en 95% van die mense op ART het virale onderdrukking) en die Verenigde Nasies se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte (VOD'e) te bereik.

Nou dat ons 'n veiliger en beter beheerbare stadium van Covid-19 binnegegaan het, is dit waarskynlik tyd om ons aandag, hulpbronne en leierskap van MIV-bestuur met verhoogde bewustheid, toetsing, behandeling en voorkoming te hersien en te herfokus. Dit is veral belangrik in die lig van die wêreldwye UNAIDS 95-95-59-teikens vir die beheer van MIV/Vigs.

Dit laat lande wêreldwyd met net sewe jaar om pogings om hierdie doelwit te bereik, af te handel. Dit is uiters belangrik dat Suid-Afrika weer op koers sal kom om die UNAIDS-doelwitte vir MIV-toetsing, -voorkoming en -sorg te bereik.

Ten slotte …

Dit gaan nie maklik wees om dit alles te bereik nie, gegewe die talle uitdagings wat ons as 'n land ondervind. Een ding is egter duidelik – ons sal moet saamwerk om op koers te bly namate 2030 al hoe nader kom. Hier help die Afrika-sentrum vir MIV/Vigsbestuur aan die Universiteit Stellenbosch saam met ander sleutelrolspelers steeds om die uitdagings en ongelykhede wat deur HIV/Vigs veroorsaak is, aan te spreek en reg te stel en om die veldtog te versnel vir die bereiking van UNAIDS 95-95-95 en die VOD'e teen 2030. Deur ons navorsing en nagraadse programme speel ons 'n sentrale rol om uitdagings aan te spreek wat met die bestuur van MIV, veral in die werkplek, verband hou. Ons werk word gerig deur die besef dat indien MIV/Vigs nie doeltreffend bestuur word nie, die stigma sal aanhou om mense se lewens te vernietig, geestesgesondheid aan te tas, infeksies sal aanhou styg namate mense bang word om vir MIV te toets, en behandeling sal nie nagekom word nie. Dit sal die onnodige verlies aan lewens en produktiwiteit tot gevolg hê.

  • ​Klik hier om die res van die artikel soos geplaas te lees.

*Dr Munya Saruchera is 'n senior dosent en waarnemende Direkteur van die Afrika-sentrum vir MIV/Vigsbestuur aan die Universiteit Stellenbosch.