Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Onderrigtoekennings 2022
Outeur: Dr Karin Cattell-Holden
Gepubliseer: 01/12/2022

Die jaarlikse Universiteit Stellenbosch (US) Onderrigtoekennings erken en beloon voortreflike onderrig aan die Universiteit. Die toekennings word in drie kategorieë verleen, naamlik Toonaangewende OnderwysvakkundigeVakkundige Opvoeder en Onderrigsamewerking.*

Die ontvangers van die Onderrigtoekennings 2022 is soos volg:

  1. Prof Faadiel Essop (Sentrum vir Kardiometaboliese Navorsing in Afrika (CARMA), Afdeling Geneeskundige Fisiologie, BMRI, Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe) (Kategorie: Toonaangewende Onderwysvakkundige)
  2. Prof Herman Kamper (Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese, Fakulteit Ingenieurswese) (Kategorie: Vakkundige Opvoeder)
  3. Me Mareli Rossouw (Skool vir Rekeningkunde, Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe) (Kategorie: Vakkundige Opvoeder)

    Geen toekenning is in die kategorie Onderrigsamewerking verleen nie.

Prof Faadiel Essop is 'n professor in die Afdeling Geneeskundige Fisiologie (Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe). Hy is ook die direkteur (en medestigter) van die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Kardiometaboliese Navorsing in Afrika (CARMA). Hy is 'n Fulbright-genoot en beskik oor 'n B2-gradering van die Nasionale Navorsingstigting. Prof Essop se navorsing handel hoofsaaklik oor a) die uitwerking van chroniese stres op die aanvang van kardiometaboliese siekte, en b) die ontwikkeling van MIV-verwante kardiovaskulêre siekte. Hy het in 2021 die Fisiologievereniging van Suider-Afrika se gesogte toekenning vir lewenslange loopbaanprestasie ontvang as “gevestigde fisioloog wat oor 'n lang tydperk bewys gelewer het van volgehoue navorsingsuitnemendheid". Prof Essop het in 2018 ook 'n US Onderrigtoekenning (in die kategorie Vakkundige Opvoeder) ontvang en het in 2022 'n genoot van die nasionale program vir die bevordering van universiteitsonderrig (TAU) geword.

Prof Essop se onderrigfilosofie draai om 'n studentegerigte benadering wat die implementering van innoverende praktyke vir aktiewe leer vereis. Sy filosofie lê ook sterk klem op egtheid – nie net ten opsigte van wat die dosent na die klaskamer bring nie, maar ook die bevordering van ware, outentieke leer wat gepas is vir die werklike, komplekse wêreld. So 'n transformerende ervaring stel studente in staat om kritiese burgers en afgeronde beroepslui met meer deernis en empatie te word. Sulke studente kan as agente vir verandering optree terwyl hulle hedendaagse (en toekomstige) gesondheidsverwante uitdagings die hoof bied.

Prof Herman Kamper is 'n medeprofessor en nagraadse koördineerder in die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese, Fakulteit Ingenieurswese. Hy is 'n professionele ingenieur wat by die Ingenieursraad van Suid-Afrika (ECSA) geregistreer is en het 'n Y1-gradering van die Nasionale Navorsingstigting ontvang. Prof Kamper is in 2019 as die Fakulteit Ingenieurswese se ontluikende navorser van die jaar aangewys en het in 2022 die internasionale Instituut vir Elektriese en Elektroniese Ingenieurs (IEEE) se prys vir uitmuntende beoordelaar vir die Internasionale Konferensie oor Akoestiek, Spraak en Seinverwerking (ICASSP) ontvang. Boonop is hy die medestigter en organiseerder van die seminaarreeks en gespreksforum Matiesmasjienleer (MML).

Prof Kamper se onderrigfilosofie is daarop gerig om studente die drempelkonsepte in sy kursus te help verstaan en hulle die vaardighede te leer om hierdie konsepte op werklike probleme toe te pas. Dít bereik hy deur:

a) studente se geesdrif aan te wakker sodat hulle graag meer oor die vakinhoud wil leer;

b) studente konteks te gee sodat hulle die groter prentjie verstaan; en

c) studente toe te rus om hulle eie kennis te bou deur hulle te wys waar hulle die nodige hulpbronne kan kry en hoe om dit te gebruik.

Me Mareli Rossouw is 'n dosent in Finansiële Rekeningkunde in die Skool vir Rekeningkunde, Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe. Sy is 'n lid van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAICA) se bestepraktykgemeenskap oor kritiese denke en dien sedert 2020 as 'n nasiener vir SAICA se aanvanklike vaardigheidstoets (ITC). Sy is al vier keer deur haar eerstejaarstudente benoem as die dosent wat die grootste positiewe invloed op hulle akademiese prestasie gehad het. Boonop het haar studente haar in 2020 as die beste aanlyn dosent (voorgraads) aangewys. Me Rossouw is 'n lid van die EBW Fakulteit se hertoelatingskomitee en tree sedert 2013 as 'n Thuthuka-dosentmentor op.

Me Rossouw se onderrigfilosofie is gegrond op vertroue, persoonlike ontwikkeling, passie en kritiese denke. Sy glo dat:

  • leer sal plaasvind as studente glo in die leerreis en in die egtheid van die inhoud wat aangebied word, wat op sy beurt tot vertroue lei;
  • onderrig studente persoonlik én as leerders laat ontwikkel – sy gebruik assessering om verdere ontwikkeling aan te moedig;
  • onderrig studente in hulle leer moet motiveer en aanmoedig, wat sy probeer bereik deur self passievol en entoesiasties te wees; en
  • onderrig studente anders moet laat dink oor die werk wat hulle leer, en daarom moedig sy kritiese denke aan. 

Die Sentrum vir Onderrig en Leer wens graag hierdie drie dosente geluk met hulle prestasie en met hulle toewyding aan hulle onderrig én hulle studente se leer. Hulle sal hulle toekennings by 'n onderrig- en leerviering op 2 Maart 2023 ontvang. 

Vir navrae oor die US Onderrigtoekennings, kontak dr Karin Cattell-Holden by kcattell@sun.ac.za.

Op die foto's bo is (van links na regs) prof Faadiel Essop, me Mareli Rossouw en prof Herman Kamper.

Die toekenning vir vakkundige opvoeder word verleen aan dosente wat nadenkende praktisyns is, uit opvoedkundige literatuur put om oor hulle onderrigpraktyk en professionele groei na te dink, en ook verder beweeg as persoonlike besinning na waarneming en portuurbeoordeling van hulle onderrig (Onderrig- en Leerbeleid, 2018:4-5).

Die toekenning vir toonaangewende onderwysvakkundige gaan aan dosente wat vakkundige opvoeders is, deur publikasie tot bestaande onderrig- en leerkennis bydra, en institusionele, nasionale en internasionale leierskap op die gebied van onderrigpraktyk bied (Onderrig- en Leerbeleid, 2018:5).

Die toekenning vir onderrigsamewerking word verleen aan 'n groep van twee of meer akademici van dieselfde departement of verskillende departemente/fakulteite wat oor 'n onafgebroke tydperk saamgewerk het om 'n module, program of ander onderrigverwante projek (soos kurrikulumvernuwing) te ontwerp, te ontwikkel en te implementeer. Die module/program/projek moet ten tyde van die aansoek reeds minstens twee jaar in die implementeringsfase wees.