Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ses kernwaarhede wat COP27 opgelewer het
Outeur: Corporate Communication and Marketing | Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 01/12/2022

Professor Guy Midgley (waarnemende direkteur), Kerry-Anne Grey (koördineerder: wetenskaplike navorsing) en Kay Murray en Yenziwe Mbuysia (meestersgraadstudente) van die Universiteit Stellenbosch (US) se Skool vir Klimaatstudie het vanjaar COP27 bygewoon. Hier is ses van die belangrikste kernwaarhede wat hulle daar geleer het.  

 

1. Suid-Afrika aan die voorpunt van verskeie gesprekke.

Die afvaardiging van ons Universiteit, die enigste Afrika-lid van die Globale Alliansie van Universiteite oor Klimaat (GAUC), het in samewerking met ander Suid-Afrikaanse entiteite wat die geleentheid bygewoon het, unieke insigte oor Suid-Afrika by COP27 gebied – veral op GAUC-dag. Mnr Dhesigen Naidoo van die Presidensiële Klimaatskommissie (PKK) het splinternuwe perspektiewe gebied oor hoe ons teen 2050 net zero volhoubaar wil bereik. Dr Christopher Trisos van die Universiteit van Kaapstad se Afrika-klimaat en -ontwikkelingsinisiatief (ACDI) het 'n aanbieding oor die Afrika-tak van die Interregeringspaneel oor Klimaatsverandering (IPCC) se sesde assesseringsverslag gedoen. Die boodskap aan GAUC-lede was duidelik: Suid-Afrika het 'n grondige plan vir hulle 'Just Engergy Transition' – en kan iets betekenisvol tot die wêreldwye gesprek bydra wat deur grondige, sterk akademiese werk gerugsteun word.

 

2. Medewerking is die sleutel – end geleenthede soos COP bevorder die bou van netwerke.

Die Skool vir Klimaatstudie kon met baie bestaande en moontlike vennote, finansiers en medewerkers vergader om sodoende bestaande verhoudings te versterk en belowende nuwes aan te knoop. Die Netwerk van Universiteitnetwerke (gelei deur die Cambridge-Universiteit) bied veral 'n bykomende skakel wat verder as GAUC strek en tot groter medewerking oor klimaatskwessies tussen die wêreld se universiteite in die jare wat voorlê, sal lei.

 

3. Studente moet ingesluit en bemagtig word om deel te neem en by te dra.

As die veranderingsagente van môre, kan jong wetenskaplikes baie baat by hierdie eerstehandse ondervinding en insigte in die prosesse en onderhandelings wat by globale geleenthede oor klimaatsverandering plaasvind. Studente kan nie net 'n nuwe perspektief op belangrike onderwerpe bied nie, maar kan ook begin om idees te vorm oor hoe hulle toekomstige onderhandelings kan ondersteun en 'n leidende rol in die stryd teen klimaatsverandering kan speel. Gevorderde opleiding soos wat in die GAUC-kursus vir klimaatsveranderingambassadeurs aangebied word, bied uiters belangrike voorbereiding aan studente om uit 'n plek van kennis en begrip deel te neem en by te dra.

 

4. Akademiese instellings voeg waarde by, maar kruisbestuiwing tussen vakgebiede is uiters noodsaaklik

Universiteite kan 'n baie groter rol speel om leiding aan beleidsmakers en onderhandelaars te bied deur broodnodige wetenskapgebaseerde insigte en ondersteuning aan hulle te verskaf. Eerder as om teen mekaar mee te ding, kan Suid-Afrikaanse universiteite medewerking omarm en kyk hoe hulle navorsing kan deel ten einde hulle invloed by – en die uitkomste van – globale geleenthede soos COP te vergroot. Holistiese, multi- en kruisdissiplinêre benaderings sal die meeste waarde bied, aangesien die uitdagings ingewikkeld en veelvlakkig is. Platforms soos die Afrika-streeksforum oor Klimaat, gelei deur die Skool vir Klimaatstudie, is 'n ongelooflike ruimte vir akademici en navorsers om koppe bymekaar te sit en welingeligte oplossings te formuleer.

 

5. Afrika het baie sterker akademiese ondersteuning vir versterkte politieke verteenwoordiging nodig.

As ontwikkelende streke wat elkeen hulle eie, unieke uitdagings en oplossings het, het Afrika-lande die mag om nuwe perspektiewe op die versagting van en die aanpassing by klimaatsverandering te bied. Die US fokus al vir meer as 20 jaar op doelgerigte vennootskappe met kollegas regoor Afrika en die US Internasionaal se VOD/2063-impaknaaf werk op verskeie fronte baie nou saam met die Skool vir Klimaatstudie. Gewapen met hierdie kennis en ondervinding, kon die Skool met trots sy stem by die onderverteenwoordigde Globale Suide by COP27 voeg en nooi hulle ander invloedryke universiteite in Afrika uit om by hulle aan te sluit by COP28.

 

6. Daar is baie meer wat nog gedoen moet word – en geen tyd om te mors nie!

Hoewel daar vordering gemaak is by vanjaar se geleentheid, is daar baie wat nog gedoen moet ná COP ten opsigte van die implementering en oorskakeling van ooreenkomste na verbintenisse en dan verbintenisse na wetgewing. Die US se Skool vir Klimaatstudie is daartoe verbind om in die jaar wat voorlê, sy verhoudings met ander universiteite wêreldwyd te versterk en hoop om sy studente-afvaardiging na vier lede (op hopelik selfs meer) by COP28 te vergroot. Midgley beplan ook om verskeie van die insigte van COP27 by aanstaande jaar se kursusse en opleidingsprogramme in te sluit.