Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Living with little Monsters amptelik bekend gestel
Outeur: Bongiwe Mhlongo
Gepubliseer: 30/11/2022

Personeellede van die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs byeengekom om die amptelike bekendstelling van die boek​ Living with little Monsters te vier. Die publikasie is 'n wetenskaplike huishoudelike handleiding vir die gewone verbruiker wat lesers aan 'n verskeidenheid potensieel skadelike mikro-organismes bekend stel.

“Dit is sinneloos vir wetenskaplikes om al hierdie inligting oor kieme te hê as hulle dit nie aan ander oordra om die wêreld 'n beter plek te help maak nie." - Prof Stephen Forsythe, afgetrede professor in Mikrobiologie van Nottingham Trent-universiteit en lid van die adviesraad van die US se Departement Voedselwetenskap


Die voedselwetenskaplike dr Michaela van den Honert en prof Pieter Gouws van die Sentrum vir Voedselveiligheid aan die US het die jongste wetenskaplike data saamgestel om 'n omvattende lys beskrywings te skep van spesifieke mikrobes, sowel goeies as slegtes, waarvan gewone verbruikers moet weet. Sodoende kan hulle verbruikers en hulle gesinne help om gesonder, veiliger lewens te lei.

Die ingrypende koronaviruspandemie het die dringende behoefte onderstreep aan 'n beter begrip van mikro-organismes, hetsy virusse of bakterieë, om onsself beter daarteen te beskerm en die gevaar van ernstige infeksies te verlaag. Die ideaal sou wees dat elke huishouding verstaan hoe mikro-organismes mense en diere se gesondheid kan benadeel.

“Dit is belangrik dat almal 'n basiese begrip het van die mikro-organismes rondom ons, en veral hoe dit voedselveiligheid raak," sê dr Van den Honert. “Die boek is 'n manier om hierdie inligting aan almal oor te dra."

Verbruikerskakeling en -bewusmaking is een van die Sentrum vir Voedselveiligheid se hooftake. Living with little Monsters verduidelik ingewikkelde wetenskaplike beginsels op 'n leservriendelike manier. Die boek bevat ook verskeie illustrasies om noodsaaklike inligting op 'n praktiese manier oor te dra sodat lesers dit maklik in hulle daaglikse lewens kan toepas.

Michael Lee, wat ook tot die boek bygedra het, is ewe opgewonde oor die waarde van die publikasie. “Algemene onkunde oor die mikrowêreld om ons is 'n resep vir rampspoed. Daarom kan hierdie boek 'n lewensredder wees. Met die hulp van Living with little Monsters kan ons nou gesonder en veiliger met die mikrobiese wêreld leer saambestaan," sê hy.

“Ons het hierdie boek geskryf omdat ons glo dat elkeen 'n verhaal het om te vertel. Ons verhaal handel oor voedselorganismes, voedselveiligheid en verbandhoudende sake," voeg prof Pieter Gouws by. “Maar daar is ook soveel méér in die boek. As jy eers begin lees, sal jy gou besef hoe baie daar is wat jy moet weet en watter van jou gewoontes jy dalk moet verander."

Die dekaan van die Fakulteit AgriWetenskappe, prof Danie Brink, het die skrywers gelukgewens met die uitstekende produk. “Toe ek die boek gelees het, kon ek glad nie agterkom dat die hoofstukke deur verskillende mense geskryf is nie. Julle het uitstekend saamgewerk as 'n span, en die Fakulteit en Universiteit wens julle hartlik geluk."

Kry jou eksemplaar van Living with little Monsters by Takealot ​of Amazon.

 

 Fotokrediet: Franna Lombard