Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US klim verskeie plekke op wêreld-reputasieranglys
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 22/11/2022

Die feit dat die Universiteit Stellenbosch (US) se globale statuur besig is om toe te neem, is verder versterk met die aankondiging van die jongste Times Higher Education (THE) wêreldreputasieranglys vir universiteite

Die US, wat in die tweede plek vir Suid-Afrikaanse universiteite op die lys verskyn, het van 408 tot 351 op die ranglys verbeter.

Die 2022 THE-wêreldreputasieranglys vir universiteite is gegrond op die wêreld se grootste meningsopname onder uitgenooide senior gepubliseerde akademici. Vakkundiges word gevra om nie meer nie as 15 universiteite aan te wys wat hulle glo die beste vir navorsing en onderrig in hulle vakgebied is.

Die akademiese reputasiemeningsopname, wat in 12 tale beskikbaar is, gebruik data van die Verenigde Nasies as 'n riglyn om te verseker dat die reaksiedekking so verteenwoordigend moontlik van vakkundiges wêreldwyd is. 'n Vraelys teiken net ervare, gepubliseerde vakkundiges wat hulle siening bied oor uitnemendheid in navorsing en onderrig in hulle vakgebiede en by instellings wat hulle goed ken.

Die 2022-ranglys is gegrond op 'n opname wat tussen November 2021 and Februarie 2022 gedoen is en wat altesame 29 606 response uit 159 lande opgelewer het.

Wat die kriteria in die wêreldreputasieranglys aan betref, het die Universiteit meer algehele stemme ontvang, en het ook beter gevaar in navorsingsrang en -stemme en in onderrigrang en -stemme.

Prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake, sê die Universiteit se algemene verbetering op die THE-wêreldreputasieranglys vir 2022 dien as 'n verdere bewys daarvan dat die instelling al hoe meer as een van die wêreld se voorste navorsingsintensiewe universiteite beskou kan word. “Hierdie spesifieke ranglys is spesiaal aangesien dit op die mening van sommige van die wêreld se mees gesiene vakkundiges fokus. Om op hierdie manier erken te word, gee verdere stukrag aan die instelling se visie om as Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit erken te word wat wêreldwyd as uitnemend, inklusief en innoverend beskou word en kennis in diens van die samelewing bevorder."

Die Harvard-universiteit verskyn vir die 12de agtereenvolgende jaar heel bo aan die lys, en die VSA is met 56 instellings steeds die land wat die beste verteenwoordig word op die lys. Die top tien word oorheers deur Amerikaanse en Britse universiteite, met China se Tsinghua-universiteit wat die enigste uitsondering is en tot die negende plek gestyg het, en Japan se Universiteit van Tokio, wat drie plekke geklim het en tiende is op die lys.