Die Suid-Afrikaanse regering het tussen 1998 en 2020 R7,1 miljard (aangepas tot 2020-vlakke) spandeer om die verspreiding van indringerplante teen te werk, maar ons sukkel nog steeds om dit te beheer. Wat ons nodig het, is 'n nasionale strategie wat op duidelik-aangeduide prioriteitsgebiede fokus, wat beplanning en monitering verbeter en bedryfsdoeltreffendheid verhoog.
Dít is volgens 'n oorsigtelike ondersoek deur Brian van Wilgen van die Sentrum vir Indringerbiologie aan die Universiteit Stellenbosch, Andrew Wannenburgh van die Departement Bosbou, Visserye en die Omgewing en John Wilson van die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (SANBI). Die bevindings van hul studie het onlangs in die vooraanstaande wetenskaplike vaktydskrif oor bewaring, Biological Conservation, verskyn.
Die navorsers het die koste, omvang en doeltreffendheid van die bestuur van indringerplante deur die regeringsgefinansierde Werk vir Water-program tussen 1998 en 2020 – die land se grootste intervensie vir die bestuur van indringerplante en vir die ondersteuning van verskeie agentskappe of individue wat wetlik vir die beheer van hierdie indringerplante verantwoordelik is – oorsigtelik bestudeer.
Hulle het 'n breë raamwerk van aanwysers vir die oorsigstudie gebruik om insette (pogings om te reguleer, geldbesteding, beplanningsdekking en moeite wat gedoen is), uitsette (die aantal spesies en omvang van gebiede wat behandel is) en uitkomste (die doeltreffendheid van behandeling ten opsigte van verandering in die omvang van indringing en die herstel van biodiversiteits- en ekostelseldienste) op 'n nasionale vlak te meet. Hulle studie was gegrond op (1) ruimtelik-eksplisiete data oor pogings wat op uitgesoekte liggings en spesies vir beheer gemik was; (2) opnames van die omvang van indringing; en (3) gevallestudies oor beheerdoeltreffendheid.
Volgens die navorsers dui nasionale opnames daarop dat die verspreidingsgebied en weligheid van indringerplante die afgelope 20 jaar steeds toegeneem het. Hulle sê ook dat die doeltreffendheid van beheeraktiwiteite in nagenoeg 76 000 plekke wat oor 2,7 miljoen hektaar strek, nie gereeld gemonitor is nie en dat slegs sowat 14% van die geskatte gebied wat binnegedring is, onder hande geneem is. Meer as 'n kwart van die beheeraktiwiteite was nie in prioriteitsgebiede vir biodiversiteit en/of waterbesparing nie.
“Dit dui daarop dat die probleem te groot is om te verwag dat indringerspesies oral in die land doeltreffend beheer kan word," sê die navorsers.
“Hoewel daar sedert 1998 jaarliks R310 miljoen (aangepas tot 2020-vlakke) gespandeer is om indringerplante uit te roei, en hoewel vordering plek-plek gemaak is, het ons nog steeds nie die stryd gewen nie. Verskeie skattings dui daarop dat ons drie tot sewe keer meer geld benodig om indringerplante oral tot hanteerbare vlakke te verminder.
“Daar is dit dus uiters belangrik dat die beskikbare geld meer doeltreffend aangewend word om indringerplante in prioriteitsgebiede behoorlik te beheer."
Die navorsers sê Werk vir Water, wat as 'n moedige visionêre projek met prysenswaardige vordering in baie gebiede begin het, was nie in staat om sy aanvanklike doelwit te bereik om 20 000 werksgeleenthede te skep ten einde die stryd teen indringerplante in Suid-Afrika te wen nie.
“Hierdie wanverhouding tussen die droom en die werklikheid het deels ontstaan omdat daar noot voldoende geld beskikbaar was nie, maar ook omdat duidelike doelwitte nie gestel is nie. Daar was ook verskeie strukturele kwessies wat die beheer minder doeltreffend gemaak het as wat dit kon wees. Verder het onvoldoende monitering dit ook onmoontlik gemaak om die vordering wat gemaak is, op 'n betroubare wyse te na te spoor.
“Daar is 'n behoefte aan hoëvlakplanne met langtermyndoelwitte (vir 20 jaar en meer) vir prioriteitsgebiede waarvolgens mediumtermynplanne opgestel kan word wat die intervensies beskryf wat nodig is om sekere doelwitte oor vyf tot tien jaar te bereik. Hierdie mediumtermynplanne moet volgens jaarlikse bedryfsplanne in werking gestel en gemonitor word. Daarby bestaan daar ook 'n dringende behoefte daaraan om beskikbare skaars hulpbronne op prioriteitsgebiede te fokus indien betekenisvolle vordering gemaak wil word.
Die navorsers wys daarop dat Werk vir Water ondanks 'n gebrek aan behoorlike finansiering, steeds as 'n baie suksesvolle program beskou word.
“Dit het bewustheid oor die probleem van biologiese indringers geskep, aansienlike finansiering om die kwessie aan te spreek verseker, indringerplante oor groot gebiede uitgewis en het broodnodige werks-, opleidings- en ontwikkelingsgeleenthede geskep."
Hulle bly optimisties oor Werk vir Water en sê die program kan 'n positiewe rol speel om te verseker dat indringerplante doeltreffend beheer of indringing in bepaalde prioriteitsgebiede voorkom kan word mits sekere kwessies genoegsame aandag kry.
“Om dit te laat gebeur moet die vlak van finansiering egter verhoog word; die huidige suite van projekte moet beslis tot 'n bestuurbare stel binne prioriteitsgebiede verminder word; duidelike, doelwitgedrewe bestuursplanne vir prioriteitsgebiede moet vir die lang en medium termyn ontwikkel word; die gebruik van biologiese beheeragente moet maksimaal benut word; hoërisikospesies moet uitgewis word waar moontlik; en die doeltreffendheid van die bestuur van die indringerspesies moet verbeter word."
“Indien ons aanbevelings gevolg word, behoort alle prioriteitsgebiede bestuursplanne met duidelike doelwitte vir die medium en lang termyn te ontwikkel en in werking te stel," aldus die navorsers.
- Bron: Van Wilgen, B; Wannenburgh A; Wilson, J 2022. A review of two decades of government support for managing alien plant invasions in South Africa. Biological Conservation, Vol 274: doi.org/10.1016/j.biocon.2022.109741
Foto van die swart-wattelboom (Acacia mearnsii) indringerspesie met vergunning van Wikimedia Commons.