Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SBGS-navorsing lig WGO-riglyne oor soutinname in
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Birgit Ottermann
Gepubliseer: 08/11/2022

Navorsers aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Sentrum vir Bewysgebaseerde Gesondheidsorg (SBGS) het onlangs 'n Cochrane stelselmatige oorsig gedoen om die effek en veiligheid te bepaal van die vervanging van sout met lae-natriumsoutvervangers (LNSV).

Die span, gelei deur die senior navorser en geregistreerde dieetkundige prof Celeste Naudé, is deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) aangesê om die navorsing te doen as deel van die organisasie se pogings om die wêreldwye bevolking-soutinname te verminder. Die vermindering van bevolking-soutinname is belangrik vir die bestuur van nie-oordraagbare siektes wêreldwyd – te veel sout (natrium) dra by tot hoë bloeddruk wat kan lei tot hartaanvalle en beroertes.

“Ons stelselmatige oorsig ondersteun die ontwikkeling van 'n WGO-riglyn wat 'n aanbeveling sal bevat oor die gebruik van LNSV om natrium-inname in die dieet te verminder," verduidelik Naudé. “Die riglyn sal ook belangrike kontekstuele inligting verskaf om die interpretasie en implementering van die aanbeveling vir kliniese praktyk of openbare gesondheidsbeleid te fasiliteer."

Nieteenstaande baie lande soutverminderingsprogramme begin het, is min vordering gemaak om die WGO se teiken te bereik van 'n 30%-vermindering van die wêreldbevolking-soutinname teen 2025.

“Die riglyn en aanbeveling kan deur die 194 WGO-lidlande gebruik word in hul besluitnemingsproses om te bepaal of die gebruik van LNSV vir die vermindering van dieet-natriuminname in hul strategieë of beleide ingesluit moet word om die kardiovaskulêre gesondheidsprobleme en siektelas in hul lande aan te spreek," sê Naudé.

'n Stelselmatige oorsig het ten doel om al die empiriese bewyse te identifiseer, te beoordeel en te sintetiseer wat aan voorafgespesifiseerde geskiktheidskriteria voldoen om 'n spesifieke navorsingsvraag te beantwoord. Vir hierdie spesifieke oorsig het die SBGS-navorsingspan vyf elektroniese databasisse en proefregisters deursoek vir studies wat die gebruik van LNSV met die gebruik van gewone sout vergelyk het, en deur meer as 6 000 titels en opsommings in die proses gesif.

“Ons het die resultate van die studies vergelyk en opgesom en ons vertroue in die gekombineerde bewyse beoordeel, gebaseer op faktore soos studiemetodes en -groottes. Deur die resultate van 26 proewe saam te voeg, het ons gevind dat in vergelyking met gewone sout, LNSV waarskynlik bloeddruk, nie-dodelike kardiovaskulêre gebeure en kardiovaskulêre sterftes effens verlaag, maar ook waarskynlik bloedkalium effens verhoog by volwassenes," verduidelik Naudé.

Kaliuminname is ter sake aangesien die meeste LNSV 'n gedeelte van die natrium vervang met soute wat kalium bevat.

“Dis belangrik om te ag dat ons nie vaste gevolgtrekkings kon maak oor die effek en veiligheid van LNSV in die algemene bevolking nie, aangesien bewyse beperk is vir kinders, swanger vroue, diegene wat bewus is van hul risiko vir hoë bloedkalium, en dié wat nie hoë bloeddruk het nie," sê sy. “Ons is ook onseker oor die uitwerking van LNSV wanneer dit gebruik word in voedsel wat nie tuis voorberei word nie (bv. vervaardigde kosse), omdat die meeste van die bewyse afkomstig is vanaf studies waar LNSV op die tafel gebruik of tydens die kookproses bygevoeg word."

Naudé het die WGO se opdrag vir ʼn oorsig gefasiliteer en was die senior outeur, ondersteun deur die SBGS se Amanda Brand as eerste outeur, en Marianne Visser en Anel Schoonees as mede-outeurs.

“Die WGO het internasionaal erkende metodes en standaarde vir riglynontwikkeling aangeneem," verduidelik sy. “Hierdie metodes vereis dat aanbevelings in WGO-riglyne gebaseer is op 'n stelselmatige, deursigtige en omvattende assessering van die balans van die potensiële voor- en nadele van 'n spesifieke beleid of intervensie, en eksplisiete oorweging van ander relevante faktore, soos haalbaarheid en hulpbronimplikasies.

“Ek het die bevindinge van ons stelselmatige oorsig aan die WGO-riglynontwikkelingsgroep wat verantwoordelik is vir hierdie riglyn (die WHO Nutrition Guidance Expert Advisory Group (NUGAG) Subgroep oor Dieet en Gesondheid) voorgelê. Ons het ook aan verskillende vergaderings deelgeneem waar ons bevindinge oorweeg is tesame met ander relevante bewyse om hul omvattende assessering in te lig en 'n aanbeveling te formuleer oor die gebruik van LNSV om natrium-inname te verminder."