Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Eredoktorsgraad in Handel vir SG van die ​Afrika-navorsings-universiteitsalliansie
Outeur: Ronél Beukes
Gepubliseer: 07/11/2022

Die Fakulteit is verheug dat prof Ernest Aryeetey, die stigtersekretaris-generaal van die Afrika-navorsingsuniversiteitsalliansie, een van die uitgelese individue is wat vanjaar 'n eredoktorsgraad van die Universiteit Stellenbosch ontvang.

Prof Aryeetey sal die graad Doktor in die Handel (DCom), honoris causa, by die Universiteit se jaareindgradeweek van 5 tot 9 Desember 2022 ontvang.

Dié voormalige visekanselier van die Universiteit van Ghana is die stigtersekretaris-generaal van die Afrika-navorsingsuniversiteitsalliansie (ARUA), 'n netwerk universiteite wat hulle op navorsingsvermoëbou op die vasteland toespits. Nadat ARUA tot stand gebring is, het Aryeetey die leiding geneem en 13 navorsingsgebiede geïdentifiseer om interdissiplinêre navorsingsamewerking te fasiliteer, en ook 11 ARUA-sentrums van uitnemendheid gestig. 

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, sê: “Die ontvangers van eredoktorsgrade vanjaar is uitsonderlike individue wat aansienlik tot hulle onmiddellike gemeenskappe sowel as die wêreld in die algemeen bygedra het. Hulle prestasies spreek vanself, en die Universiteit is trots daarop om met hulle verbind te word."

Voor sy aanstelling as visekanselier van die Universiteit van Ghana, was prof Aryeetey 'n senior genoot en direkteur van die Africa Growth Initiative by die Brookings Istituut in Washington, DC. Hy is ook 'n voormalige direkteur van die Instituut vir Statistiese, Sosiale en Ekonomiese Navorsing (ISSER) van die Universiteit van Ghana te Legon (2003-2010).

Prof Aryeetey het boeke oor finansiële integrasie en ontwikkeling in Afrika suid van die Sahara, asook ekonomiese hervormings in Ghana geskryf. Die boek “The Economy of Ghana Sixty Years after Independence" deur hom en medeskrywer Ravi Kanbur (in 2017 gepubliseer deur Oxford University Press) is een van sy bekendste publikasies. Hy was die tweede ontvanger van die Michael Bruno-toekenning van die Wêreldbank wat 'n besoekende akademikus in Mei-Oktober 1998 geword het.