Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Adriaan van Niekerk help om oesopbrengste te verbeter en land- en waterhulpbronne volhoubaar te bestuur
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 03/11/2022

Prof Adriaan van Niekerk, Direkteur van die Sentrum vir Geografiese Analise en 'n professor in geografie en omgewingstudies aan die Universiteit Stellenbosch, het onlangs sy professorale intreerede, getiteld 'Datawetenskap: Geleentheid of bedreiging?', gelewer. Hy het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gesels oor hoe die inligting wat hy van beelde verkry wat oor 'n afstand waargeneem is (Aardewaarneming) die landbou- en bosboubedryf help om oesopbrengste te verhoog en ons beperkte land- en waterhulpbronne volhoubaar te bestuur.

Vertel ons meer oor u navorsing en waarom u in hierdie spesifieke vakgebied belangstel.

Ek het reeds op 'n vroeë ouderdom in rekenaars begin belangstel. Gevolglik het ek vir 'n BSc-graad met rekenaarwetenskap as een van my hoofvakke ingeskryf. In daardie stadium was die keuse beperk vir 'n tweede hoofvak. As ek reg onthou, was dit óf wiskunde, óf fisika of geografie. Aangesien ek geografie op hoërskool geniet het, het ek dit as my tweede hoofvak gekies. In my derde jaar het een van my geografieprofessors vir ons 'n satellietbeeld gewys en die skoonheid daarvan het my heeltemal oorbluf. Ek het dadelik geweet ek wou die res van my lewe satellietafstandswaarneming doen. Die gebruik van rekenaarwetenskap om nuttige inligting te verkry van beelde wat oor 'n afstand waargeneem is (Aardewaarneming) het natuurlik hierby ingepas.

Beskryf die toepaslikheid van u werk.

Aardewaarneming word op talle maniere gebruik om besluite oor grondbenutting, asook oor biogeografiese, omgewings-, landbou, water- en sosio-ekonomiese probleme te ondersteun. Ek fokus meestal op die gebruik daarvan in die landbou en bosbou. Aardewaarneming is ideaal om oeste en woude te monitor, aangesien dit oor groot gebiede strek. Ek werk nou saam met die landbou- en bosboubedryf om oplossings vir die verbetering van oesopbrengste te vind en om ons beperkte grond- en waterhulpbronne volhoubaar te bestuur.

Vertel ons watter aspekte van u werk u die meeste geniet.

Ek hou die meeste van probleemoplossing. Dit is wonderlik om te sien hoe 'n idee in 'n bedryfstelsel ontwikkel wat probleme oplos.

Die pandemie het ons werk- en leefwyse verander. Hoe het u gemotiveerd gebly gedurende hierdie tyd?

Die pandemie was uit 'n onderrigoogpunt uitdagend omdat opleiding in Aardewaarneming dikwels individuele bestuur behels. My navorsing is nie te veel deur die pandemie geraak nie. My gesin en musiek het my gemotiveerd gehou.

Vertel ons iets buitengewoons oor uself wat ander mense nie sal verwag nie.

Nadat ek my skoolloopbaan voltooi het, het ek besluit om 'n kunstenaar te word en het toe vir 'n rukkie grafiese ontwerp gestudeer. Maar ek het dit weens persoonlike omstandighede laat vaar en toe besluit om eers my verpligte weermagopleiding te voltooi. Ek het in die weermag as 'n grafiese ontwerper gewerk, maar het nie baie daarvan gehou nie, en vandaar my besluit om 'n loopbaan in rekenaarwetenskap te volg.

Vertel ons wat u in u vrye tyd doen wanneer u nie met lesings en navorsing besig is nie.

Ek hou daarvan om rekenaarspeletjies te speel, na musiek te luister en om die baskitaar te speel.