Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
MGD se nalatenskap van bykans ses dekades sal deur die US voortleef
Outeur: Sandra Mulder
Gepubliseer: 01/11/2022

Maties Gemeenskapdiens (MGD) is ná intensiewe oorlegpleging oor ʼn tydperk van twee jaar uiteindelik by die Universiteit Stellenbosch (US) se Afdeling vir Sosiale Impak (ASI) geïntegreer.

Dít nadat met ʼn meerderheid van stemme op die algemene jaarvergadering op 20 Oktober besluit is dié 58-jarige nie-regeringsorganisasie (NRO) moet deel van die US word. Die vergadering is deur sowat 70 mense bygewoon, insluitende lede van MGD, asook personeellede en studente van die US.

Dit het ʼn einde gebring aan ʼn intensiewe konsultasie- en ondersoekproses oor twee jaar na die volhoubaarheid van die integrasie van MGD by die US en die verlies van dié diens se NRO-status.

Ter ondersteuning van die inlywing het prof Nico Koopman, Adjunk-visekanselier: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, gesê hy het volle vertroue dat die integrasie die beste besluit is nadat al die korrekte prosesse gevolg is.

“Verskeie rolspelers is in ʼn intensiewe proses geraadpleeg en dit was nie ʼn skielike besluit nie. Daar is wyd intern geraadpleeg, asook met eksterne rolspelers. Ek is tevrede dat die proses op ʼn gevarieerde, inklusiewe, konsulterende en verantwoordelike manier plaasgevind het," het Koopman gesê.

Hy het benadruk dat MGD se fokus op betrokke burgerskap “al hierdie jare een van die hoekstene van die sosiale impak-mandaat van die US was. MGD is ʼn onontbeerlike deel van die US se sosiale impak-opdrag".

Prof Ronelle Carolissen, Voorsitter van die MGD-raad, het gesê MGD het nog altyd ʼn sterk voetspoor in gemeenskappe gehad. “Ek glo MGD se nalatenskap sal van krag tot krag gaan en al moes ons almal die afgelope twee jaar moeilike lesse leer, is die MGD se rol in die inisiëring en ondersteuning van intervensies en studenteleer vir sosiale impak onmiskenbaar," het sy gesê.

Die konsultasieproses oor die toekoms van MGD het in 2020 begin toe Rudy Oosterwyk aangestel is om dié diens se strategiese posisie en volhoubaarheid te ondersoek. Hy het gesprekke met belanghebbers gefasiliteer en gevind dat MGD se missie met die US se strategiese waardes en missie ooreenkom. In Julie 2021 is Dr Jerome Slamat, voormalige Uitvoerende Bestuurder in die Rektor se Kantoor, aangestel om die integrasie van MGD in die ASI te ondersoek.

Studentebetrokkenheid en studenteleer is die sleutel

Etlike studente het tydens ʼn paneelbespreking op die algemene jaarvergadering van hul ervarings met die MGD vertel. Renee Hector-Kannemeyer, Hoof van MGD en Adjunk-direkteur van die ASI, het die paneelbespreking gemodereer en MGD se missie van studente- en gemeenskapsbetrokkenheid en studenteleer benadruk.

Stefani Terblanche en Stanley Msiska, studente wat onlangs Unite 2030 se Kamp 2030 in New York bygewoon het, het MGD vir sy toewyding tot studenteleer bedank. Hulle het ook hul dank uitgespreek omdat dié diens hul bywoning van hierdie internasionale jeugbyeenkoms gefasiliteer het, wat hulle in staat gestel het om te leer, te innoveer en te help om globale sosiale uitdagings op te los.

1-36.jpg

Precious Nhamo, voormalige Sosiale Impak-leier in die Studenteraad, het gesê MGD het haar altyd met haar sosiale impak-aktiwiteite gehelp. As die huidige primaria van Huis Ten Bosch, het Nhamo ʼn beroep gedoen dat studentebetrokkenheid, -mentorskap en finansiële steun altyd die kern van MGD sal bly, veral ná die integrasie. 

Bradley Bloomfield, wat die 2022-kortkursus in Gevorderde Betrokke Burgerskap van MGD voltooi het, het gesê hierdie e-tutorkursus skep baie geleenthede vir verdere groei en om ʼn wêreldburger te word.

In reaksie op die studente se opmerkings het Koopman hulle gerus gestel dat MGD se baie belangrike studentebetrokkenheid in die herverbeelde ASI geprioritiseer, volgehou en voortgesit sal word.

Die pad vorentoe 

Voor die integrasie het Hector-Kannemeyer en Michelle Pietersen, senior programbestuurder van MGD, met studenteleiers en gemeenskapsvennote vergader om te bespreek hoe die integrasie hul verhouding en interaksie sal raak.

“MGD se historiese visie is om die US se voetspoor in omliggende gemeenskappe deur middel van vrywilligerswerk deur studente uit te brei. Hierdie werk bly ʼn kardinale deel van die US se institusionele plan deur sy Sosiale Impak-strategie. MGD se personeel het hierdie mandaat amper ses dekades lank uitgevoer. Die Universiteit maak op MGD staat vir die inwerkingstelling van hierdie program en om ondersteuning te verleen aan akademiese departemente wat direk by gemeenskapsinteraksie betrokke is. MGD help studente ook om gepaste en geteikende reaksies te ontwikkel wat op die gemeenskap se behoeftes gegrond is," het Hector-Kannemeyer verduidelik.

“Die integrasiemodel bied ʼn geleentheid vir die hertoewysing van fondse in die bereiking van die doelwitte wat in die US se Sosiale Impak-strategie uiteengesit word. Betrokke burgerskap sal een van die kern-fokuspunte van die herverbeelde ASI word, wat die volhoubaarheid van MGD se werk sal verseker," het Hector-Kannemeyer bygevoeg.

Die integrasie van MGD met die ASI sal operasionele onsekerheid voorkom, asook ʼn gebrek aan ooreenstemming met die US se strategiese institusionele plan. “Daar is dus geen strategiese waarde of operasionele beweegrede om ʼn NRO te behou wat essensieel die werk van die Universiteit doen soos wat in sy strategiese plan verwoord is en wat in die MGD-grondwet uiteengesit word nie," het Hector-Kannemeyer verduidelik.

Vir Koopman is die integrasie ʼn opwindende ontwikkeling, wat toon dat MGD oor die afgelope vyf dekades gegroei het. “Belanghebbers sal nou deel van ʼn breër ASI en sy vennootskappe wees, wat ʼn kardinale deel van ons werk is. Wanneer MDG dus in die ASI geïntegreer word, moet die vennootskappe wat ons koester versterk word," het Koopman gesê.

​Dr Leslie van Rooi, Senior Direkteur van Sosiale Impak en Transformasie, het saamgestem: “Die integrasie sal die US in staat stel om steeds op MGD se historiese werk voort te bou. Die ASI is gereed om homself deur die integrasie met MGD te verfris. Dit sal nuwe energie en moontlikhede bring, nie net vir die ASI nie, maar vir ons Universiteit as ʼn geheel." 

Fotograaf: Henk Oets