Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Anita Bosch help bevorder groter insluiting van vroue in die werkplek
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 27/10/2022

Prof Anita Bosch van die Stellenbosch Bestuurskool in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe het onlangs haar professorale intreerede gelewer met die titel “Balansering van regverdige uitkomste: Werk deur die lens van vroue". Sy het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gesels oor hoe haar navorsing die insluiting van vroue in die werkplek bevorder.

Vertel ons meer oor jou navorsing en hoekom jy in hierdie spesifieke veld begin belangstel het.

My navorsing fokus op vroue by die werk. Dit bied onder meer teoretiese lense waardeur die patrone van stadige vordering na regverdige uitkomste vir vroue in die werkplek verstaan kan word. Hierdie navorsing is ook deel van my leefwêreld. Ek glo dat geslag – ʼn meesteridentiteit van elke mens – ʼn vereenselwigbare poort bied tot die verstaan van die kompleksiteite van werkplekdiversiteit en -insluiting en, uiteindelik, om te behoort. Voor ek die akademie betree het, het ek in boekhouding, menslike hulpbronontwikkeling en betaalstelsels in die private sektor gewerk, waar ek ook leierskapsposisies beklee het. Ek het ʼn verandering in my identiteit ervaar toe ek ʼn ma geword het. Dit was ʼn waterskeidingsoomblik vir my.

Hoe sou jy die toepaslikheid van jou werk beskryf?

Om finansieel onafhanklik te wees en na diegene wat van jou afhanklik is te kan omsien, is deel van elke volwassene se lewe. My werk gaan daaroor om vroue na finansiële onafhanklikheid te laat vorder deur werkplekinsluiting, asook om werkplekpraktyke en -kulture so te vorm dat die talente wat vroue bied, aanvaar en omarm word. Finansiële onafhanklikheid gee vir jou ʼn stem en die vermoë om te kies. Dis essensieel in die herkalibrering van magsverhoudinge tussen mans en vroue wanneer gender in die binêre geslagsverhouding oorweeg word.  

Watter aspekte van jou werk geniet jy die meeste?

Ek geniet die interaksie met studente en senior leiers oor hul aannames oor vroue by die werk. Ek geniet dit ook om dop te hou hoe ander mense oomblikke van insig beleef en myself in te lig oor maniere waarop mense hul lewenservarings wat met gender verband hou, konstrueer. Dit verskaf my groot plesier om die publiek op te voed oor ons kollektiewe verantwoordelikheid om toekomstige generasies te vorm wat betref die groter insluiting van vroue in die werkplek.

Die pandemie het die manier verander waarop ons lewe en werk. Wat het jou in hierdie tye gemotiveer gehou?

Om te weet dat alle dinge uiteindelik verbygaan, selfs pandemies.

Hoe bestee jy jou vrye tyd weg van lesings en navorsing?

Dit is goed bekend dat die meeste vroue se vrye tyd dikwels opgeneem word deur die ontwikkeling van die gesin en die versorging van die huishouding. Ek het derhalwe nie vrye tyd, ʼn 'wegkom van dit alles' en spesifiek tyd vir myself nie. Dis ʼn seëning.