Meer moet gedoen word om te verseker vroulike sportafrigters in Afrika bereik die elite-vlak van afrigting. Só meen dr Nana Adom-Aboagye van Maties Sport in ʼn meningsartikel wat die Mail & Guardian Maandag (24 Oktober) geplaas het.
- Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.
Nana Adom-Aboagye*
Suid-Afrikaners gloei nog oor Banyana Banyana se onlangse triomf in die Afrika-Nasiesbeker vir Vroue (Wafcon) in Marokko. Wat hierdie sege selfs soeter gemaak het vir my as ʼn navorser oor vroue in sport, is dat ʼn vroue-afrigter die span na ʼn oorwinning gelei het. Ook interessant is dat net drie spanne uit die 12 by vanjaar se Wafcon deur vroue afgerig is, terwyl vyf van die spanne vroue-afrigters gehad het toe hulle vir die toernooi gekwalifiseer het. In teenstelling is ses van die 16 spanne by UEFA (die Unie van Europese Sokkerverenigings) se EURO 2022 vir Vroue deur vroue afgerig is. Die twee toernooie het feitlik gelyktydig plaasgevind.
Julle wonder dalk hoekom dit belangrik is. Dis belangrik omdat, ondanks die feit dat Suid-Afrika die weg vir Afrika-lande aanwys wat ʼn verbintenis tot internasionale genderpolitiek en -voorskrifte in sport betref, vroulike afrigters in Afrika steeds sukkel om na afrigtingsposte op elite-vlak op die kontinent deur te breek. Hierdie kwessie word verder toegelig deur ʼn onlangse onderhoud met Liz Mills, die eerste en steeds enigste vrou om ʼn span in Afrobasket – die Afrika-basketbaltoernooi vir mans – af te rig. In die onderhoud het Mills, wat van Australië afkomstig is, erken hoe haar werk in Afrika haar gehelp het om haar loopbaan te bevorder en was sy vol lof vir die talle geleenthede wat in sport in Afrika beskikbaar is. Maar sy het ook erken dat as sy van Afrika was, sy haarself dalk nie in haar huidige bevoorregte posisie (as ʼn vrou) sou bevind het nie.
Soos soveel vroue van meer bevoorregte ekonomieë, weet Mills dat daar strukture en beleide in hierdie lande in plek is om vroue te help om hul afrigtingsloopbane tot elite-vlakke uit te bou. Hierdie strukture en beleide is op hul beurt grootliks beïnvloed deur akademiese navorsing oor die ervarings, uitdagings en behoeftes van vroue-afrigters.
In ʼn navorsingsessay wat onlangs gepubliseer is, het ek akademiese artikels bekyk wat op vroue in sportafrigting fokus en wat sedert 1994 gepubliseer is. Dit was die jaar waarin die vroue-in-sport-beweging globaal geformaliseer is, met die stigting van die Internasionale Werkgroep (IWG) vir Vroue en Sport en die aanvaarding van die Brighton-verklaring. My oorsig van artikels met die ervarings van vroulike sportafrigters as die fokuspunt (in geheel of gedeeltelik), het 125 publikasies van 1994 tot vandag ingesluit. Hiervan was 65 van die VSA; 29 van Europa; 18 van Kanada; nege van Asië-Pasifies en vier van Afrika (Suid-Afrika). Om dit verder in perspektief te stel: Die navorsing in Suid-Afrika (en dus Afrika) oor vroue in sportafrigting en hul ervarings maak 3,2% van die huidige globale navorsingsuitset uit.
Vier hooftemas of -kwessies wat vroue in sportafrigting kniehalter, het aan die lig gekom: (i) stereotipes en wanopvattings; (ii) gebrek aan kennis; (iii) kulturele verwagtinge en gesinsuitdagings; en (iv) gebrek aan geleenthede en strukturele hindernisse. Hierdie kwessies raak vroue in sport wêreldwyd. Dit kom in variërende vorms voor, afhangend van die streek, kultuur en konteks waarin vroue hulle in afrigting bevind. Wêreldwyd, maar selfs meer so in nywerheidslande, kon diegene wat betrokke is by vroue in sportafrigting van sulke studieresultate gebruik om besoldiging vir hul afrigtingsdienste te beding. Diegene wat gelukkig genoeg is om professionele afrigters te wees, het ook navorsing en gewysigde beleide en voorskrifte gebruik om vir meer gunstige indiensnemingsvoorwaardes te beding.
Ongelukkig is Suid-Afrika (en waarskynlik ook Afrika) nog ver agter ons globale eweknieë wat die vermeerdering van die getal vroue-afrigters betref. Dit is die geval weens bykomende onderliggende kwessies (benewens dié wat hierbo genoem word) wat vroue in die sportafrigtingsomgewing raak. En oplossings vir hierdie onderliggende kwessies word nie vinnig genoeg gevind nie. Die vier Suid-Afrikaanse studies waarna voorheen verwys is, het bykomende kwessies geïdentifiseer wat vroue raak wat sportafrigters wil word.
Vrywillige dienslewering is die hoofvorm van werwing vir talle vroue wat ʼn sportafrigtingsloopbaan wil volg. Dit is so omdat ʼn formele afrigtingsakkreditasie nie soos in ander dele van die wêreld ʼn vereiste in Suid-Afrika is nie. Dit bring mee dat talle vroue óf gratis afrig, óf ʼn klein toelaag ontvang. Vergeleke met hul manlike eweknieë kan die meeste vroue-afrigters in die land nie op ʼn afrigtingsalaris of -vergoeding alleen oorleef nie. Baie min vroue is trouens bevoorreg genoeg om ʼn betalende loopbaan in sportafrigting te hê. En daardie vroue is gewoonlik in universiteitsport of in sokker te vinde.
Weens die gebrek aan steun, mentorskap en leiding van federasies om hul afrigtingsakkreditasie (en dus hul loopbane) te bevorder, beleef baie vroue-afrigters werkonsekerheid. Dieselfde geld nie die meeste manlike afrigters nie. Dit is ʼn goed bekende (dog onuitgesproke) feit dat talle mans loopbaanvoorligting en geleenthede kry om hul afrigtingsloopbane uit te bou, veral nadat hulle uit professionele sport getree het.
Sokker is die enigste sport in die land wat oënskynlik probeer om aan vroue-afrigters geleenthede te bied om hul loopbane te bevorder. Dit kan moontlik die geval wees danksy die onvermoeide pogings van individue soos Fran Hilton-Smith hier en op die vasteland. Afrika se sokkerbeheerliggaam, CAF, het ook onlangs pogings in die streek begin ondersteun vir vroue wat sokker op die hoogste vlak wil afrig. Dis ʼn voorbeeld van geïsoleerde pogings wat prysenswaardig is, maar nie naastenby genoeg nie.
Vroue wat op die hoogste vlak wil afrig, het meer as sportspesifieke vaardigheidsopleiding, kennis en ervaring nodig soos wat hulle tans in Afrika kry. Dit kan ook die rede wees hoekom meer vroue nie na topvlak-afrigting vorder nie. Vroue-afrigters het volronde afrigtingsonderrig en -opleiding nodig wat hul leierskap- en sakevernufvaardighede sal ontwikkel en versterk, sowel as die nodige bevoegdhede om op ʼn elite-vlak te funksioneer. Sodanige opleiding word tans in die Verenigde Koninkryk deur die Women In Sport High Performance Pathway (WISH) op die proef gestel, met finansiering van die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK).
Ondanks die IOK se ondersteuning kan net ʼn beperkte getal vroue, veral vroue uit Afrika, in WISH opgeneem word. Dit hou verband met die afrigters se vermoë, asook die koste verbonde aan die ontwikkeling en ondersteuning van deelnemers (deur hul nasionale federasies) om die program by te woon.
WISH kan in Afrika gedupliseer word. Ons het die menslike hulpbronne in Suid-Afrika en die res van die vasteland om dit te doen. Ons het akademici en sportadministrateurs wat (sportspesifieke of generiese) uitdagings wat vroue-afrigters in die gesig staar, verder kan ondersoek. En wat daardeur Afrosentriese, dog globaal relevante afrigtingsonderrig en -opleiding kan formuleer ter aanvulling van die huidig beskikbare afrigtingsertifisering en -lisensiëring wat deur federasies aangebied word.
Maar dit kan net gebeur as gesindhede verander en sportnavorsers meer steun ontvang wanneer hulle met federasies in gesprek probeer tree oor kwessies wat vroue in sport raak. Navorsers is nie die vyand van federasies nie. Ons wil net blywende oplossings help vind vir hardnekkige sistemiese uitdagings vir vroue en meisies in sport. As ons dit kan regkry, kan ons groter potensiaal op hierdie gebied ontsluit as die geïsoleerde pogings wat ons tans sien.
*Dr Nana Adom-Aboagye is die Waarnemende Hoof van die Sentrum vir Sportleierskap by Maties Sport aan die Universiteit Stellenbosch. Hierdie artikel is deels gegrond op haar navorsingsessay wat onlangs in Frontiers in Sports and Active Living gepubliseer is.