Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
​​Op weg na die herstelling van waardigheid
Outeur: Corporate Communication and Marketing | Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 25/10/2022

Die 2022- Internasionale Konferensie en Beraad oor Maatskaplike Geregtigheid het moeilike vrae gestel en is met betekenisvolle antwoorde beloon. Ons skets die temas van die konferensie breedweg en berig oor van die Universiteit Stellenbosch (US) se bydraes daartoe.

 

“As ons nie aandag aan die verlede gee nie, sal dit aanhou om ons pogings in die wiele te ry om na die toekoms te reik terwyl ons die hede navigeer." 

Hierdie uitdaging is met die opening van die tweedaagse Internasionale Konferensie en Beraad oor Maatskaplike Geregtigheid in Oktober 2022 gerig deur Prof Thuli Madonsela, bekleër van die Regstrust-leerstoel in Maatskaplike Geregtigheid aan die US.

Die geleentheid – wat bestaan het uit die 3de Jaarlikse Internasionale Konferensie oor Maatskaplike Geregtigheid op 11 Oktober en die 4de Jaarlikse Beraad oor Maatskaplike Geregtigheid op 12 Oktober – het van Suid-Afrika se mees betrokke en toekomsgerigte aktiviste, hooggeplaastes en akademici byeen gebring vir ʼn verdieping in en verwisseling van denke oor kwessies wat die verskil kan beteken tussen ʼn moreel stagnante en ʼn potensieel progressiewe toekoms.

Die tema van vanjaar se Konferensie en Beraad was “Restitusie" en elke spreker – afkomstig van regoor Suid-Afrika tot by plekke soos Oxford in die Verenigde Koninkryk, Freiburg in Duitsland en Georgetown in die VSA ­– is uitgedaag om die komplekse en fassinerende konsep van historiese regstelling te interpreteer.

“Die woordeboekdefinisie van restitusie is die terugbesorging van iets wat verlore of gesteel is aan die regmatige eienaar. Maar die definisie wat ek verkies, is om mense wat verkeerdelik van iets ontneem is, so na as moontlik te plaas aan waar hulle sou gewees het as daardie ongeregtigheid nie in die eerste plek plaasgevind het nie," het Madonsela gesê.

“Dit is ʼn subtiele, dog belangrike onderskeid. Terwyl dit onmoontlik is om ʼn vervloë status quo te herstel, is dit wel moontlik om die verlies aan waardigheid te herstel wat soveel mense se lewe verwoes het."

Madonsela het voorts verwys na die interdissiplinêre aard en wydverspreide kultuur van maatskaplike ongeregtigheid by die US. Haar span oorweeg om saam met die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke ʼn algoritme te ontwikkel wat die huidige sosio-ekonomiese posisie kan bereken van individue of groepe wat deur ongeregtigheid geraak is as daardie ongeregtigheid nooit sou plaasgevind het nie.

Gemeenskaplike temas van die Konferensie en Beraad het ingesluit die uitdagings en ontoereikendheid van reaksies op historiese onteiening, die belang van bekentenis en aanspreeklikheid in die restitusieproses, die rol van onderriginstellings in die skep van betekenisvolle verandering, asook die wanbalans en interseksionaliteit van die gevolge van ongeregtigheid. Voorts is die belang van die Musa-plan vir Maatskaplike Geregtigheid bevestig. Dié plan het die versnelling van maatskaplike geregtigheid ten doel en is genoem na Palesa Musa, wat as 12-jarige kind deur die Apartheidsregering in hegtenis geneem is en wat ʼn spreker by die Beraad was.

Die volgende onderwerpe is by parallelle wegbreeksessies bespreek: Rykdom, Inkomste en Ekonomiese Geregtigheid; Gesondheid en Welstand, Gesins- en Sosiale Lewe; Grond, Behuising en Ruimtelike Gelykheid; die Impak van Digitalisasie en Innovasie op die Media, Onderrig en Epistemologie; asook Openbare Bestuur, Demokratiese Leierskap en Toegang tot Geregtigheid.

Met die COP27-klimaatsberaad op hande, was die kwessie van klimaatsverandering as ʼn kardinale oorweging in die maatskaplike geregtigheidsdiskoers ook ter sprake. Soos Angelo Fick van die Auwal-instituut vir Sosio-ekonomiese Navorsing dit so goed gestel het: “Ons is in die middel van die grootste uitwissingsgebeurtenis in 65 miljoen jaar… As ons as ʼn spesie op enige betekenisvolle manier verder as die huidige eeu wil voortbestaan, sal ons verbeelding oor restitusie verder as die bloot menslike moet strek. Dit sal die mens moet artikuleer as slegs een van die talle ander lewensvorme wat moet oorleef as die mens wil oorleef. En dít verg ʼn veel meer radikale bevraagtekening van ons idees oor restitusie, asook ons idees oor maatskaplike geregtigheid."

In haar toespraak het die US se nuwe Adjunk-visekanselier, Prof Sibusiso Moyo, die Universiteit se Restitusiestelling aan die afgevaardigdes voorgelees, wat onder meer lui:  

Die Universiteit Stellenbosch erken sy onlosmaaklike verbondenheid met die geslagte van die verlede, hede en toekoms... [en] sy bydrae tot die onregte van die verlede. Hieroor het ons diepe berou. Ons vra sonder voorbehoud om verskoning aan die gemeenskappe en individue wat uitgesluit was van die historiese voorregte wat die US geniet het en ons huldig die destydse kritiese Matie-stemme wat nie tot swye gebring kon word nie.

Die tweede dag van die Konferensie en Beraad het begin met ʼn vurige toespraak van Madonsela. Sy het die sakesektor vir ʼn gebrek aan aanspreeklikheid gestriem, maar ook versigtige erkenning aan die US se Restitusiestelling gegee: “Die US kon aandadig gewees het – en ek verdedig hulle nie hier nie, ek moet as ʼn werknemer ʼn konflik van belange erken as ek dit sê – maar dit is een van die min instellings wat sy deelname aan die ongeregtigheid van die verlede erken."

Terwyl die geleentheid ʼn sielskroeiende en dikwels pynlike verkenning van ongelykheid en diskriminasie was, was dit ook ʼn viering van individuele en institusionele pogings om van die wêreld ʼn beter plek vir almal te maak.

Die voormalige uitvoerende hoof van Community Chest, Lorenzo Davids, is as 2022 se Maatskaplike Geregtigheidskampvegter aangewys. Hy het in sy aanvaardingstoespraak gesê: “Hierdie is die land van ons drome. Hierdie is die land waarin ons wil gedy. My wens is dat wanneer ons oud is, ons kleinkinders na ons toe sal kom en sal sê: 'Dankie dat julle die wonderlikste land op aarde help bou het'."

As deel van die aandprogram is die US se Sentrum vir Maatskaplike Geregtigheid bekend gestel – ʼn bewys van die Universiteit se verbintenis tot die uitbreiding van die stappe wat gedoen is toe Madonsela in 2016 as die bekleër van die Regstrust-leerstoel in Maatskaplike Geregtigheid aangestel is. Die volgende oggend het die Programdirekteur, Cathy Mohlahlana. Madonsela onder luide toejuiging as “Direkteur eerder as Leerstoelbekleër" bekend gestel.

Tydens die bekendstelling van die Sentrum vir Maatskaplike Geregtigheid het prof Nicola Smith, Dekaan van die US se Regsfakulteit, gesê hierdie inisiatief toon die Universiteit se verbintenis tot die mobilisasie van gemeenskaps-, korporatiewe en internasionale ondersteuningshulpbronne ten bate van die versnelde vermindering van armoede en ongelykheid.  

Aan die einde van die 2022- Maatskaplike Geregtigheidskonferensie en -beraad is elke deelnemer daar weg met ʼn beter begrip van hoe die verlede aanhou om in die hede te weerklink, ʼn dieper waardering van die werk wat gedoen is en nog gedoen moet word, bemoediging dat hierdie werk nie alleen gedoen hoef te word nie, asook inspirasie om ʼn beter toekoms vir hierdie planeet en sy mense te bewerkstellig.