Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studente van Ingenieurswese, Natuurwetenskappe, AgriWetenskappe, en Gesondheids-wetenskappe skitter by US se FameLab-uitdunronde
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 18/10/2022

Taskeen Ebrahim, 'n doktorale student in elektroniese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US), is as wenner van die US-uitdunrondte van die 2023* nasionale FameLab- kompetisiesiklus aangewys.

Die geleentheid is Donderdag (13 Oktober 2022) gehou. Kaylan Reddy**, 'n PhD-student in plantkunde, en Ayesha Shaikh, 'n PhD-student in plantpatologie, het onderskeidelik tweede en derde geëindig. Die gehoor kon vanjaar vir die eerste keer ook hulle gunsteling aanwys, en dié eer het gegaan aan Siphosethu Zantsi, 'n meestersgraadstudent in fisioterapie.

FameLab, wat as een van die grootste wetenskapkommunikasie- en redenaarskompetisies in die wêreld beskou word, skep vir jong ontluikende wetenskaplikes 'n platform om openbare gehore oor hulle werk toe te spreek.

Ebrahim, Reddy, Shaikh en Zantsi was deel van 'n groep van 18 meesters- en doktorale studente wat elkeen net drie minute gegun is om hul navorsing aan die gehoor te verduidelik. Ebrahim sal as wenner van hierdie rondte Maties aanstaande jaar by die nasionale eindstryd verteenwoordig. Hier sy sal sy kragte meet met die wenners van die uitdunne by ander Suid-Afrikaanse universiteite.

Die US se Famelab-uitdunrondte is deur Jive Media Africa en die Nagraadse Kantoor, wat deel uitmaak van die Afdeling vir Navorsingsontwikkeling, gereël. Die beoordelaars was Maryke Hunter-Husselmann (Afdeling vir Navorsingsontwikkeling), Anne Reif (Instituut vir Kommunikasiewetenskap aan die Tegniese Universiteit Braunschweig in Duitsland), Nonsikelelo (Ntsiki) Sackey (Siakhula Digital) en Fumani Mabogoane (Suid-Afrikaanse Leerstoel in Wetenskapkommunikasie).

Ebrahim het die rondte gewen met 'n toespraak oor kontakpuntbehandeling vir pankreaskanker. Sy is besig om 'n toestel ('n klein, swart boksie) te ontwikkel wat die vroeë opsporing van hierdie tipe kanker moontlik sal maak. Die toestel sal goedkoper en ook meer tyddoeltreffend wees. Dit kan bloedtoetse vergemaklik en die wagtydperk vir mense verkort om te hoor wat die uitslae van hierdie toetse is.

Sy het in reaksie op haar oorwinning gesê sy is baie dankbaar vir die geleentheid om haar wetenskapkommunikasievaardighede te ontwikkel en dat sy opgewonde is om een van die studente te kan wees wat verder gaan in die kompetisie, want sodoende sal sy meer kan leer. 

“Wetenskapkommunikasie is belangrik in my navorsing, want ek werk aan 'n baie multidissiplinêre projek. Nuwe insigte en perspektiewe van hierdie verskillende vakgebiede kan net deur goeie kommunikasie doeltreffend bekom en aangewend word. Ek dink dit is ook waardevol om vir mense te wys daar is geleenthede daar buite wat jou in staat stel om doelgerigte werk te doen wat moontlik baie mense kan help. Wetenskapkommunikasie moedig jou ook aan om jou navorsing te organiseer en die belangrikste daaruit te haal, en om dit met wetenskaplike en nie-wetenskaplike gehorte te deel wat kan help om gemeenskappe te bou terwyl die kennis versprei word."

Reddy het in sy toespraak verduidelik hoe die chemiese stowwe wat in inheemse medisinale plante soos Sceletium – ook bekend as 'kanna' en 'kougoed' – gevind word, gebruik kan word om middels te ontwikkel wat kan help om mense se geestesgesondheid te verbeter. Volgens hom het die inboorlinge in Suid-Afrika medisinale plante gebruik om hul gemoedstoestand te verbeter en hul gevoel van blydskap aan te wakker.

Reddy het gesê dit is 'n voorreg om onder die wenners te wees. “As 'n wetenskaplike glo ek dit is my plig om wetenskap met die publiek te deel. Om te wen beteken ek kry die geleentheid om my vaardighede in wetenskapkommunikasie verder te ontwikkel en uiteindelik as 'n storieverteller te groei wat hopelik wetenskap kan demistifiseer en ander kan inspireer.

“Wetenskapkommunikasie oor tradisionele geneeskunde en geestesgesondheid is ongelooflik belangrik om nóg 'n pandemie wat ons in die gesig staar – die geestesgesondheidpandemie – te beveg. Ek hoop om deur my navorsing die onontginde potensiaal van inheemse kennis en tradisionele medisyne oor te dra wat die gehalte van miljoene mense se lewens wêreldwyd kan verbeter."

Shaikh het in haar aanbieding die gehoor ingelig oor hoe haar navorsing daarop gemik is om plaaslike mielievariëteite meer weerstandig te maak teen fungi wat mielies besmet, oesgroottes verminder en wat skadelik is vir diere en mense. Volgens Shaikh kan haar navorsing ook help om voedselsekerheid te bevorder en boere in staat te stel om hierdie patogene op 'n omgewingsvriendelike manier te beheer. 

Sy het gesê sy was verheug om onder die top drie te eindig en haar deelname aan die kompetisie het haar die selfvertroue gegee om haar werk met ander te deel.

“Wetenskapkommunikasie is 'n manier om verhoudings te bou wat die weg kan baan vir medewerking en innoverende idees – albei noodsaaklike elemente in wetenskap en navorsing. Sonder wetenskapkommunikasie loop ons die gevaar dat ons navorsing iewers in 'n boek op 'n rak in 'n argief net gaan stof vergader sonder om ooit 'n betekenisvolle invloed te hê."

Zantsi het aan die gehoor vertel hoe sy met haar navorsing aan kinders wat hul onderste ledemate verloor het, toegang tot prostetiese toerusting wil gee. Haar studie beklemtoon die invloed van prostetiese ledemate op kinders wat nie noodwendig as geskikte kandidate vir prostetiese intervensie beskou word nie.

Zantsi het gesê dit is 'n eer om as een van die wenners aangewys te word. Dit het haar vertroue en geesdrif 'n hupstoot gegee om haar navorsing nog meer met ander te deel.

“Deur my navorsing uit te dra, hoop ek om op te voed oor, te veg vir en waarde toe te voeg tot die bevordering van die vakgebied van prostesis en rehabilitasie, veral vir kinders. Dit is belangrik omdat dit nie net die kinders individueel in staat sal stel om soos hulle eweknieë te funksioneer nie, maar dit kan ook hul toekomspad verander omdat dit vir hulle vooruitsigte bied van werk en 'n bydrae tot die samelewing te maak."

Die wenner van die Suid-Afrikaanse eindstryd sal die land by die internasionale FameLab-kompetisie in die Verenigde Koninkryk verteenwoordig.

*Aangesien die Famelab-siklus tipies in die vorige jaar begin en dan na die volgende jaar oorvloei, is daar ʼn oorvleueling tussen die 2022- en 2023-Famlab-siklusse.

**Kaylan Reddy het ook in die 2021-US-uitdunrondte tweede geëindig (vorige deelnemers mag weer inskryf, solank hulle aan die FameLab-vereistes voldoen dat hulle tans 'n nagraadse student in die STEM-vakgebiede is en jonger as 35 jaar is).

  • ​Foto: Siphosethu Zantsi, Kaylan Reddy, Taskeen Ebrahim en Ayesha Shaikh by die FameLab-uitdunrondte. Fotograaf: Ignus Dreyer